Ons meisies is soms ’n interessante spesie. Wanneer laas was jy saam met ’n groep vriendinne by ’n restaurant? Daar is gewoonlike ’n spesifieke ritme tot die verrigtinge.
Daar is altyd daardie een vriendin wat die ete reël het en jou met die dood dreig, sou jy nie betyds opdaag nie. ("Toe-toe, klim uit daardie pajamas, ons wag vir jou"). Daar gekom, sê sy nie net vir jou waar om te sit nie, maar besluit grotendeels wat jy gaan eet deur jou te stoomroller: “Reg meisies, gaan ons sommer ’n broodjie vir die tafel bestel? Is die kruie-ene reg? Fantasties! Nou wat gaan ons drink? Kom ons maak dit sommer maklik, witwyn vir almal reg?” Dan draai sy dadelik na die kelner en bestel voordat enige siel nog kon ja sê vir die brood. Ek sou graag wou rooiwyn drink, maar vanuit skok het my bril toegewasem en kan ek nie vinnig genoeg my stem vind om te protesteer nie.
Daarna peusel almal rusteloos aan die stukkie droë brood asof ons gevangenes in ’n kamp is en die enigste rede waarom ons eet, is om ons kragte op te bou. Gewoonlik sukkel ek so om te sluk dat ek my wyn moet gebruik om die brood af te was.
Vir een of ander rede hou meisies nie daarvan om voor mekaar te eet nie. Daar is darem altyd een brawe siel wat sê dat sy honger is vir rêrige kos en die spyskaart nader sleep. Jy kyk om die tafel en sien hoe meer as een paar oë skitter. “Ag, ek is nie regtig honger nie, maar ek sal ietsie kleins bestel dat jy nie alleen eet nie,” begin een stotter. En so stroom die bestellings in vir voorgeregte.
Die voorgeregte maak egter net die honger groter en daarna begin almal peusel uit die arme siel met die hoofgereg se bord. (Net om te proe of manlief daarvan sal hou).
Tussenin kuier julle oor vergete universiteitsdae, oor hoe jonk en dom jy was en hoe jy nou die regte banke by Coricraft kan bekostig om jou vertoonkamer van ’n sitkamer te kan afrond. Tussendeur word wenke vir kinders grootmaak uitgeruil en die wat nie kinders het nie, bang gepraat om moederskap te betree.
Teen die einde van die kuier druk jy jou vriendinne styf vas en dink: dankie tog, ek het nog ’n maand of drie om te herstel voor die volgende kuier. (Nie dat jy nie van hulle hou nie, die hele omset en gesprekke put mens net so uit).
Na ’n vriendelike gegroet spring jy in jou motor en ry soos ’n renjaer na die naaste KFC, want eintlik is jy nog doodhonger.