Ons ken haar as die sprankelende radiopersoonlikheid, maar in ’n eerlike gesprek met Rian van Heerden in sy geselsprogram Laataand by Rian, het Amore Bekker haar brose kant gewys.
Amore, wat in Februarie 2025 sestig jaar oud word, het haar radioloopbaan in 1989 by Radio Algoa begin en haar laaste program op RSG is einde April 2023 uitgesaai. Sy het aan Rian gesê daar was geen logika agter haar besluit om by RSG te bedank nie, maar sy is nie spyt oor die skuif nie. “Jy moet gaan terwyl mense jou nog wil hê.”
Rian het haar gepols oor die feit dat hy dink sy nie altyd haar ware self vir luisteraars gewys het nie, en sy het toegegee sy kon nie altyd haar volksvreemde idees met mense deel nie, maar sy glo sy was haarself.
“Mans [op radio] kan met moord wegkom,” het sy gesê en erken dat sy soms woorde in mense se monde gelê het om ’n gesprek aan die gang te kry. Sy sê egter daar is tog onderwerpe waaroor Suid-Afrikaners steeds nie openlik kan praat nie – onderwerpe soos depressie, en indien jy op medikasie is, word dit gesien as ’n teken dat jy nie sterk genoeg is nie. “Vir my is dit nonsens.”
Rian het gespot en haar ’n “runaway bride” genoem. “ ’n Vrou moet maar trou voor sy haar verstand kry,” het Amore gesê en erken dat haar vryheid vir haar nog altyd belangrik was. “Daarmee sê ek nie ek slaap elke aand koud nie,” het sy met ’n glimlag bygevoeg.
Op die vooraand van haar sestigste verjaardag, wil sy stil word. “Ek wil met daardie reis na binne begin.”
Rian se geheime gas het haar duidelik onkant betrap, want vroeër in die gesprek het sy gesê Afrikaanse musiek is óf bokkie-sokkie-rokkie óf ’n gewroeg. Die gas, Gerhard Steyn, het haar egter beïndruk met sy diepte en vertellings van sy eie pad wat hy geloop het. “My opinie oor hom het beslis verander,” het sy gesê.
Is haar radiodae vir altyd verby?
“Mens weet nooit wat oor jou pad gaan kom nie,” het Amore geantwoord. “Jy moet jouself oophou vir dinge.”
Rian se volgende gas is die voormalige gyselaar Gerco van Deventer.
Laataand by Rian is elke Dinsdagaand om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die episodes is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Siya en Rachel Kolisi kondig die einde van hul huwelik aan