Sy noem dit “goedige verwaarlosing” en wil hê ouers moet soms ’n bietjie meer op die agtergrond tree en kinders ruimte gee om te eksperimenteer en te leer om alleen te speel. Onthou, kinders het ’n leeftyd om ’n volwassene te wees, maar kan nooit weer kinderpret inhaal nie.
“Daar is heeltemal te veel toesig oor die moderne kind. Ouers moet ’n ‘losser’ benadering tot toesig hê en kinders toelaat om op hul eie dinge te doen.” Maar dit beteken nie dat jy met jou werk aangaan, of hulle voor die TV neerplak en van hulle vergeet nie, sê Nikki. Luister met die een oor wat hulle doen en loer nou en dan waar hulle is. Die essensie is dat hulle op hul eie ontdek en speel en jy ’n ogie hou, maar nie betrokke raak en voorskryf wat hulle moet doen nie. Dit stimuleer verbeelding en leer onafhanklikheid.
KINDERS ONDER DIE VERGROOTGLAS
Die nuwe skoolstelsel van deurlopende beoordeling veroorsaak dat kinders gedurig onder spanning verkeer oor hul punte. Selfs kinders in graad een is bewus hiervan.
“Gee hulle tuis ruimte om tot verhaal te kom,” sê Nikki. “Kinders leer baie belangrike lesse deur ongestruktureerde spel. Ek glo die sandput is die beste leerskool. Hier leer kinders sosiale interaksie sowel as klein en groot motoriese bewegings.”
Volgens Nikki is swemlesse die enigste noodsaaklike buitemuurse aktiwiteit vir kinders onder ses jaar. “Die meeste kinders vaar goed met net een ekstra aktiwiteit. As jy aktiwiteite kies, maak seker die kind se behoefte is die dryfveer, nie jou eie nie.”
En as jy reël dat maats kom speel, moenie hulle fliek toe vat of ’n gestruktureerde worsmasjien-aktiwiteit doen nie. Maak seker dis ’n aktiwiteit waar die kind sosialiserende vaardighede kan leer en nie net ’n aktiwiteit waar ’n volwassene in beheer is nie.
Slaan ’n kindertent in die tuin op of laat hulle verbeeldingsvlugte met speelgoed onderneem. Maak ’n modderput in die hoek van die tuin, want kinders speel selde morsige speletjies by die huis. Die sintuiglike stimulering is baie goed. As julle iets doen soos koekies bak, hou dit prettig en gebruik dit as ’n geleentheid om iets saam te doen. Beskou dit as ’n kans om ’n band tussen jou en die kinders te smee.
Kleiner kinders kan ure met ’n vlak skotteltjie met seepborrels (gebruik skottelgoedseep) speel. Kinders het nodig om na ’n maat se huis te gaan en te leer om met ander kinders klaar te kom en te deel. Maak seker daar is toesig. Werkende ma’s kan speelsessies vir die naweek reël. Met kinders onder vyf kan jy saamgaan en by die ma kuier, maar ouer as vyf jaar moet die kind leer om onafhanklik te wees.
Wissel gestruktureerde aktiwiteite af met vrye spel sonder toesig. Probeer iets soos fantasiespel met ou klere, of gesigte opmaak met ou grimering of gesigverf. En jy hoef nie spesiale fantasieklere te koop nie. Gebruik ou klere en sarongs en gee kinders ’n kans om kreatief te wees en hul verbeelding te gebruik.
“Kreatiwiteit is juis een van die vyf sleutelfaktore wat eendag ’n werk gaan verseker,” sê Nikki.
BESLUITE, BESLUITE
Moderne ouers is oorweldig deur die magdom keuses en dit geld kindgrootmaak ook.
“Ouers is soms besig om opvoeding met hul koppe eerder as hul instink te doen, want hulle vertrou nie meer hul eie oordeel nie. Ons is ook te besig om te luister wat ons instink sê,” meen Nikki.
Sy glo ouers moet in beheer van die televisie wees. “Kinders onder 13 moet toestemming vra om enige toestel met ’n skerm aan te skakel. Ons moet vroeg goeie mediagewoontes kweek. Dit verg baie minder energie om televisie te kyk as te speel en daarom raak kinders al hoe minder ondernemend omdat hulle passief vermaak word. Dan kla hulle maklik ‘ek is soooo verveeld. Wat kan ek doen?’”
As jy met jou hele wese vir kinders beskikbaar is (hulle sien gou as jy voorgee), het jy nie soveel tyd nodig om hulle emosioneel te bevredig nie. Daarom is werk en min tyd nie ’n verskoning om ’n kind emosioneel af te skeep nie.
“’n Kind het net vyf tot tien minute van jou onverdeelde aandag nodig om weer emosioneel versadig te voel,” sê Nikki.
Speel ’n kort kaartspel of speletjie met hulle as jy by die huis kom. Of maak seker dat jy ’n prettige geselsie in die kar het op pad terug van die skool af. As hulle nie hierdie tydjies kry nie, smeek hulle om aandag en wil nie alleen dinge doen nie.
Speel skep een van die sterkste emosionele bande tussen ouers en kinders. Hoewel speelgoed en verrykende aktiwiteite ’n rol het, moet ouers nie eenvoudige dinge, soos om saam op die gras te speel, onderskat nie. Betrek hulle in die kombuis met kosmaak en skoonmaak. Moet dit nie ’n straf maak nie. Al help hulle net vir vyf minute, beteken dit baie op ’n emosionele vlak. Maar as jy ongeduldig en voorskrywend gaan wees, dien dit geen doel nie. Op die manier leer hulle lewensvaardighede, verantwoordelikheid en onafhanklikheid.
“Ons hou ons kinders so styf vas dat dit geen wonder is dat hulle nie op hul eie bene kan staan wanneer ons eindelik laat los nie.”
Wat sê ’n kleuterskool-juffrou?
Kleuterskoolonderwyseresse sit met die gebakte pere van ’n geslag kinders wat nie leer speel het nie. Lynette de Jongh, departementshoof by die Laerskool Jan Celliers se kleuterskool in Johannesburg, is al meer as twintig jaar in die kleuterskoolbedryf. Sy glo speel leer jou lewenslesse.
“Ouers voel onder groot druk om hul kinders al die geleenthede te gee. ‘Gee jou kind ’n voorsprong’, skree die media, en veral ma’s voel skuldig as hulle ’n beroep het en nie voltyds by die huis is nie. Ouers voel hulle faal as kinders by die huis aan ongeorganiseerde spel deelneem terwyl vriende se kinders rekenaar- en gimnastiekklasse bywoon. Veral ouers in die stad voel die druk omdat daar soveel geleenthede is.
“Ouers vertrou ook nie meer hul natuurlike instink nie omdat die speelveld so verander het. Dis ouers se hartsbegeerte om die kind vir die lewe voor te berei en hulle voel hulle mis geleenthede wat ander kinders ’n voorsprong gaan bied.”
Lynette meen speel is jou geheime wapen om seker te wees ’n kind gaan deur al sy ontwikkelingsfases. “’n Kind se lyf ontwikkel met speel. Een van die groot probleme in die laerskool is kinders wat met groot motoriese ontwikkeling sukkel.
Te veel te vroeg
“Wat buitemuurse bedrywighede betref, doen ouers soms té veel té vroeg. Kinders neem musiek terwyl hulle nog nie die klein motoriese ontwikkeling het nie. As kinders sukkel, gooi hulle gou tou op en sou dalk langer aangehou het as hulle ’n bietjie ouer was. Ons sien dikwels dat die kinders wat later met ’n aktiwiteit begin, die vroeë beginner verbysteek. Kinders brand ook uit in die laerskool en wil dan in die hoërskool nie meer met hierdie aktiwiteite aangaan nie.
“Jy kan kinders nie ryp druk nie. Hulle moet in hul eie tempo ontwikkel. Kinders wat te vroeg te veel kry, raak later verveeld en het niks om na uit te sien of na te mik nie, en raak dan soms met die verkeerde dinge deurmekaar.
“Ek weet ouers bedoel goed, maar soms luister hulle nie na wat die kind wil hê nie. Talent kan vir die kind ’n straf word as hy nie in sy eie pas ontwikkel nie. Dit noop opvoedkundiges om sterk standpunt in te neem teen te veel georganiseerde programme.”
Lynette sê sommige ouers is deesdae sonder ’n opvoedingsplan omdat hulle voel hulle wil dit beter as die vorige generasie doen. “Nou eksperimenteer hulle omdat hulle onseker voel. Die gulde riglyne hou steeds water en daar is baie wat jy uit jou eie kindwees kan haal wat vir die moderne kind net soveel waarde het.”
Ouers maak soms klein volwassenes groot eerder as om kinders al die fasette van kindwees te laat ontgin. Onthou, ’n kind kan nooit verlore kinderpret inhaal nie, maar hy het ’n hele leeftyd voor hom om ’n volwassene te wees. Sosiale vaardighede en onafhanklikheid wat met speel aangeleer word, verseker sukses as hulle groot is.
Wat kan ouers by die huis doen?
“’n Goeie kleuterskool sal ’n gebalanseerde program volg en dus moet kinders in die middag tyd hê om te speel sodat hulle hierdie nuwe dinge wat hulle in die oggend geleer het, kan toepas met spel,” sê Lynette. “Speeltyd lê leerervaring vas.”
En ouers hoef nie bekommerd te wees dat hul kind se verskuilde talente verskuil gaan bly nie. Spel dek soveel fasette dat dit ook ’n kind se unieke talente sal identifiseer, verseker Lynette.
Al die geleenthede verwar ouers en hulle het later ’n skuldgevoel oor alles. Ouers moet eerder afskaal en in basiese dinge belê, sê Lynette. “Die ander dinge gaan in hul eie tempo gebeur.”
Lees gerus Nikki Bush se boek: Future Proof Your Child. (Penguin 2008)
Hoekom doen kinders so baie buitemuurse aktiwiteite?
# Ouers is bang die kind het ’n verskuilde talent en hulle stel hom aan verskeie aktiwiteite bloot om te sien oor watter talente hy beskik.
# Die ouers is besig en die aktiwiteite hou die kinders besig.
# Albei ouers werk en wil nie hê kinders moet die hele middag by die tuiswerker, wat nog huiswerk het, bly nie.
# Ouers voel skuldig omdat hulle nie beskikbaar is nie.
# Daar is ’n sterk element van kompetisie tussen ouers en jy is bang joune bly agter.
# Dit word ook deur vrees gedryf. Ouers is bang kinders gaan nie toegerus wees om in ons mededingende samelewing sukses te behaal nie.
# Ouers verloor fokus oor wat die kind nodig het en fokus op wat hulle dink die kind wil hê.
Sleutelfaktore om jou kind op die toekoms voor te berei
# Kreatiwiteit. Skep tye waar kinders nie aan rekenaars of televisie blootgestel is nie om hul verbeelding te prikkel.
# Ken jouself. As jy nooit alleentyd het nie, leer jy nooit wie jy is en wat jou uniek maak nie.
# Spanwerk. Dis belangrik om met groepe mense te kan klaarkom. Jy kan steeds ’n introvert wees, maar jy moet die reëls vir sosialisering ken. Onthou, die gesin is die eerste span waarin kinders moet funksioneer.
# Leergierigheid. Maak nuuskierige kinders groot. As jy gedurig voorsê wat hulle moet doen, ontwikkel hulle nie die vaardigheid om probleme op te los en nuwe dinge te ontdek nie.
# Vasberadenheid en ondernemingsgees. As jy gedurig met die “moeilike” dinge help, is dit nooit nodig dat hulle leer om vas te byt en aan te hou nie. Dit gee hulle ook die selfvertroue om nuwe dinge aan te pak, want hulle weet hulle kan regkom.