Kwepers is familie van die appel en peer. ’n Vars kweper is dalk nie een van die mooiste vrugte nie, maar wanneer dit lank en stadig gekook of gerooster word, gebeur daar iets magies. Die wit, krakerige vlees verander in ’n sappige, aromatiese, dieprooi lekkerte.
- Kwepers is boonop hoog in vitamien C wat help om verkoue te voorkom. Dit is veselryk en kan cholesterol help verlaag.
- Kwepers is waarskynlik een van die eerste vrugtesoorte waarvan daar konfyt gekook is. Vanweë die hoë pektieninhoud, veral in die skil, is kwepers uitstekend vir jellies. Hoewel rou kwepers byna oneetbaar is, maak die rou vrugte uitstekende, natuurlike lugsuiweraars wat tot ses maande ’n heerlike aroma afgee.
- Jy kan ’n kweper makliker skil as jy die vrug vir 10 min. kook.
- Kwepers kom hoofsaaklik in die herfs voor, maar om te verseker dat jy die vrug heel jaar beskikbaar het, kan jy dit in ’n suikerstroop kook.