Ouers doen dinge vir hul kinders met die beste bedoelings en uit liefde. “Maar,” waarsku Nikki Bush, ouerskapkenner van Johannesburg, “hoe gelyker jy hulle pad maak, hoe hulpeloser en afhankliker maak jy hulle, en hoe moeiliker is dit vir hulle om besluite te neem en op hul eie te funksioneer.” Nikki sê dié aangeleerde hulpeloosheid is een van die grootste probleme waarmee laerskoolleerkragte deesdae sukkel.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }’n Onderwyseres beaam dit: “Ek sien gereeld ouers wat hul graadeenkind soggens klas toe dra. En wanneer die kinders iets by die huis vergeet het, sê hulle ‘Mamma het vergeet om my goedjies in te pak’.”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }“Die meeste ouers werk hard en omdat hulle min tyd het, gaan dit gewoonlik gouer om alles self te doen as om geduldig te wag tot die kinders soggens aangetrek het en hul skoenveters vasgemaak het. Maar ouers moet laat gaan om te laat groei,” sê Nikki.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }“Hedendaagse ouers fokus daarop om gelukkige kinders groot te maak, en hulle doen byna alles om te keer dat hul kinders ongelukkig voel. Dis natuurlik belangrik, maar dit moenie tot nadeel van die kind strek nie.
“Onafhanklikheid moet van jongs af geleer word. Kinders moet leer om die aanslae van die lewe te kan oorleef, en hulle kan dit net doen deur oefening in onafhanklikheid te kry.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }“Onthou, die lewe ontvou hom nie in ’n reguit lyn nie. Daar is baie teleurstellings en mislukkings in elkeen se lewe, en kinders móét dit beleef voor hulle werklik kan groei. As jy klein teleurstellings en frustrasies toelaat terwyl hulle jonk is, systap jy groot fiasko’s later.”
Ons leef in ’n holderstebolder wêreld. Dit woel aan die politieke fronte, die ekonomie is stram, terroristeaanvalle, werkloosheid, misdaad … Alle praatjies in die huis gaan later oor hoe negatief en buite beheer alles is. Hoewel ouers nie die werklikheid kan verander nie, moet hulle positief wees en ’n gees skep waar hulle oor oplossings praat. “Wat kan ek/ons doen om die situasie vir ons te verbeter?”
Nikki sê omdat ouers voel die lewe is buite beheer, probeer hulle op ander vlakke beheer verkry. “Kom ons fix die kinders,” is die gevolg. Die eindproduk is ’n generasie kinders wat aan hoë vlakke van angstigheid en depressie ly omdat hulle nie die aanslae van die lewe kan hanteer nie, en elke klein teleurstelling as persoonlike mislukking ervaar.”
Omdat ouers so min beheer aan kinders oorlaat, oefen kinders hul beheer op negatiewe maniere uit, soos om ouers te manipuleer deur te huil, of met onaanvaarbare eetgewoontes.
Nikki maan dat die grootste lesse in die lewe deur ongerief, ongemak, teleurstelling en frustrasie geleer word. “Kinders leer byvoorbeeld om te loop omdat hulle gefrustreerd raak met kruip. En hulle leer praat omdat hulle iets wil hê. As ouers alle pyn en frustrasie wegneem, ontneem hulle hul kinders van waardevolle geleenthede om lewenslesse te leer. Ons is so gretig om elke klip uit ons kinders se pad te rol vir ’n perfekte lewenspaadjie dat ons hulle sonder enige rigting laat.
“As kinders nooit aanspreeklik of verantwoordelik gehou word vir foute nie, leer hulle om ander vir probleme te blameer. Ouers se toegewyde strewe om hul kinders gelukkig te hou, geskied dan ten koste van kinders se groeiproses.”
Die geheim is om hulle so vroeg moontlik ouderdomsgepaste takies te gee. Jou leuse moet wees: As hulle kán, móét hulle. Kinders moet leer dat hulle werkies kan doen sodat hulle selfvertroue kan ontwikkel en in hulself kan glo.
“Dis ’n bietjie soos ’n vlieër aan ’n tou, jy gee skiet en laat die vlieër effens verder uitvlieg, dan katrol jy dit terug na veilig-heid. Jy knip nie die tou nie. Net so moet kinders toegelaat word om te waag sodat hulle geleidelik leer om verantwoordelik te wees en selfvertroue te kweek.”
Kinders moet ook die kans kry om die volle spektrum van emosies te ervaar. As ouers altyd inspring as dinge moeilik raak en ’n kortpad na ’n oplossing skep, is daar nooit geleentheid vir kinders om deur hul emosies te werk nie. “Ons is bang dat kinders ontsteld sal raak en help hulle voor hulle daar kom.” Nikki glo dis omdat ouers nie die tyd of altyd die vaardighede het om dit te hanteer nie.
“Ouers moet ’n tree terug gee en dink hoe die probleem kinders se toekomstige vaardighede gaan verbeter. Kinders leer oplossings en lewenslesse as ons toelaat dat hulle mislukking en ongelukkigheid ervaar. Onthou, die idee is nie dat jy kinders vrye teuels gee om groot, verreikende foute te maak nie. Maar deur hulle ruimte te gee om kleiner foute te maak en self oplossings te soek, bemagtig jy hulle om later groot foute te voorkom.”
Lizette Brunner is ’n graadeenonderwyseres by Durbanville Voorbereidingskool en het 12 jaar se ondervinding. “Ons sien dat kinders al hoe minder selfstandig is en dit belemmer hul waagmoed om nuwe dinge in die klas te leer en onafhanklik take uit te voer. Ons verwag dat kinders al voorskools hul veters moet vasmaak, aantrek en hul tassies skool toe dra. Tog is daar baie van hulle wat nie eens hierdie basiese takies sonder hulp kan uitvoer nie.
“Haastige ma’s dra kinders klas toe en doen alles vir hulle omdat dit makliker en vinniger is as wanneer kinders dit self doen. Bitter min kinders het enige take by die huis, soos help met kos maak, tafel dek en afdek, troeteldiere kos gee en vullis weggooi. Maar dis alles maniere om kinders verantwoordelikhede te leer sodat hulle onafhanklik in die klas kan werk.
“Kinders het nie deursettingsvermoë as hulle sukkel nie. Hulle het ook nie waagmoed om iets te probeer wat hulle nie ken nie. Ek vra altyd ’n woordjie in die speltoets wat nie by die huiswerk was nie, maar wat ons in die klas geleer het. Baie kinders bars in trane uit omdat die woord nie deel van hul huiswerk was nie. Die ouers kritiseer my ook hieroor.”
Leerkragte loop maklik deur onder ouers se kritiek. “Ouers het baie keer skuldgevoelens oor hul gebrek aan tyd, of omdat hulle enkelouers is en soek kitsoplossings vir probleme om spanning te vermy. Onthou, om ’n leerkrag voor jou kind te roskam leer jou kind dat hulle nie gesag hoef te respekteer nie. Maak eerder ’n afspraak, of kontak die onderwyser persoonlik wanneer jy iets op die hart het.
“Ouers vra my gereeld dat ek kinders uitmekaar moet skuif omdat daar wrywing is. Ek sê altyd vir die ouers dat ek eerder met die twee kinders werk om hulle te leer om konflik en persoonlikheidsverskille op te los. So leer kinders sosiale vaardighede. Dis ’n waardevolle geleentheid vir albei kinders om iets te leer wat andersins verlore sou gaan.”
Ouers se oorbeskerming ontneem kinders pret. “Ons beplan een keer per jaar ’n uitstappie na die Nico Malan-teater vir ’n opvoering van die boekies wat kinders op skool lees. Ek kry gereeld ouers wat laat weet dat hul kind nie daardie dag skool toe kom nie, want hulle is nie bereid dat hulle met die bus ry nie. Ouers saboteer ook kinders se swemlesse deur nie swemklere saam te stuur skool toe as kinders nie daarvan hou nie.
“Ons ervaar dat oorbeskermde kinders dikwels swak sosiale vaardighede en minder interaksie met maats het. Dis of die nuwe generasie kinders hul ouers onbewustelik manipuleer en beheer. En ouers laat dit toe. Soos kinders wat dolgraag ballet- of musieklesse wil neem en ná een of twee lesse ophou. Dis belangrik om kinders te leer om nie te gou tou op te gooi nie. Laat hulle minstens die kwartaal voltooi.
“Ouers het ’n oordrewe behoefte dat kinders gelukkig moet wees en daarom kan kinders geen teleurstelling verwerk nie. Ons sien dit ook in spansport. Kinders is so gefokus op die telling en wie wen, dat hulle nie net pret kan hê en speel nie.
“Kompetisie is gesond, maar die oordrewe kompeterende ingesteldheid is baie keer ’n persepsie wat die ouers vestig. As die kinders nie wen nie, huil hulle.”
Lizette sê dis belangrik dat ouers hul kinders ondersteun met huiswerk en ’n roetine skep waar hulle dit pligsgetrou kan doen, maar vra mooi dat ouers dit nie vír hulle moet doen nie. Kinders moet leer dat dit hul eie verantwoordelikheid is.
Sy ervaar ook dat kinders nie die inisiatief het om speletjies uit te dink nie, want hulle word heeltyd voorgesê wat om te doen: “Hulle ken nie meer rolspelspeletjies soos winkel-winkel nie. Probeer om een keer per week ’n speel-afspraak met ’n maatjie te maak sodat die kinders om die beurt sorgeloos bymekaar kan speel.
“Kinders word so met buitemuurse bedrywighede oorlaai dat hulle selde tyd vir onbevange, kreatiewe spel het. Ons kom agter dat hulle nie meer die inisiatief kan neem om take aan te pak, of hul huiswerk op hul eie te doen nie. Hulle moet voorgesê word. Kinders raak gewoond daaraan om geprosesseer te word.”
• Praat met hulle
Sielkundige Jeanne Williams stel voor dat jy met jou kind praat en vra dat sy jóú help om te verander. Iets soos: “Ek is jammer. Dit lyk of ek jou soos ’n kleintjie – moenie die woord baba gebruik nie – behandel, maar eintlik is jy al ’n groot kind wat grootkindwerkies kan doen.
• Identifiseer geleenthede
Maak ’n lys van takies wat jy reken jou kind kan baasraak. Aantrek, veters vasmaak, tande borsel, skottelgoed wasbak toe dra, hare regkry, tas pak, broodjies inpak … Bespreek dit met jou kind en hoor vir watter takies sy groot genoeg is sodat sy deel van die besluitneming voel.
• Kies jou tyd
Moenie groot veranderinge begin as kinders siek, moeg of oorweldig is nie. As hulle ’n insinking het, ondersteun hulle vir ’n tydjie en staan dan terug. Dit gaan meer waarde hê as om te baklei en te kritiseer.
• Begin stadig
Begin met een takie per week om haar nie te oorweldig nie. Onthou, dis ’n langtermyndoelwit waaraan jy werk.
• Maak tyd
Kinders gaan take stadiger as jy uitvoer, maak voorsiening vir ekstra tyd as jy wil hê dit moet werk.
• As jy teenkanting kry, maak dit pret
Sit byvoorbeeld ’n CD op en kyk of jou kind klaar kan wees voor die liedjie ophou. Help aanvanklik, maar maak seker dat hulle ook begin om kleiner takies alleen aan te pak.
• Moenie met geld beloon nie
Moenie in die strik trap om vir individuele takies te betaal nie. Dis goed as kinders sakgeld kry sodat hulle kan leer om met geld te werk, maar hulle moet ook leer dat basiese takies bloot deel van die lewe is en nie met geld beloon word nie.
• Verlaag die standaarde
Aanvaar dat sy dinge nie so goed soos jy gaan doen nie. As sy mors terwyl sy ontbyt kry, wys haar hoe om dit skoon te maak sonder om ongeduldig en krities te wees.
• Wees geduldig en positief
Eerder as om te kla dat haar hare nie perfek geborsel is nie, prys haar dat sy dit reggekry het.
Wenke: todaysparent.com
Lees ook: Aktiewe kinders is slimmer kinders
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.