Kuns is alles by vanjaar se Suidoosterfees

Met Suidoosterfees 2025 se tema, “Kuns is alles”, herinner dié gewilde kunstefees Suid-Afrikaners dat kuns mense se lewens verryk en hoop bring. Kuns is meer as vermaak – dit help ons om die lewe en die wêreld beter te verstaan, en by feeste skep dit kosbare werksgeleenthede en stimuleer die plaaslike ekonomie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Vanjaar word die Suidoosterfees van 30 April tot 4 Mei in Kaapstad aangebied, waarna SOF Junior, ’n minifees vir onderwysers en skoliere, van 5 tot 8 Mei volg. Die Artscape-teatersentrum is weer die tuiste van alle feesaktiwiteite.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die feesprogram, wat op suidoosterfees.com beskikbaar is, bring vanjaar vir die 22ste keer teater, musiek, dans, boekgesprekke en visuele kuns aan gehore. Getrou aan die fees se leuse, “’n Fees vir almal!”, is daar ’n wye verskeidenheid aanbiedinge wat by oud en jonk byval sal vind.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

NATi Teaterfees

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Suidoosterfees se NATi Teaterfees spog met produksies wat feesgangers se verbeelding sal aangryp.

Fynproewers kan uitsien na Breyten Breytenbach se Verwelkingslied, die skrywer se laaste verhoogdrama wat hy kort voor sy dood in 2024 spesiaal vir die Suidoosterfees geskryf het. Breytenbach, wat beskou word as een van die invloedrykste Afrikaanse skrywers, dra sy swanesang op aan Antoinette Kellermann en Marthinus Basson, teaterveterane met wie hy in die verlede nou saamgewerk het.

In Verwelkingslied speel Kellermann ’n ou verhoogaktrise teenoor Dawid Minnaar, wat ’n dooie digter, herkenbaar as Breytenbach self, voorstel. Met Verwelkingslied spreek Breytenbach sy laaste woord aan die teaterwêreld en, op byna profetiese wyse, beskryf die digter sy dood en begrafnis.

Marí Borstlap is die regisseur en Tessa Louw het Breytenbach se teks vir die verhoog aangepas.

Ronelda Kamfer se veelbekroonde roman, Kompoun, is deur Jolyn Phillips vir die verhoog verwerk. Dit is die verhaal wat by monde van twee kleinkinders van die Mckinney-familie, Nadia en Xavie, vertel word. Melissa de Vries en Angelo Bergh vertolk die rolle onder regie van Lee-Ann van Rooi.

Annie + Helen, ’n aangrypende drama wat in samewerking met Curro Create op die planke gebring word, handel oor ’n 12-jarige Helen Keller en die 25-jarige Annie Sullivan. Judi Hattingh, ’n 13-jarige leerder van Curro Durbanville, vertolk die rol van Helen, en Cintaine Schutte speel Annie. Dié inspirerende verhaal van twee formidabele vroue hou kosbare lesse vir mense van vandag in.

Die gevierde Carlo Daniels is in die eenmanstuk, Die uitweg, gegrond op ’n Kafka-kortverhaal. Hy speel die rol van ’n pedantiese kêrel wat ná ’n moeilike dag by die huis kom en twee bonsende klein balletjies in sy sitkamer vind.

Simon Bruinders is terug op die verhoog met Die sideboard en die vuur, ’n opvolg sy Die sideboard wat ’n dekade gelede die lig gesien het. Vanessa Swartz is saam met Bruinders op die verhoog in dié verhaal oor Abraham en Stella, wie se bestaan deur gedwonge verskuiwings bedreig word. Zane Meas is die regisseur.

Dramas waarvan die Suidoosterfees ’n medevervaardiger is en reeds uitstekend by ander kunstefeeste ontvang is, is ook op die Artscape-verhoog.

Philip Rademeyer se Stinkhout met Frank Opperman en Wilhelm van der Walt, het reeds vele toekennings verower en is nou ook vir Kapenaars beskore.

Christo Davids se gewilde Laaitie met die biscuits, met Wayne van Rooyen, Stephanie Baartman, Carla Classen en Joshwin Dyson, kom maak ook ’n Kaapse draai.

Die digter Peter Blum sou vanjaar 100 jaar oud geword het. In Hortjies dig – die storie van digter Peter Blum, word dié omstrede skrywer se dikwels skandalige lewe en literêre nalatenskap in oënskou geneem. Chris van Niekerk en Joanie Combrink is op die verhoog as Blum en sy vrou Hetta. Jean Meiring is die uitvoerende vervaardiger en Juanita Swanepoel behartig die regie.

Arnold Vosloo, wat in Hollywood naam gemaak het met onder meer die Mummy-flieks, verskyn saam met Elzabé Zietsman in Liefdesbriewe. Zietsman het dié Broadway-treffer deur A.R. Gurney in Afrikaans vertaal.

Wendy Anthonie se Anderkant die treinspoor kombineer teater, woordkuns, musiek en dans om ’n liefdesverhaal te vertel waarby twee bendes op die dorpie Spoorvallei betrokke is. Die produksie herinner aan West Side Story en Shakespeare se Romeo & Juliet, en spog met ’n uitgebreide rolverdeling.

Nog ’n produksie waarin verskillende genres en dissiplines gekombineer word, is die Figure of 8-dansgeselskap se Die een wat bly. Wessel Pretorius behartig die regie van dié stuk waarin Daneel van der Walt, Grant van Ster en Shaun Oelf te sien is. Dit handel oor die verhouding tussen kinders en ouers, en die ervaring van verlies wat noodwendig daarmee gepaard gaan.

Komedie bly nie agterweë nie, en verhoogstukke soos Hans bars die bioborrel, Rondomtalie/Marry-go-round en Sonde met die spoke gaan beslis die lagspiere kielie. Hans is gegrond op Rudie van Rensburg se gewilde boeke, Rondomtalie handel oor ’n huweliksbootjie wat ná ’n verneukspul in troebel waters beland, en Sonde met die spoke is Marianne Thamm se eerste verhoogstuk in Afrikaans.

Mike van Graan se nuwe toneelstuk, The Good White, speel af teen die agtergrond van studenteopstande in 2016 en plaas die vergrootglas op karakters wat in verskillende hoedanighede by ’n universiteit betrokke is. Dié drama word in vennootskap met die Markteater by Suidoosterfees aangebied.

Die gewilde Namakwalanders Danneline Ramsden en Miché van Wyk bring Skatkis vol stories na die verhoog, propvol staaltjies uit Kommagas se wêreld. Nog ’n Namakalandse aktrise, René Cloete, is saam met Stephanie Hough in die drama Wag.

Zubayr Charles se Please, don’t call me moffie speel in die Bo-Kaap af en handel oor homofobie binne ’n Moslem-konteks. Die veteraan-akteur Bo Petersen is te sien in Pieces of Me, ’n stuk waarvoor sy verlede jaar ’n Standard Bank Ovation-prys by die Nasionale Kunstefees ontvang het.

Kort voor lank

Die aanbieding van kort, kragtige teaterproduksies wat in 2020 tydens die Covid-19-pandemie met die Stemme-projek deur LitNet en die Suidoosterfees geïnisieer is, was uit die staanspoor baie gewild en dit het intussen ’n instelling by verskeie Afrikaanse kunstefeeste geraak.

Vanjaar kan feesgangers weer uitsien na ’n reeks kortproduksies in verskillende genres: dans, musiek, woordkuns, komedie, drama en musiekteater. Produksies in die Kort voor lank-afdeling van die feesprogram duur ’n halfuur en kos slegs R50.

Dansliefhebbers gaan meegevoer word deur die Kaapstadse Stadsballet se Bite-size Ballet, die choreograaf Thalia Alberts se Ode to Earth Worms, studente van die Waterfront-teaterskool se Spotlight en Wings of Light: Dance of an Angel, met musiek deur Mouritz Lotz en aangebied deur die Stadsballet en die Figure of 8-dansgroep.

Op musiekfront wissel die aanbod van opera tot jazz, kabaret en Afrikaanse woordkuns. Die immergewilde SAMA-bekroonde Charl du Plessis-trio is op die verhoog met skitterende nuwe jazz-verwerkings van klassieke gunstelinge, en in Viva Italia! An Operatic Songbook kom wys die talentvolste jong stemme van UCT Opera wat in hulle steek. Lisa Engelbrecht begelei haar studente, Karabo Rabaloi, Molly Dzangare, Thandolwethu Longo en Themba Mdlalose en stel hulle aan feesgangers voor.

In Part One: Pocket Rocket val die kollig op die jazz-legende Hilton Schilder, wat met 16 tradisionele musiekinstrumente kan toor en boonop 46 albums op sy naam het. In Halfuur huis toe betree Dean Balie & Frieda van den Heever die verhoog met hartroerende woorde en musiek, en in Davel & Klink in harmonie betower Anna Davel en Ilse Klink gehore met hul stemme.

Komedie-gunstelinge in die Kort voor lank-program sluit in: Brendon Daniels in Kleedkamer en Dean John Smith & Margit Meyer-Rödenbeck in Ouma en Bettie kook!

Musiek

Musiekliefhebbers gaan hulle gate uit geniet met skouspelagtige konserte op vanjaar se Suidoosterfeesprogram.

Met Creating Sarah | Die skep van Saartjie onder leiding van Coenie de Villiers, word hulde gebring aan Sarah Baartman. Diana Ferrus, Ramon Alexander, Dizu Plaatjies, Nomapostile Nyiki, Lungiswa Plaatjies en De Villiers is almal op die verhoog in dié sonderlinge produksie.

Ferrus gaan gesels oor haar beroemde gedig en die rol wat dit gespeel het om die historiese ikoon se oorskot uit Frankryk terug na Suid-Afrika te bring. Die komponiste en musikante lewer elkeen ’n oorspronklike interpretasie van Saartjie se geskiedenis en nalatenskap met ’n vermenging van Westerse klanke en tradisionele en inheemse instrumente.

Nataniël is ook by die fees met Duif. Met unieke stories, splinternuwe musiek, invloede uit wêreldkulture en ’n paar klassieke oomblikke ondersoek hy en sy geselskap die geskiedenis van vermoëns en geleenthede, hulle maak ’n draai op ’n volstruisplaas en peins oor tafeldek as ’n vakrigting.

Stephanie Baartman & Janine Neethling tree op in Hoort, ’n semi-outobiografiese kabaret waarin stories oor Baartman se lewe as dogter van twee pastore met pragtige musiek verweef word.

David Kramer is verantwoordelik vir die musiek van Katrien, die King en die Kween. Dit vertel die verhaal van ’n egpaar, gespeel deur Elzabé Zietsman en André Schwartz, wie se saai lewe op die kop gekeer word wanneer ’n flambojante pianis (Tony Bentel) in die huis langsaan intrek. Kramer en André Odendaal is verantwoordelik vir die regie, en Johann Slabbert vir die teks.

Hoe mooi val die lig is ’n musiekproduksie wat deur die Hessequa Harmonie-fees geskep is en plaas die kollig op die vernietigende liefdesverhouding tussen die Franse skrywer George Sand, wat onder ’n manlike skuilnaam geskryf het, en die briljante, gefolterde Poolse pianis Frédéric Chopin. Riana Scheepers het die teks vir dié produksie geskryf.

Koos Kombuis & Jana Cilliers verskyn saam in die woord-en-musiekproduksie Omwentelinge, ’n papierspel, waarin dié twee veterane besin oor die wyse waarop woorde en musiek hul binnewêrelde vorm. En in Once Upon a Tune besing die formidabele Zanne Stapelberg die bittersoetheid van menswees, die liefde en die gawe om te kan lag.

Die gewilde Suidooster Stormsterk, wat altyd vir uitverkoopte vertonings sorg, word vanjaar deur kykNET na die fees gebring met die ondersteuning van Tafelberg Meubels en Biggi Popcorn. Dié konsert skop die sepie Suidooster se tiende verjaarsdagvieringe in 2025 af, en gewilde karakters soos Bennie, Wade, Juicy Justin, Suzy, Bianca en die sluwe Nazeem kom maak ’n draai saam met ander Ruiterbosch-inwoners.

Ook op die trefferlys is Suidoosterfees Boogie, Kunstetreffers en die Stellenbosch Universiteitskoor. Die Konsert van hoop waarmee die fees elke jaar ingelui word, spog vanjaar met topkunstenaars wat deur die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes begelei word. Sterre soos Amira Willighagen, Stephanie Baartman, Ilse Klink, die Suid-Afrikaanse Jeugkoor en finaliste van die Nasionale Jeugmusiekstigting se kompetisie sorg vir ’n onvergeetlike opening van die 22ste Suidoosterfees.

Pedro Kruger en Hennie van Greunen is saam met Melissa van der Spuy aan die stuur van Vrouestemme: Voices of Power, ’n spesiale konsert wat vrouestemme in musiek en die letterkunde kombineer. Kunstenaars soos Corlea Botha, Edith Plaatjies, Tashé, Phoebe Mgxaji, Mia Dippenaar, Antoinette Kellermann, Lee-Ann van Rooi, Veronique Jeptas, die Figure of 8-dansers en ’n Curro-massakoor tree op.

Komedie

Feesgangers wat van die wêreld se laste wil ontsnap en lekker wil lag, kan uitsien na ’n sterk komedie-aanbod. Die Joe Barber-duo, David Isaacs en Oscar Petersen, is op die program, asook Marc Lottering, Marianne Thamm, Cathy Specific, Mavis vannie Lavis en Aunty Cheryl.

Ter viering van die ikoniese Joe Barber se 25ste bestaansjaar, keer Isaacs en Petersen terug na die Suidoosterfees-verhoog met nuwe avonture en staaltjies van Boeta Joe en Gamat van die geliefde barbierwinkel. Joe Barber hou steeds die rekord as die topverkoper-vertoning in die geskiedenis van die Grand Arena by GrandWest.

Suidoosterfees se eie Mavis vannie Lavis, alias Veronique Jephtas, vermaak gehore met haar skerp tong in Mavis mettie marbles, en Marianne Thamm gaan in Vuisvoos, maar nog regop: Herlaai met ’n brandende oog na Donald Trump en Elon Musk kyk.

Dans

Die gewilde Figure of 8-dansgeselskap van Kaapstad sorg vir aanskoulike produksies op die dansprogram: Die een wat bly, Maze of the Mind en Dance Synergy Volume IV. Dié energieke produksies gaan gehore na hul asems laat snak en insigte oor menswees verruim.

Wessel Pretorius is saam met die geselskap verantwoordelik vir die teks en die regie van Die een wat bly. Dié stuk, met die veelsydige Daneel van der Walt, Grant van Ster en Shaun Oelf, neem die kunstenaars se persoonlike herinneringe as vertrekpunt om die verhouding tussen ma’s en seuns te skets.

The Blueprint span choreografie, storievertelling, projeksies en die kunstenaar Ina Propriette se aansteeklike charisma in om ’n inspirerende en ontroerende blik op die queer gemeenskap te gee. Dit moedig feesgangers aan om onbeskaamd en onapologeties buite boksies te lewe.

Soos in die verlede, kan die publiek gratis dansklasse bywoon. Gevierde choreograwe en professionele dansers maak belangstellendes touwys in die fynere kunsies van dansstyle soos kontemporêr, Amapiano (TikTok), musiekteater en Vogue fem. Besonderhede oor die klasse is op suidoosterfees.com beskikbaar.

Werkswinkels en ontwikkeling

Buiten gratis dansklasse is daar verskeie geleenthede vir feesgangers om hul vaardighede te verfyn. Onder leiding van Liezl de Kock bied die ATKV weer ’n toneelpakket vir teatermakers aan. Dié opleidingsessie strek oor drie dae en kos slegs R1 300.

Dit sluit werkswinkels in wat fokus op nie-verbale storievertelling, voor-verbale fisieke rolvertolking, liggame wat mekaar in die ruimte ontmoet en die skep van kreatiewe klankruimtes. Saam met die werkswinkels sal kursusgangers feesproduksies bywoon om inspirasie te kry en om die stukke krities te bespreek. ’n Pakket wat verblyf insluit is ook beskikbaar, en besprekings kan gemaak word by suidoosterfees@media24.com.

RSG saai vanjaar ook regstreeks op 1 en 2 Mei vanaf die feesterrein uit, en op 3 Mei bied die radiostasie ’n werkswinkel vir voornemende omroepers aan. In Werk in die wêreld van klank neem drie gesoute RSG-omroepers, Johan Rademan, Haidee Muller-Isaacs en Fran-Rico Lucas, kursusgangers onder hande oor die fynere kunsies van uitsaai. Bywoning is gratis, maar deelnemers moet deur Webtickets bespreek.

Gemeenskapsprojekte en kompetisies wat die afgelope jaar deur Suidoosterfees aangebied is, bereik ’n hoogtepunt by die fees met finale rondes waar wenners aangekondig word. Die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie word op 4 Mei om 08:00 aangebied, en die Talentsoektog dieselfde dag om 13:00.

Jakes Gerwel-gesprekke

Die Jakes Gerwel-gespreksreeks, vernoem na een van die fees se stigterslede, word vanjaar in vennootskap met die Jakes Gerwel Stigting, die ATKV en Netwerk24 aangebied. Praatjies is gratis vir feesgangers, maar besprekings by Webtickets is noodsaaklik.

Skrywers, joernaliste, kenners en politieke kommentators is aan die woord oor allerlei sake wat die openbare diskoers in Suid-Afrika oorheers.

Die lewensverhale van dr. Franklin Sonn (Karooseun van Vosburg) en prof. Jonathan Jansen (Breaking Bread) word bekendgestel.

Antjie Krog kom gesels met Mia Spies oor haar semi-outobiografiese roman, Die binnerym van bloed, wat handel oor die ingewikkelde verhouding tussen Krog en haar skrywersma, Dot Serfontein. Jeremy Vearey praat met Candice Jantjies oor sy oorlogsroman, Rooisand.

Patric Tariq Mellet vertel van sy boek oor die geskiedenis van slawerny aan die Kaap, en Bettina Wyngaard maak na ’n lang afwesigheid weer haar verskyning by ’n kunstefees wanneer sy met Siya Khumalo gesels oor kommentare en uitsprake oor geloof in die openbare domein.

Die wêreld van die joernalistiek word verken in gesprekke soos Persvryheid – ons sal nie stilbly nie, met gevierde ondersoekende joernaliste op die paneel: Pieter-Louis Myburgh, Karyn Maughan, Jana van der Merwe en Caryn Dolley. Brin Hodgskiss, Nicole Engelbrecht en Hannes Koekemoer praat oor hul navorsing vir boeke wat oor reeksmoordenaars handel.

Politieke sake kom onder die loep in gesprekke soos Africa on the Global Stage – who are we playing with? met Mandira Bagwandeen en Siphamandla Zondi, A Love Letter to the Many met Vishwas Satgar en Dinga Sikwebu, en Smuts and Mandela – The men who made South Africa met Roger Southall, Anthony Butler en Imraan Coovadia. Zelda la Grange kom vertel meer van die lesse wat sy by oudpresident Nelson Mandela geleer het.

Digters en skrywers kry ook die geleentheid om hul werk voor te lees tydens Hardop, en Sandra Prinsloo lei ’n Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA)-gesprek oor Gayle, die gay-kodetaal waarmee sprekers vroeër jare dienders gefnuik het.

Die Afrikaanse taal en letterkunde kom ook onder die vergrootglas in verskeie gesprekke, asook die verskuiwing van gedrukte media na aanlyn platforms.

Visuele kuns

In 2025 bring Suidoosterfees verskeie kunsuitstallings en optreekuns-stukke vir die publiek. Die fokus val op samehorigheid en kohesie, en die kunsprogram is deur Carin Bester saamgestel.

Kirby van der Merwe se uitstalling, Pulp Fiction, bring ’n reeks enorme skilderye bymekaar wat skakel met die hoofkarakter in Van der Merwe se roman Eugene. Die werke verteenwoordig die trauma-skilderye van Eugene, soos in die veelbekroonde roman uitgebeeld.

Stormkaap: Kom drome andersom uit? bring die strokieskuns van Nathan Trantraal, André Trantraal en Ashley Marais byeen. Die uitstalling bevat werk wat oor meer as twee dekades geskep is.

KSUT-studente van die Wellington-kampus se Ihaos-projek is te sien by die Suidoosterfees, ’n interaktiewe uitstalling wat “familiebome” op kampusse regoor Suid-Afrika installeer en met garedraad verbind. Op dié wyse word koloniale narratiewe uitgedaag en stilgemaakte familiegeskiedenisse tot lewe geroep.

Kunsuitstallings en optreekunsvertonings word in en om Artscape aangebied, met die teaterkompleks se portale op die verskillende vloere as uitstalruimtes. Optreekunsvertonings sal feesgangers dikwels op die Piazza verras.

Onse Afrikaans

In die Beeld en klank-afdeling van die feesprogram bring die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) ’n reeks video-opnames deur Sandra Prinsloo, Onse Afrikaans, aan feesgangers. Elke episode fokus op die unieke aard, karakter en oorsprong van Afrikaans se variëteite en dialekte, soos Flaaitaal, Karoo-Afrikaans, Tsotsi-Afrikaans, Gayle en dies meer.

Tydens die fees word dié video’s daagliks gratis vertoon in die SBA Isibaya Bioskoop. Elke episode is ook in Gebaretaal en met Engelse onderskrifte.

Teater vir jong mense

Die Suidoosterfees staan bekend as ’n ontwikkelingsfees en bied verskeie projekte saam met vennote aan vir opkomende teatermakers. Deelnemers se nuut ontwikkelde werke mond uit in professionele aanbiedinge by die jaarlikse kunstefees.

Met die NATi Jong Sterre-projek, aangebied saam met NATi, die Jakes Gerwel Stigting en Artscape, debuteer daar vanjaar vyf splinternuwe dramas by die fees.

Vanjaar se Jong Sterre maak hul buiging by die fees met die volgende produksies in Afrikaans, Engels en Sotho: Diano October met Bella van’ie bôl, Nelandi Boshoff met Hoek, lyn en sinker, Franka Kirby met In Her Your Our Shoes, Mosa Rabannye met Mmaotoanafinyel en Mikyall Harris met Vannie wal af.

Die ATKV Jeugteater-komponent van die feesprogram bring produksies van skole, universiteite en kolleges na die feesverhoog, asook amateurproduksies wat deur vennote soos die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport (DKES) aangebied is.

Northlink Kollege is by Suidoosterfees met Marcheline Andrea se En Silencio: The Nun Who Vowed Silence asook Christo Davids en Lloyd Davids se Queenie-hulle. Studente van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) is teenwoordig met These are Heavy on Us deur N.T. Jikwa.

In Beste van DKES-dramafees word die wenner en naaswenner van ’n amateurteaterkompetisie opgevoer, naamlik Plettenbergbaai Sekondêre Skool se Pas en die Take a Bow-geselskap se Klip in my pad.

The Stage Performing Arts Studio voer Siobhan Taljaard se Weerskant op, en Angelique Filter se The Old Man Who Thought He Had a Dog, wat uitstekend by die Première-Teaterfees op Stellenbosch gevaar het, is ook op die ATKV Jeugteater-program.

Skoleproduksies wat verlede jaar presteer het, maak ook ’n Suidoosterfees-buiging. Fairdale nr. 2 Hoërskool se 12 Reasons, 4 Solutions, wat as die fees- en Artscape se Hoërskool Dramakompetisiewenners aangewys is, en Hoërskool Durbanville se Weg, wat die Klein Libertas Toneelfees gewen het, word op die planke gebring.

Skoliere van oor die hele Suid-Afrika neem deel aan die Proscenium-Jeugteater-program, die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) se ondersteuningsprojek vir leerders en opvoeders. Hulle tree op in 15 splinternuwe kort dialoë wat vir die WKOD geskep is om onderwysers en leerders in die klaskamer te ondersteun.

Daar is ook ’n kinderfeesprogram met produksies wat kleuters en peuters besig gaan hou wanneer hul ouers die fees geniet, soos Liewe Heksie en die wals, Skoonlief en Die Ondier, Stinkie, los uit! en Storge.

’n Digitale leeshoekie is by die fees ingerig deur die SBA, waar jong feesgangers multitalige kinderpublikasies in digitale formaat kan verken. Die leeshoekie bied toegang tot kreatiewe leergeleenthede en oudio-aanbiedinge van stories. ’n Weergawe vir siggestremdes kan op ’n braille touch plus-tablet geniet word.

Na afloop van die hooffees volg SOF Junior van 5 tot 8 Mei by Artscape. Dié fees wat gerig is op onderwysers en skoliere van graad 1 tot 12, is verlede jaar vir die eerste keer aangebied. Penguin Random House, NB-Uitgewers, die Afrikaanse Onderwysnetwerk en die WKOD tel onder die vennote van dié opvoedkundige fees.

Die Suidoosterfees se volledige program is beskikbaar op suidoosterfees.com en kaartjies kan deur Webtickets bespreek word, tensy anders vermeld.

Die hoofborge van die fees is die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.

Lees ook: Suidooster se Kaashifa oor skokkende storielyn:’Ek het op my ervaring staatgemaak’

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

Hoekom dit belangrik is om jou middagetetyd te neem

’n Blaaskans oor middagete maak jou meer kreatief en produktief.

5 hours Gelede

Geroosterde pampoenskywe met tiemie-en-parmesaan-granola

Granola is deesdae nie net meer vir ontbyt bedoel nie. Hierdie krakerige kombinasie van sade…

3 days Gelede

‘The Mommy Club: Van die Hoofstad’: Ontmoet die glansryke vroue van die splinternuwe werklikheidsreeks

Showmax het pas die amptelike lokprent vir The Mommy Club: Van die Hoofstad, vrygestel. Dis…

3 days Gelede

Appel-peer-en-karamel-tert

Genoeg vir 8       Bestanddele   Tertdeeg 375 g koekmeel  2,5 ml (½…

3 days Gelede

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Klein vissies kelder een span en laat ’n ander span juig!

In die derde episode van kykNET se skitterende Kokkedoor Vuur & Vlam-reeks moes die deelnemers…

4 days Gelede

Suid-Afrika skitter by Louvre Abu Dhabi

Deur Maryke Roberts. Foto's: Maryke Roberst en verskaf/Departement Kultuur en Toerisme, Abu Dhabi    …

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.