Kyk na die foto’s van ons Stellenbosch KANSA-tee 2019
Ons het behoorlik gekuier in Stellenbosch toe vyfhonderd Wes-Kapenaars vir ‘n dag van lag, gesels en selfs ‘n paar trane bymekaargekom het.
Met ‘n tema soos “Blom in Volkleur” was ons omring deur die skoonheid, reuke en malse kleur van vars blomme wat die kreatiewe gasvroue in oordaad gebruik het.
Die sprankelende Tracey Lange was die seremoniemeester wat die dag gelei het, terwyl Hannes van Wyk en Shaleen Surtie-Richards saam staaltjies uit hul lewe met ons gedeel het. Die oggend is op ‘n hoogtepunt afgesluit toe die bekende sanger Jay seker gemaak het die gaste se voete jeuk ‘n bietjie.
Ons het veral gedink aan geliefdes en vriende wat ons die afgelope jaar aan kanker verloor het – ook aan dié wat die afgelope twee jaar nou betrokke was by die geselligheid.
Ons sê baie dankie vir elke borg, gasvrou en helper wat tot die sukses van die dag bygedra het. Ons sien uit daarna om volgende jaar weer lekker saam te kuier!