Instructions
1 Sit die sponskoek op ’n dienbord en smeer met die bloubessiemousse. Pak ’n laag vars bloubessies op die mousse.
2 Gebruik die res van die bloubessiemousse as “gom” om die sponsvingers rondom die sponskoek vas te plak.
3 Skep die chantilly-room in ’n spuitsak met ’n stertuit en spuit die room op die bokant van die koek.
Sponsvingers
Voorverhit die oond tot 200 °C. Voer 2 bakplate deeglik met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kossproei.
1 Klits die eiergele en 100 g (1/2 k) van die suiker vir sowat 6-8 min. in ’n groot glas- of metaalbak oor ’n kastrol met warm water tot die mengsel lig en dik is.
2 Klits die eierwitte in ’n aparte mengbak tot stywe punte. Voeg die oorblywende suiker bietjie vir bietjie by. Dit is baie belangrik dat die eierwitte lekker styf geklop moet wees, anders is die mengsel te loperig en is die resultaat ’n plat koekie.
3 Voeg sowat ’n 1/3 van die geklopte eierwitte en die meel by die eiergeelmengsel. Vou die res van die eierwitte liggies in.
4 Spuit “vingers” van 10 cm met ’n spuitsak met ’n 1 cm-tuit op die voorbereide bakplaat. Laat genoeg plek tussen die deegrepe - die koekies rys heelwat.
5 Bak vir 6-8 min. tot ligbruin. Verwyder uit die oond, laat effens afkoel en strooi versiersuiker oor. Bêre in ’n lugdigte houer.
Basiese vrugtemousse
1 Gooi die water by die gelatien en hou eenkant. Klits die room tot dit begin styf raak en hou in die yskas.
2 Klits die eierwitte tot sagte punte begin vorm en voeg die strooisuiker bietjie vir bietjie by. Klits tot blink, glad en styf.
3 Sny die vrugte effens kleiner en verwerk in ’n voedselverwerker tot ’n gladde puree.
4 Vou eers die vrugtepuree by die room in en dan die eierwitte.
5 Voeg die suurlemoensap by en vou versigtig in.
6 Smelt die gelatien vir ’n paar sekondes in die mikrogolf se ontvriesstelling of oor warm water. Dit mag nie kook nie, maar maak seker dat dit heeltemal gesmelt is. Hou die gelatien hoog bokant die bak en gooi dit in ’n dun straaljie by die mousse, meng deurentyd. Wees versigtig om nie die mengsel te oorwerk nie.
Chantilly-room
1 Klits die room tot dit net begin styf raak en voeg die suiker en voedselkleursel (indien jy dit gebruik) by.
2 Klits vir nog 1 min. tot die room weer begin verdik. As jy die room deur ’n spuitsak gaan spuit, moet jy dit nie té styf klits nie omdat die drukking van die spuitsak dieselfde effek as klits het. Dit kan die room laat skif.