Met die seer nog daar en hope pille wat mense sal laat wonder, besef ek meteens hoe bevoorreg ek is die laaste ruk. Boodskappe, drukkies, geskenke en hope geduld van my kêrel … al die liefde en omgee die laaste paar weke sal ek vir niks in die wêreld verruil nie, al wil ek dit nooit weer oorhê nie. Nooit! Soos Taylor Swift sing: “We are never ever EVER getting back together!” Vandag skryf ek hoekom ek vir almal wil tande wys, fashion gap of nie.
1. Ek lewe! Ek kon so maklik myself in groot moeilikheid laat beland het as die chirurg nie betyds my akute blindederm uitgehaal het nie. As jy hierdie blog lees, sê dankie dat jy ook nog ’n dag gespaar is. Elke dag.
2. My kêrel is nou maar net eenmaal cooler as joune! Dat ’n man nou so kan skottelgoed was, kook, bederfies aandra, en dit sonder om EEN KEER te kla. As ek nie voorheen aan ’n ring gedink het nie, is dit nou! Kyk, Annette de Wet sal darem ’n mooi handtekening maak.
3. Ons tee-klub by die werk. Ons maak elke oggend tee in ons fraai blom-teepot. Van perske tot granaat tot groentee (wat ’n minder gunsteling is). Partykeer bly daar koek oor van die vorige dag en vanoggend se wortelkoek as ontbyt was omtrent Kokkedoor-gehalte. Om saam met kollegas, wat soos vriendinne voel, te kekkel oor die ditjies en datjies in ons lewens is so kosbaar dat geen geld dit kan koop nie. Veral as ons stories begin uitruil oor ons skoonma’s … maar kom ons stop dit net hier.
4. My warm, warm bed met die warm, warm duvet! Geen wonder ons is so lief vir slaap nie. Om van die koue te ontsnap met ’n lekkerlees boek in jou eie bed onder jou eie dak is een groot voorreg wat soveel mense nooit sal ervaar nie. Ons kla omdat ons nie die R1 000 handsak kan bekostig of meer gereeld kan uiteet nie. Wat van die persoon wat elke dag 100 km met ’n taxi werk toe ry en R2 000 ’n maand verdien om vir sy hele familie te sorg? Wanneer ons eendag daardie begrip verstaan, sal die wêreld verander. Na ek Lien se Lankstaanskoene gekyk het waar arme Lien moes bedel vir kosgeld, want moeder is ’n alkoholis, het my oë oopgegaan. Ons gee hierdie naweek ons name op as vrywilligers by die SPCA. Raak betrokke! Die gevoel van gee is die beste een daar buite!
5. rooi rose. Die dames op kantoor is 100% sinvol, stylvol en propvol humor! Ek is nog die rosie onder die rose, maar is met soveel liefde ontvang wat ek so baie waardeer. Ons lag saam en ons eet koek saam. Om jou droomwerk te doen op 23 is ’n droom. Kleintyd het ek al begin stories skryf en vir almal vertel ek gaan eendag by ’n tydskrif werk soos rooi rose. Ek ontmoet mense, word uitgenooi na fantastiese funksies en voel soos ’n opregte dame. Elke dag. Ja, agter-die-skerms werk ons hard en gee soms ’n suggerige sug, maar o aarde, om jou werk so te geniet met ’n span vol vriendinne, maak die 5AM wekker die moeite werd. Meeste van die tyd.
6. O ja, my ma – laat ons net nie van haar vergeet nie, want sy lees my blog en is heeltemal te spesiaal om af te skeep.