Van die bekendste name in teater, film en TV in Suid-Afrika is deel van die rolverdeling van Niggies, die nuwe dramareeks wat op 25 Maart op kykNET (DStv-kanaal 144) begin.
Niggies is gegrond op ware gebeurtenisse en vertel die verhaal van die twee twaalfjarige niggies, Issie Fourie en Petro Nel, wat in 1966 in die rustige dorpie Odendaalsrus in die Vrystaat ontvoer en vermoor word. Issie se broer, André, sweer daarna om alles in die stryd te werp om die skuldige aan die pen te laat ry, maar dit sou hom byna 20 jaar kos. Niggies begin dus in 1965, maar die reeks strek oor die 1960’s en 1980’s.
Beer Adriaanse, bekend vir flieks soos Wonderlus en Kanarie, asook reekse soos Hotel en Taktiek, vertolk die rol van die ouer André. Die talentvolle nuweling Janru Steenkamp speel die jong André.
- Beer Adriaanse
- Janru Steenkamp
Carel Nel (Koek, Spinners) is kaptein At van Wyk wat die ondersoek lei. Tinarie van Wyk Loots (Dwaalster, Fynskrif) en Jacques Bessenger (Koek, Een keer om die son) speel Issie (Lane Vertue) se ouers, Marie en Dries Fourie.
- Carel Nel
- Tinarie van Wyk Loots
- Jacques Bessenger
Neels Clasen (Getroud met rugby, Legacy) en Erica Wessels (Dwaalster, Donkerbos) is Petro (Izebella Louw) se ouers, Henning en Ousus. Petro se ouer suster, Henda, word as 17-jarige deur Anja Taljaard (Juffrou X, Een keer om die son) vertolk en as 35-jarige deur Cintaine Schutte (Dinge van ’n kind, Fynskrif).
- Neels Clasen
- Erica Wessels
Albert Pretorius (Donkerbos, Nêrens, Noord-Kaap) en Roeline Daneel (Fynskrif, Diepe waters) is Gustaff en Maks Fouché – naby familie van die slagoffers.
- Albert Pretorius
- Roeline Daneel
Ander spelers sluit in Jana Kruger, Liam Bosman, Wessel Pretorius, Daneel van der Walt, Stian Bam, Ludwig Binge, Mbulelo Grootboom, Neels van Jaarsveld, Melissa Myburgh, Deon Lotz en Michele Burgers.
- Kirsten Raath
- Jana Kruger
- Deon Lotz
Die regisseur is die veelbekroonde Jaco Bouwer, wat nie net bekend is vir sy grensverskuiwende teaterwerk nie, maar ook vir die internasionale trefferreeks Spinners, wat in en om Kaapstad verfilm is. Niggies is vervaardig deur Wolflight Films, met Roelof Storm (Kanarie, Poppie Nongena) as uitvoerende vervaardiger. Die bekroonde Saartjie Botha en Philip Rademeyer het die draaiboek geskryf.
KYK | Niggies se lokprent
Niggies begin Dinsdag 25 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees