Kyk nuut na jou huwelik deur Mariette Snyman. Hooffoto: iStock/bernardbodo
Kyk nuut na jou huwelik
Ná werk hou meneer Smit voor die huis stil. Sodra sy voet aan die stoeptrappie raak, maak mevrou Smit die deur met ’n warm glimlag oop. Sy lyk vars, ruik hemels en vra wat hy wil drink.
In die woonkamer skop meneer Smit sy skoene uit. Die kinders kom groet en gaan lawaai elders verder. Die hond moet maar tot later wag; ’n man wat heeldag gewerk het, het rus en vrede nodig.
Mevrou Smit sit ’n rukkie by haar man en vra na die dag se gebeure uit. Dan gee sy hom die koerant en verdwyn kombuis toe om sy gunstelinggereg te gaan afrond.
Voel dié prentjie bekend? Of laat dit jou aan ’n fliektoneel uit die jaar gunter dink?
Lees ook: Hoe om beter met jou lewensmaat te kommunikeer
Huwelike en die rolle wat mans en vroue daarin speel, het ingrypend verander. Die tradisionele opset met die man as broodwinner en die vrou as voltydse ma en eggenoot, oorheers lank nie meer die toneel nie. Huwelike waar vroue die broodwinner is en hul mans na die huishouding en kinders omsien, word algemener, en tussen dié twee uiterstes lê daar ’n rits moontlikhede.
“Wanneer huwelike ter sprake kom, praat ek nie graag van geslagsrolle nie,” sê Joke Nicol, Pretoriase verhoudingsterapeut en skrywer van Naak en naby, Ruimte vir twee en Liefde, seks en die hele kaboedel.
Lees ook: Hoe om jou geliefde met nuwe oë te sien
“Ek praat eerder van onderhandelde rolle en werkverdeling, omdat sekere take nie meer primêr aan die man of vrou toegedig word nie. Vroeër was ma’s vir die fisieke én emosionele versorging van die gesin verantwoordelik. Vandag kan dit gebeur dat een ouer na die kos en klere omsien, terwyl die ander een die hoofrol in die kinders se emosionele ontwikkeling speel – heel moontlik die pa.”
Dis maar een van die maniere waarop die kant-en-klaar-bedeling waarmee baie van ons grootgeword het, ’n nuwe gesig gekry het.
Lees ook: Wat gaan regtig in jou man se kop aan?
Vroeër vas, nou vloeibaar
Die skuif weg van die tradisionele stelsel, wat volgens Joke vir sommige pare sowat twintig jaar terug begin het en steeds toeneem, is ingrypender as wat ons dalk besef.
Waar die “ou” stelsel met sy outoritêre inslag duidelik omlyn was, kan die “nuwe”, demokratieser stelsel ’n magdom vorme aanneem. “Man- en vrourolle het wegbeweeg van die stereotipe verwagtings na ’n oper rolverdeling. Pare moet nou oor hul eie rolle en werkverdeling onderhandel volgens elkeen se aard en die konteks waarin hulle hul bevind. Alles word moontlik: die man kan inkopies doen en kos maak, die vrou kan gras sny en ’n onderneming behartig.”
Lees ook: Belê só in jou huwelik
Baie van ons besef nie eens dat ons ons pad in dié sin oopkap nie. Ons gee die eerste huwelikstreë met sterre in die oë, wonderlike verwagtings en die onvermydelike programmering van ons grootwordjare wat inherent die saadjies van spanning dra.
“Die ouerhuis is ons eerste leerskool waar ons leer om die lewe te hanteer. Een word byvoorbeeld geleer om op haar regte te staan, terwyl haar maat geleer word om die minste te wees. ’n Ander word weer geleer beplan en orden, en sy maat om dinge te vat soos dit kom. In ’n groot mate word ons dink en doen geprogrammeer.”
Lees ook: Leer nou hoe om selfgeldend te wees
Dit geld nie net persoonlike optrede nie, maar ook ons uitkyk op die huwelik. “Dalk was jou ma die dominante een in jul gesin wat alles georganiseer het. Trou jy met ’n man wie se pa altyd die leiding geneem het, kan dit tot ’n magstryd lei. Dieselfde geld twee mense wat onderskeidelik grootgemaak is om gevoelens vry uit te druk en om emosioneel beheersd te wees. Een sal raas en blaas as sy kwaad is, terwyl die ander in sy dop sal kruip. Hoe meer jul raamwerke verskil, hoe groter die konflikpotensiaal.”
Hoewel vorige geslagte ook met verskille in programmering te make gehad het, was die geslagrolle sterker vasgelê, wat meer duidelikheid en minder beweegruimte beteken het. Omdat mans die hoofgesagdraers was, het hul programmering voorrang geniet. Van vroue is verwag om hierby in te val. Hulle het meestal te min gesag gehad om die huisreëls te hervorm.
Sedertdien het baie verander. Gesagstrukture dwarsoor die samelewing het minder outoritêr geword. Vroue het toenemend begin werk, bestuursposisies ingeneem en hulle in sogenaamde mansberoepe laat geld. Die klem het sterker op beroepsbevrediging as die aanvul van die gesin se inkomste begin val. Baie mans het meer intens by hul kinders betrokke geraak, vanaf die oomblik wat die kleinding die eerste skreetjie in die kraamsaal gee.
Op gesinsvlak beteken dit dat vroue meer van ’n sê het. Hul programmering weeg net so swaar soos dié van hul mans. Nie een van die twee geslagte hoef meer by rigiede rolverwagtings in te val nie, en oor werkverdeling kan hulle saam besluit.
Lees ook: 10 dinge waaroor elke paartjie moet praat vir ’n gelukkiger verhouding
Twee kernvrae wat paartjies hulle gerus kan afvra, is:
- Hoe verskil ons programmering en hoe hanteer ons dit?
- Watter werkverdeling gaan elkeen van ons en ons gesin die beste pas?
Lees ook: Pasop om jou werk-self huis toe te neem
Ons is albei ‘reg’
Dis belangrik om die program onderliggend aan jou gedrag, optrede en reaksies te ken, sê Joke. “Sommige voorbeelde uit jou ouerhuis neem jy net so oor. Ten opsigte van ander slaan jy weer ’n teenoorgestelde rigting in. Maar ná jare betrap jy jou dat jy ’n ding steeds soos jou ma of pa doen – al wil jy nie! Jy moet ook jou maat se program verstaan sodat jy die gedrag wat daaruit voortvloei met groter empatie kan hanteer.”
In ’n nabyverhouding is verskille – en frustrasie – ’n noodwendigheid. “As ek netjies is, gaan ek vies word as jy goed laat rondlê. Maar ek moet besef dis nie jou skuld dat ek kwaad word nie; dit gaan nie oor reg en verkeerd nie, maar oor jou manier en my manier wat nie altyd harmonieer nie.”
Lees ook: Dis moontlik om weer hartsmaats te word
Om hierdie frustrasie te hanteer, is kommunikasie nodig. En die tradisionele huwelikstelsel het oop kommunikasie moeilik gemaak. “Die outoritêre stelsel was, of is, ’n inpassisteem. As jy daarop ingekoop het, moes jy daarby inval. ’n Geslote stelsel skep geslote kommunikasie. Die een wat ‘onder’ staan – die vrou – is bang om haar te laat geld en die man teë te gaan. Die een wat ‘bo’ staan, is weer bang om kwetsbaar te wees.
Lees ook: Hoe om nie te baklei wanneer julle vakansie hou nie
“In my jare as terapeut het ek ervaar dat baie mense vanuit die outoritêre stelsel konflik as riskant sien, en hul negatiewe gevoelens onderdruk. Hulle praat eerder nie daaroor nie. Hul kinders sien hulle selde verskil. Ná jare kom kla sommige die verhouding is dood. Dis vir hulle onverstaanbaar, want hulle is nie bakleierige mense nie. Intussen is dit die onderliggende negatiewe emosies wat verwydering bring. Dan vra ek: ‘Hoe hanteer julle negatiewe gevoelens?’”
Enige verandering in die huwelik, soos die koms van ’n baba of aftrede, maak dit nodig om die praktiese verdeling van take te heroorweeg. “En om die werkverdeling in ’n huwelik te herdefinieer, vra oop kommunikasie. Die take moet regverdig verdeel word deur elkeen se werklading in ag te neem. Een moenie swaarder as die ander dra nie.”
Hoe gemaak as die kommunikasie maar effentjies is? “Berading kan baie help, veral om die proses tussen man en vrou te fasiliteer. Vroue sê dikwels hul mans sal nie kom nie, maar in 25 jaar se huweliksberading het ek net drie of vier mans gehad wat nie gekom het nie. Ek vra altyd om die man minstens een keer te sien sodat ek die vrou beter kan verstaan, of andersom. Dit werk goed.
“Mans raak al oper vir huweliksberading. Ek kry selfs mans wat aanvanklik sonder hul vroue kom.”
Waar berading nie haalbaar is nie, kan groter bewustheid en selfhelptegnieke ingespan word om kommunikasie met klein treetjies te verbeter. In Liefde, seks en die hele kaboedel gee Joke ’n paar wenke.
Lees ook: Wat jy moet weet as jou man Aspergers het
Dis belangrik om te onthou dat verhoudingsmaats elk vanuit hul eie raamwerk optree. So sê Leon vir Lalie (wat reeds gefrustreerd voel oor hy so hard werk, baie weg is en haar afskeep – haar raamwerk): “Ek is bekommerd oor my base al meer druk op my plaas. Ek voel dikwels verskeur tussen my werk en gesin.”
Dit bevestig wat Lalie reeds bedreig, en sy antwoord: “Jou werk sal nog ons gesinslewe ruïneer.”
Eintlik deel Leon sy innerlike worsteling. Hy gee seine dat hy wel gevoelig is vir die gesin. Lalie antwoord met ’n verwyt, omdat sy haar teen haar eie vrese blindstaar.
Die manier waarop jy luister, bepaal of jou maat hom of haar vir jou gaan oopstel. Ware luister beteken dat jy werklik probeer raaksien wat jou maat in woorde, die gevoelstoon agter die woorde en deur lyftaal probeer oordra. Jy moet jou as ’t ware in die ander se “program” kan verplaas. Dit vra ’n doelbewuste besluit om veral ’n emosionele situasie met meer begrip te benader.
Om jóú gevoelens en behoeftes eerlik te deel, kan net so moeilik wees – veral as jy sensitief is en bang voel dat jy, jou maat of jul verhouding skade sal ly as jy jou hart blootlê. Werklike oopstel bring pyn, maar dis die groeipyne in ’n verhouding wat mense mekaar op ’n dieper vlak laat ontdek.
Hier kan ’n ek-boodskap help. Pleks van te sê: “Al wat jy doen, is om heeldag voor die TV te lê!” sê jy: “Ek voel ongelukkig oor jy so baie voor die TV sit. Ek bekommer dat jy nie by jou ander werk gaan uitkom nie.” Jy fokus dus op jou belewenis en die effek wat jou maat se gedrag op jou het.
Lees ook: Die dieper betekenis van seks
In kommunikasie staan tydsberekening – wanneer albei rustig is – sentraal.
Dis belangrik om spesifiek en konkreet te wees: “Gister was ek ontsteld toe jy laat kom” is doeltreffender as “Jy is altyd laat.”
Omdat mans tradisoneel die “harde” rol na buite moes vertolk terwyl vroue toegelaat is om kwetsbaar te wees, is mans dikwels minder in voeling met hul emosies. Hulle verkies ’n rasionele benadering. As vroue hul emosies meer rasioneel kan verwoord, kan dit begrip aanhelp, maar mans moet ook leer om hul innerlike belewenisse te erken en te deel. Die besef dat emosionele intimiteit vir baie vroue tot groter seksuele intimiteit lei, kan hulle aanspoor.
Baie huwelikspaartjies het weens omstandighede of persoonlike oortuiging, die vastigheid verloor wat die tradisionele stelsel bied. In ruil daarvoor kry hulle die vryheid om hul eie werkverdeling te skep aan die hand van wie elkeen regtig is. Om dit met goeie gevolg te doen, vra insig, oopheid, eerlikheid, deursettingsvermoë, kreatiwiteit en ’n goeie skoot genade.
Uiteindelik is dit om’t ewe watter toneel hom afspeel wanneer Meneer en/of Mevrou Smit van die werk af kom. Wat saak maak, is of dit ’n bewuste en gesamentlike skepping is – en of dit wérk.
Lees ook: Dis moontlik om jou huwelik te red
Vyf stappe vir ware luister
Dié stappe moet gereeld geoefen word, maar werp vrugte af:
- Maak oogkontak en gee jou volle aandag aan jou maat.
- Spieël die boodskap terug met: “Verstaan ek jou reg? …”
- Erken jou maat se gevoelens. Elkeen se gevoelens is sy werklikheid. Bekragtig (validate) dit. As jy sê, “Jy oorreageer”, betree jy nie jou maat se wêreld nie.
- Verstaan sy gevoelens deur met sy oë te kyk en met jou hart te voel.
- Aanvaar sy siening van die situasie; maak vrede daarmee.
Lees ook: Lewe jy saam met ’n beheervraat?
Beter balans
- Sake om aan te roer en uit te pluis as jy weet dat dit jou (of jou maat) gelukkiger kan maak:
- Hoe sien elkeen van julle ’n man en ’n vrou se rol? Verskil dit van die tradisionele sienswyse?
- ’n Gesin is ’n bedryf in die kleine en alles moet glad verloop. Maak ’n lys van al die huistakies en kyk wie wat behartig. Vergelyk dit met elkeen se beroepsbetrokkenheid. Trek jy of jou maat te swaar? Hoe kan die ander een, die kinders of iemand van buite help?
- Hoe word die kinders se versorging – prakties én emosioneel – tussen julle verdeel?
- Het elkeen ruimte vir ontspanning en eie ontwikkeling?
Lees ook: Hoekom dit goed vir pa’s en kinders goed is wanneer pa’s meer betrokke is
Joke Nicol se boeke is ongelukkig uit druk en net by tweedehandse boekwinkels te kry.