Om te laat gaan, is deel van menswees en groei. Dis ’n lewenslange reis, sonder bestemming.
’n Reis na die kern van jou eie menswees, jou weerloosheid maar ook jou innerlike krag. Dis ’n reis waarin jy vry word om jouself te wees. Dis om die sikliese aard en seisoene van die lewe, selfs die dood, as deel van die lewe te aanvaar. In dié reis moet jy laat gaan wat gesterf het, of besig is om te sterf, of dit nou mense, verhoudings, gedagtes of gewoontes is. Dis die tyd om ook jou emosionele kaste skoon te maak, weg te gooi en reg te pak. Om afskeid te neem sodat jy nuut kan begin. Baie mense het ou gewoontekettings wat hul bind: Jy verdoof jou pyn deur ure voor die TV te lê, te veel te drink, te rook, te eet of om almal om jou te kritiseer. Dis dikwels volwassenes se manier van huil oor verborge pyn. Om te laat gaan, is nie net vrymakend nie, maar ook skeppend. Dit skep vir jou ’n nuwe verhouding met jouself en met dit waaraan jy so vasklou.
Ons glo dikwels ons hou uit liefde vas: Jy kan nie sonder die man lewe nie. Jou vriendin het jou so nodig, sy het niemand nie, al misbruik sy jou. Jy beskerm jou kind. Jy help hom net weer op die been – al is hy al 34. En ons wil nie glo dat die probleem wat ons met vashou probeer hanteer, eintlik deur die vashou vererger word nie. Dis soos die meisietjie wat skielik voel die spartelende voël in haar hande word stil. Haar desperate vasgryp en liefde het hom doodgemaak.
Esti* vertel hoe obsessief sy daaroor was om ’n baba te kry.
“Dit het alles in my lewe oorheers. Dit was sleg vir my huwelik, hoewel Jaco verstaan het en ook graag kinders wou hê. Hy het gevoel dis vir my belangriker as hy, en dat ons intieme lewe net daaroor gaan. Dit was ’n lang en opdraande pad om vrede te maak daarmee dat ek nie gaan kinders hê nie, en weer ons intieme lewe te geniet. En toe die wonder: Toe ek dit laat gaan en ophou worstel, toe raak ek swanger.” Die ironiese paradoks wat met Esti gebeur het, gebeur op talle gebiede van die lewe. As jy laat gaan, kry jy dikwels dit wat jy begeer. Jy soek desperaat na nuwe werk, jy wil uit en weg waar jy is.
En as jy ophou soek, kry jy dikwels wat jy soek. Soms is die geluk nie elders nie, maar groei dit onder jou voete. Die meeste mense word iewers in hul lewe vasgevang in ou patrone, gedagtes, pynlike herinneringe uit ou verhoudings of traumas. Ons sukkel om die bagasie neer te sit, van die hartseer, onreg en pyn te vergeet en te vergewe. Ons hou situasies of mense verantwoordelik vir die ongelukkigheid, die gevoelens van leegheid en sinloosheid. Dit maak ons afhanklik van ander vir ons geluk en menswees. Dan verstaan ons nie waarom ons telkens in sulke verhoudings of situasies beland nie. As ons verontreg, kwaad, bitter of in pyn is, trek ons mense aan wat ook het wat ons het, en vir ons meer gee van wat ons reeds het. Om die oue te laat gaan, waarborg verandering.
Isabelle* en haar gesin het ná haar man se verplasing stad toe verhuis.
“Ek het op Potgietersrus ’n identiteit gehad. Ek was goed in wat ek doen en nie deur enigiets of iemand geïntimideer nie. “Maar wie is ek na die bietjie wat ek kon inpak? Voor die trek was dit nie so erg nie, want ek was te besig om in te pak. Maar ná die trek slaat al die verliese my toe.
“Jy bepaal wie jy is, wat jy verloor en wat jy moet laat gaan. Jy verloor omstandighede, lewensgehalte, verhoudings. Ek moes besef wie ék is as ek dit nie meer het nie. Ek moes realisties raak oor wat ek los. Dis so maklik om net die mooi, die lemoenbloeisels en goeie tye te onthou. En dat daar tog goed is wat jy daar wil los ook. “Ek het besef ek kan nie my hart skuif as ek nie nuwe dinge en nuwe verhoudings hier het nie. Ek moet nou hier ’n nuwe lewe bou en sin vind en skep in my nuwe omstandighede.
“Die tussentyd voor jy iets nuuts het, is moeilik. Maar dit leer jou hoeveel vasbyt en deurdruk jy het en hoe belangrik dit is om nie vasgevang te wees in wat jy verloor en mis nie, maar om dankbaar te wees en erkenning te gee aan wat jy steeds het. Dis deel van die prentjie. Dis belangrik om te gaan waar dit seer is en dit nie te vermy nie. Dis so maklik om net in oorlewingsmodus te gaan en te sê jy is orraait. Maar dan gee jy nie jou kinders of jou man toestemming om maar swaar te kry nie. En dan dra almal eintlik hul seer alleen. Maar omdat ons saam die besluit geneem het en nou praat hieroor, dra ons dit saam.”
Wat beteken dit om te laat gaan?
Dis om die verlede te laat gaan, om die gisters te aanvaar en van die ou lewe weg te stap en ’n nuwe begin te maak.
Jy moet die vrees afskud dat dit jou skuld is en dat jy nie goed genoeg is om dit te laat werk nie. Jy moet vrede kry met wie jy is. Jy hoef nie perfek, of soos ander te wees nie. Jy is ook nie jou verlede nie, maar jy moet realisties wees oor wat jy kan doen en verander, en wat nie. Jy moet jouself toestemming gee om net jou verantwoordelikheid te dra en ander se lewe hul verantwoordelikheid te maak. Dan kan jy jou grense stel en “nee” sê. Dit beteken nie noodwendig jy laat ander wegkom en maak hulle vry van wat hulle gedoen het nie. Maar dit beteken jy raak daarvan vry en kom daarvan weg.
Jan* het dit gedoen. Van kleins af het hy sy pa se verwerping ervaar. “Op veertig kon ek steeds nie die onreg wat aan my, my vrou en kinders gedoen is, hanteer nie. Elke keer het ek teruggegaan, gehoop dit sou anders wees, maar elke keer was dit dieselfde ou storie. Ek moes luister na sy skimpe, sy kritiek, my vrou wat nie goed genoeg is nie, my simpel motors.
My kinders moes hoor hoe wonderlik hulnefies en niggies is, maar hul prestasies het geen erkenning gekry nie. Hy het hulle nie eens altyd op hul verjaardae gebel nie. “Ek kon nie soos my broer in die familie- onderneming werk nie. Vir my het hy ander vereistes gestel. Dis asof hy my vir mislukking opgestel het.
“Dit het my gelaat met ’n gevoel dat ek nie goed genoeg is nie. Ek het ’n onversadigbare behoefte aan erkenning gehad – dat hy net een keer sou sê: ‘Jan, pa is trots op jou.’ Maar dit het nooit gebeur nie. “Ek het besef die ding dat ek moet presteer, byt my aan die hakskeen, dit hou my terug, by die werk en die huis. Ek het besef dat as ek nie van die ding in my kop ontslae gaan raak nie, ek nie suksesvol gaan bly nie. “Ek het saam met ’n sielkundige deur die gedoente gewerk. Ek het besef my eerste verantwoordelikheid is teenoor myself, my vrou en kinders. Ek kon ons nie langer aan die pyn, verwerping en onregverdigheid blootstel nie. Ek moes breek met die verhouding.
Maar ek wou nie. Jou pa is tog jou pa. En my ma was altyd daar en het dit nie verdien nie. Dit was ’n worsteling. Ook omop die punt te kom van ek is oukei en het nie sy erkenning nodig nie.
“Ek het vir hom ’n brief geskryf waarin ek my gevoelens verduidelik het en het duidelike grense en verwagtinge gestel: Óf ons breek alle bande, óf hy tree anders op. Hy het my woedend gebel, maar ek het nie met hom gepraat nie. Die reël was dat hy eers oor alles moes dink en as hy my soos altyd sou slegsê, was dit finaal verby. Ná tien dae het ek met hom gaan praat. En toe die wonderwerk: Hy het besef hy het my ’n onreg aangedoen en vertel van sy swak verhouding met sy pa. Nou werk ons stadig en versigtig aan ’n nuwe verhouding. Hy probeer hard. Ek moes eers laat gaan – my woede, my seer en my geloof dat ek nie die siek verhouding tussen ons kon laat gaan nie. Toe kon ek vergewe en nou is daar ’n nuwe moontlikheid wat ek nie gedink het eers moontlik is nie.”
Hoe raak jy vry?
- Maak ’n verbintenis met jouself. Jy is die verandering en poging werd.
- Wees eerlik met jouself, met jou werklikheid. Wat dra nie by tot jou léwe nie, en beperk jou?
- Neem afskeid en werk deur die emosies van die rouproses. Aanvaar die verlies. Kyk verby wat is en was.
- Besluit wat sal help. Kry ’n visie. Wat is dit wat jy wil hê? Kry ’n prentjie van wat moet verander.
- Begin nuut. Vervang die oue deur die nuwe gedagtes of gewoontes.Werk aan ander verhoudings.
- Doen dit van binne na buite en nie andersom nie. Jou hart moet anders wees dan volg jou gedagtes en dade. Jy moet gló jy kan kry wat jy regtig wil hê en bereid wees om te vra, te ontvang en te skep
- Fokus, praat, doen wat sal help. As jy op die oue (wat jy nie wil hê nie) fokus, bly jy daarin vasgevang.
Om te laat gaan, kan net jy vir jouself doen. Niemand anders kan dit vir jou doen nie. Jy kan dit ook nie vir iemand anders doen nie. Dis ’n geskenk van jou aan jouself. Maardie mooiheid daarvan is dat almal in jou wêreld uiteindelik in jou vryheid, vrede en vreugde sal deel. Om te laat gaan, is om nuut te begin, en dis die deur na ’n nuwe jy. Die nuwe is nou, is hier.Nimmereindigend sterf die nuwe oomblik vir ’n volgende nuwe oomblik, nog ’n nuwe geleentheid om te glo, te hoop, te vernuwe en te vier in ’n skepping sonder einde.