Baie mense glo jy kan net ’n wynversameling hê as jy ’n oliemagnaat of die Amerikaanse president is. Maar ieder en elk kan met groot sukses ’n basiese wynversameling begin. Al wat jy nodig het, is ’n koel ruimte, soos onder ’n trap, of selfs ’n wynrak in die kombuis. Gebruik ons basiese riglyne vir jou beginnerskeuse en bou die versameling verder uit. Koop wyn waarvan jy hou. Spesiale wynwinkels bly ’n juweel, want daar kry jy gewoonlik goeie nasionale en internasionale wyne. Besoek ook verskillende wynkelders, want hier kry jy nie net die wyn nie, maar ook baie ander inligting. Soos wynskrywer Nonnie Dedekind tereg sê: “Dis beter om ’n klein versameling van 30 puik wyne te hê as om 100 gemiddelde wyne te besit.” Hier is ’n goeie beginnerskeuse:
Dekadente, borrelende vonkelwyn
’n Goeie vonkelwyn of bekroonde sjampanje is ’n moet om feestelike geleenthede of goeie nuus te vier. Pongracz is ’n goeie voorbeeld van ’n bekroonde vonkelwyn met perfekte balans, heuninggeure en ’n subtiele borrel.
’n Staatmaker-witwyn
’n Goeie chardonnay is altyd ’n wenner. Ons keuse is die Neil Ellis 2002 Chardonnay. Dis ’n sagte, geurige, goed gebalanseerde wyn met neut-, suurlemoen- en pomeloondertone.
’n Sonderlinge witwyn
Hou een besonderse bottel witwyn op die rak – iets wat die mense aan die praat sal kry, of wat hulle dalk nog nie geproe het nie. ’n Lewendige, verfrissende wyn met sitrusen groenappelgeure, en ’n definitiewe blywende indruk, is Bushvine Sauvignon Blanc 2003 DC.
’n Staatmaker-rooiwyn
Kies pinotage of merlot wat maklik drink en by almal sal byval vind. Die Simonsig Stellenbosch 2002 Pinotage Redhill is ’n ideale keuse. Dis ’n ryk, volronde wyn met houding en heerlike framboosaromas.
Klassieke rooiwyn
Hier praat ons van die klassieke Kaapse treffers, interessante versnitte en ware versamelstukke wat jaar na jaar beïndruk. Ons stel ’n klassieke keuse voor: Meerlust Rubicon 1999, met sy kenmerkende kersie- en naeltjiegeure en ’n titseltjie strooi- en sigaarondertone; en Kanonkop Paul Sauer, ’n legende uit eie reg!