Genoeg vir 6
Wraps
• 100 g amandelmeel
• 110 g goue vlassaad, fyngemaal
• 30 g klappermeel
• 15 ml (1 e) psylliumvesel
• 30 ml (2 e) chia-saad, fyngemaal
• 20 ml (4 t) garam masala
• 10 ml (2 t) sout
• gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
• 250 ml (1 k) louwarm water
• 15 ml (1 e) olyfolie
1 Meng die amandelmeel, vlassaad, klappermeel, psylliumvesel, chia-saad, garam masala, sout en suurlemoenskil in ’n mengbak.
2 Knie die suurlemoensap en water by tot goed gemeng. Draai die deeg in kleefplastiek toe en laat vir 1 uur in die yskas rus.
3 Verdeel die deeg in 6 stukke.
4 Rol elke deel tussen 2 lae bakpapier in ’n 20 cm-sirkel uit.
5 Verhit die olyfolie in ’n pan oor matige hitte.
6 Braai die wraps daarin vir 1-2 min. aan elke kant, of tot lig goudkleurig. Moenie te lank braai nie, anders word dit krakerig.
Bykomstighede
Murgpampoentjie-falafels
1 Rasper 450 g murgpampoentjies fyn, sit in ’n vergiettes, strooi ’n bietjie sout oor en laat staan vir sowat 1 uur dat dit dreineer.
2 Druk die oorblywende vloeistof in die pampoentjies met jou hand uit.
3 Meng die murgpampoentjies met 1 eier, 10 ml (2 t) gekapte knoffel, 5 ml (1 t) gekapte rooi brandrissie, ’n hand vol fyngekapte kruisement, ’n hand vol fyngekapte pietersielie, 55 g amandelmeel, 30 ml (2 e) klappermeel, 80 g gekrummelde fetakaas en 5 ml (1 t) fyngemaalde komyn.
4 Geur met sout en swartpeper.
5 Verhit 45 ml (3 e) olyfolie in ’n pan.
6 Vorm die mengsel in klein koekies en braai vir 5 min. aan elke kant, of tot goudkleurig.
Blomkool-hoemoes
1 Voorverhit die oond tot 200 °C. Sit 1 groot blomkool, in blommetjies gesny, op ’n bakplaat en sprinkel 30 ml (2 e) olyfolie oor.
2 Bedek met foelie en bak vir 10-12 min.
3 Haal die foelie af en bak vir nog 10 min. tot goudkleurig.
4 Verwerk die blomkool saam met 30 ml (2 e) tahini, 15 ml (1 e) suurlemoensap, 5 ml (1 t) heuning, 10 ml (2 t) gekapte knoffel, 5 ml (1 t) liggies geroosterde komyn en 60 ml (1/4 k) olyfolie in ’n voedselverwerker tot glad.
5 Geur met sout en swartpeper.
Geroosterde hoender
1 Voorverhit die oond tot 200 °C.
2 Sit 1 groot hoender van sowat 1,2 kg in ’n oondpan.
3 Geur die hoender in die maagholte en buitekant met sout en swartpeper.
4 Vul die holte met 4 vars lourierblare, 3 roosmaryntakkies, ’n bossie tiemie, ’n kwart suurlemoen en ’n kwart lemoen.
5 Smeer die hoender met 30 ml (2 e) olyfolie en rooster vir ’n uur en ’n kwart of tot gaar.
Krakerige wortel-beet-en-kool-slaai
1 Sny 2 wortels, 1 klein komkommer, 2 bete, 1 klein perskool en 1 klein groenkool met ’n mandoliensnyer in dun repies (julienne).
2 Gooi ’n hand vol kruisement en ’n hand vol vars, grof gekapte koljander by.
3 Meng 60 ml (¼ k) appelasyn, 60 ml (¼ k) olyfolie, 15 ml (1 e) heuning en 2,5 ml (½ t) fyngemaalde komyn en geur met sout.
4 Gooi oor die groente en meng deur.