Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts tensy anders vermeld
“Ons is baie tevrede met die gehalte van vanjaar se Woordfees. Kaartjieverkope was amper 100% beter as in 2022, maar het nog nie herstel tot die syfers van voor die pandemie nie. Daar is 40% meer boeke en ook 40% meer kuns verkoop as verlede jaar,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees.
- Caroline van Schalkwyk van die Cap Classique-vereniging en wynmaker Jeff Grier van Villiera Wines, het feesgangers meer oor Suid-Afrikaanse Cap Classique vertel, wat al vir meer as 50 jaar op die tradisionele manier in die sjampanje-styl gemaak word.
- By die wynproe en gesprek met die drie vroue-wynmakers agter Kleine Zalze se veelbekroonde wyne, het feesgangers die geleentheid gehad om die diverse aspekte van die landgoed te ontdek. Lizemari Geldenhuys, Nataleé Botha en Hanri Ferreira het van hul gesogste wyne geskink waaronder Chenin blanc, Cap Classique-vonkelwyne en Cabernet Sauvignon. Daar was lekker stories van elkeen van die drie wynmakers, wat elk hul eie bekoring na die druif bring.
“Opmerklik was temas oor geestesgesondheid, patologie en gender, wat by ’n aantal produksies ontgin is.”
Met die benoemings vir vanjaar se Woordtrofees-toekennings pas bekend gemaak, is daar weer rede om oor te borrel. Die wenners, wat elkeen ’n oorkonde en ’n bedrag geld sal ontvang, word op 13 November by ’n toekenningsgeleentheid by die Oude Libertas-amfiteater in Stellenbosch aangekondig.
Volgens Gillian Mitchell, die sameroeper van die Woordtrofees-beoordelaarspaneel, was veral die verskeidenheid binne genres vanjaar merkwaardig. “Daar was werklik iets vir almal. Die gehalte van eenpersoonstukke het beïndruk, en in die sterk Kinderteater-kategorie is ’n aantal aanbiedings ook terdeë deur volwassenes geniet. Musiek is goed ondersteun, en opwindende jong talent was in die feesprogramme vir Kontemporêre (Toyota Musiekfees) en Klassieke Musiek te sien.”
- Hier is foto’s van Karoo Kitaar Blues deur John Hogg.
- Uitstallings in die US Museum het onder meer werke van die feeskunstenaar, Wilma Cruise, foto’s van Karoo Kitaar Blues deur John Hogg en Bitterkomix se kunstenaars, Conrad Botes en Anton Kannemeyer ingesluit. Hier is van Wilma se kunswerke.
Benewens die topboekverkopers by die EasyEquities Skrywersfees in vier verskillende genres (fiksie, poësie, niefiksie en leefstyl) sal ’n aantal spesiale pryse toegeken word. Daaronder tel die toekennings vir WOW-skool van die Jaar en WOW-onderwyser van die Jaar. Vir hierdie Woordtrofees-kategorieë is daar egter geen kortlyste nie.
- Darrel Bristow-Bovey was in gesprek met Marita van der Vyver oor sy nuutste boek, “Finding Endurance – Shackleton, My Father and a World Without End” as deel van die EasyEquities Skrywersfees.
- Ek het die voorreg gehad om die gesprek met Chris Botes, alias “die ou gryse”, wederhelf van die bekende skrywer, Annelie Botes, te lei. Dit het oor haar jongste boek, “Katvis”, en oor die moeilike emosionele jaar wat hulle agter die rug het, gehandel.
Die benoemings, gelys in alfabetiese volgorde, is:
Beste prestasie: Klassieke musiek – Vokaal
As ek…
Songs of Shakespeare
Universiteitskoor Stellenbosch
Van Mozart tot Verdi: Operahoogtepunte

“Clara” bring hulde aan die komponis-pianis Clara Schumann en is deur Riana Scheepers geskryf, waarin die pianis Nina Schumann en die aktrise Carla Smith die storie met musiek en storievertelling lewe kry. Hier is Carla Smith in aksie.
Beste prestasie: Klassieke musiek – Instrumentaal
Between Friends
Johann Sebastian Bach: The Flute Sonatas
Rachmaninoff’s 150th Birthday Piano Bash
Trio du Cap Classique
Variations on Virtuosity
Beste prestasie: Kontemporêre musiekproduksie – Solo/duo
Amber/Ombré (Amanda Strydom)
Busrit in die aand (Tarryn Lamb, Frank Freeman)
Hoe ons voel (Amanda Strydom)
Vincent: His Quest to Love and Be Loved (Daniel Anderson, Germaine Gamiet)

In “Vincent: His Quest to Love and Be Loved” word die tragiese en kort lewe van Vincent van Gogh met die gevatte vertellinge, mooiste sang en voordrag deur Daniel Anderson illustreer. Germainne Gamiet begelei Daniel op die klavier. Daniel is benoem vir beste prestasie: kontemporêre musiekproduksie – solo.
Beste prestasie: Kontemporêre musiekproduksie – Groep/ensemble
Classical Calabash
Effervescence: Xamisa, iKapa, Kaapstad
Kaapse Djezz: Ghoema and Beyond
Woordmusiek

Nico Scheepers se nuutste toneelstuk, “Seemuur”, wat hy vertaal en regisseer het, het Conradie van Heerden in die rol van Alex. Die stuk is deur Simon Stephens geskryf.
Beste prestasie: Dans
Karatara – Produksie
Shaun Oelf – Uitvoering (Karatara)
Ultra – Ensemble: Bronwyn Craddock, Nicolas Laubser, Jan Kotze
Beste opkomende kunstenaar
Asiphe Mangqwengqwe – 50 Years of Jazzart (Dans)
Caleb Swanepoel – A Midsummer Night’s Dream (Toneel)
Koor – Magnet Theatre-opleidingsprogram: Oedipus at Colonus #aftersophocles (Toneel)
David Cyster – Beethoven Triple Concerto (Klassieke musiek)
Melisizwe Plaatjie – Effervescence: Xamisa, iKapa, Kaapstad (Kontemporêre musiek)
- A Midsummer Night’s Dream spog met die meeste benoemings: Caleb Swanepoel is benoem vir beste opkomende kunstenaar (toneel) in die middel van die foto.
- Jazzart-dansteater – Suid-Afrika se oudste kontemporêre dansopleiding en -uitvoerende geselskap – vier vanjaar hul 50ste verjaardag. Asiphe Mangqwengqwe is benoem as beste opkomende kunstenaar (dans). Foto Pierre Rommelaere. (Foto: Pierre Rommelaere)
Beste prestasie: Toneel Tegnies
Die vegetariër – Stel, beligting, ontwerp
Droomkraan-kronieke – Stel en beligting
Hold Still – Stel
Tuis, ek’s liefie – Stel
- “Tuis, ek’s liefie” met Cintaine Schutte, Wessel Pretorius, Chrystal-Donna Roberts, Carlo Daniels, Amanda Strydom en Veronique Jephtas, waarin ’n vrou verkies om in die vyftigs te leef, is benoem vir beste prestasie: tegnies vir stel. Bo is Cintaine en Amanda.
- In “Tuis, ek’s liefie” speel Cintaine Schutte en Wessel Pretorius die paartjie wat in die vyftigs wil leef.
Beste prestasie: Fringe
Anglo Angst
Byster
Tsekmate
Beste prestasie: Kinderteater
Braam en die engel
Die dag toe Guppie sweef
The King of Broken Things
Beste byspeler (manlik)
Eben Genis – Mirakel
Johann Nel – Droomwerk
José Dias – Master Class
Stian Bam – Die vegetariër

“Die vegetariër” is vir verskeie toekennings benoem: beste toneelstuk; vir beste prestasie: tegnies vir stel, beligting en ontwerp; Stian Bam vir beste byspeler (manlik) en Melissa Myburgh beste speler (vroulik), albei in die foto bo. Tinarie van Wyk Loots is ook benoem as beste speler (vroulik) in die produksie en Jaco Bouwer vir regie. (Foto: Nardus Engelbrecht)
Beste byspeler (vroulik)
Antoinette Kellermann – Goed wat wag om te gebeur
Emma Kotze – Goed wat wag om te gebeur
Faniswa Yisa – Oedipus at Colonus #aftersophocles
Jill Levenberg – Droomwerk

“Goed wat wag om te gebeur”, die Afrikaanse weergawe van Philip Rademeyer se The Graveyard, het Gideon Lombard, Antoinette Kellerman en Emma Kotze in die rolverdeling. Dis vir verskeie toekennings genomineer, waaronder beste byspeler vroulik (Antoinette en Emma) en beste byspeler manlik (Gideon).
Beste speler (manlik)
Andrew Buckland – Oedipus at Colonus #aftersophocles
Dawid Minnaar – Mirakel
Gideon Lombard – Goed wat wag om te gebeur
Mark Elderkin – A Midsummer Night’s Dream

Mark Elderkin in A Midsummer Night’s Dream is benoem vir beste speler (manlik) heel links op die foto.
Beste speler (vroulik)
Lee-Ann van Rooi – The Woman Who Fed the Dogs
Melissa Myburgh – Die vegetariër
Sandra Prinsloo – Master Class
Shimmy Isaacs – Gin my die genade
Tinarie van Wyk Loots – Die vegetariër

Daar was soveel om mee te identifiseer in die fringe-produksie, “Trou Koek/Tert” met Margo Kotze en Elmé Oosthuizen. Dis oor drome en troues en liefde en ai, as jy op die vooraand van jou troudag kouevoete kry.
Beste prestasie: Solo
Antoinette Kellermann – Teen wil en dank
Dean John Smith – Hallo, dis Bettie wat praat
Elzabé Zietsman – Routrip
Kim Blanche Adonis – My Fellow South Africans

“Monsters”, die toneelstuk deur Niklas Rådström wat op ware gebeure gegrond is, wentel om die ondervarging van twee tienjarige seuns ná die wrede mishandeling en moord van ’n tweejarige seuntjie, James Bulger. In die rolverdeling is Michele Burgers, Elton Landrew (foto bo), Ntlanhla Kutu en René Cloete, wat om die beurt die rolle van die speurder, James se ma en die ouers van die twee tienjariges speel.
Beste ensemble
Braam en die engel – Geselskap
Droomkraan-kronieke – Geselskap
A Midsummer Night’s Dream – Geselskap
Oedipus at Colonus #aftersophocles – Koor
Beste regie
Geoffrey Hyland – A Midsummer Night’s Dream
Jaco Bouwer – Die vegetariër
Nico Scheepers – Braam en die engel
- Die kaalgestroopte seuntjiepop, Braam, met allerhande monsteragtige maskers, verslete doeke wat in die warm, sanderige wind waai waar Braam woon en ’n gevalle engel wat sy vlerke verloor om Braam op aarde te help. Die stuk is benoem vir beste prestasie: kinderteater; beste ensemble; beste regie (Nico Scheepers); en beste toneelstuk.
- Joanie Combrinck en De Klerk Oelofse in “Braam en die engel”.
Beste toneelstuk
A Midsummer Night’s Dream
Braam en die engel
Die vegetariër
Master Class

Soveel goeie vertonings, soveel benoemings. Die wenners word op 13 November by ’n toekenningsgeleentheid by die Oude Libertas-amfiteater in Stellenbosch aangekondig.
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae met Cintaine Schutte oor die nuwe dramareeks, ‘Straat’