Sy hang die twee goue stringe om my nek. Ek wil nog protesteer. “Goud werk nie vir my nie.” Weer dáái kyk. “Van nou af meng jy jou juwele. Goud en silwer. Laag-op-laag,” kom die refrein, vieserig.
Sy skep skaars asem, kletter dan verder. “Vroue van ons size mag nie kort stukke dra nie – skep lengte met jou nekstukke. Jy móét aanbeweeg.”
Met die draai van die seisoen, elke seisoen, kry die vrees my beet. Styf om die nek. Ek staan voor my klerekas, wonder wat ek verlede jaar in die somer gedra het en kla: ek’s regtig kaal. Ek blaai vervaard die vrouetydskrifte voos. Soek, kyk, meet en pas. Beloer my bo-arms en agterstewe en wonder met watter oordingetjie ek hulle dié jaar gaan toemaak sonder om van die hitte om te kom. Is verlig as my swart somersbroek, rek en al, nog gemaklik pas, maar raak yskoud as my vyfjarige vra of ek en sy asseblief bypassende bikinis kan koop.
Klere koop is ’n kuns, weet ek. Om dan boonop die regte goed vir jou lyf te kry, ’n ander storie.
Op 42 wil ek nie soos die bure se tienerdogter lyk nie, en gewis ook nie soos my ouma nie. Verkieslik hot, hip and happening – sonder die hot, maar beslis hip and happening.
Ek wil wegkom onder die lae-en-lae kant en frille wat dreig om die volk te verswelg, soek outfits in mooi lap en die perfekte rok om my kurwes te vly. Want maer sal ek tog nooit wees nie. Ek wil my Woollies-mentaliteit smoor, steeds by my gunsteling-kettingwinkel koop, maar dit slimmer doen. Nie net afhaal wat in rye en rye op die rak hang nie. Ek wil, ek wil . . . hierdie jaar soos ’n miljoen-dollar lyk, op die begroting van ’n kerkmuis.
Desperaat roep ek haar hulp in. Sy’s kort, stylvol, ’n slim sakevrou. “Help.”
So begin ons reis. Ek leer. Kry raas. Protesteer. Maar saam bou ons my klerekas. Ek loer vir Idols se kwaai Simon Cowell en wonder stilweg of dit sal werk as ek ook net wit en swart T-hempe en ontwerpersjeans begin dra. Voel my bloed kook as my man tuiskom met sy someraankope – ’n sak vol splinternuwe hemde, dieselfde snit, mooiste lap. So onregverdig maklik, dink ek.
’n Nuwe rok of drie gee my kas kleur, ek koop broeke in dieselfde snit – wit, khaki, swart en grys. Stof ou skoene af en pak Ouma se juwele op die boonste rak.
Toe gebeur dit. Steunpilaar-Sarah, ons huis se ander ma, bekyk die uitgooihopies so. Praat dan hard, te hard: “Gee daardie mooi goed hier. Ek sal dit dra. Laag-op-laag. Die ghrêndste vrou in die buurt.”
Vier sinne. Sy tik my oor die vingers. Ek? Kyk vir my kas, laat sak my kop en hang twee nekstukke om haar nek. “Meng die goud en silwer, laag-op-laag, Sarah.” Sy straal.
Tot volgende week,
Marí