Wat is selfwaarde?
Ons het almal prentjies oor onsself in ons kop – dit word ons “selfbeeld” genoem.
’n Selfbeeld word van kleins af gevorm deur ervarings van die wêreld om ons. Selfwaarde is die waarde-oordeel wat ons oor ons selfbeeld fel en ’n belangrike deel van emosionele gesondheid. Selfwaarde sluit selfvertroue en selfaanvaarding in.
Ouers se enigste teenvoeter is om kinders se selfwaarde van kleins af baie doelbewus te bou. Volg hierdie raad van dr. Marlene Wasserman:
• Komplimenteer jou kind nie net oor die uiterlike nie, maar veral oor hul vaardighede of die poging wat hul aanwend, soos “Jy droog darem die skottelgoed mooi af, Mamma kan op jou staatmaak.”
• Indien jy jou kind met pornografie op die rekenaar betrap, gebruik dit as ’n opvoedingsgeleentheid.
• Wys vir hulle hoe lyk positiewe, mooi seksuele beelde en verduidelik hoe die pornografiebedryf werk.
• Wys vir hulle verskillende borste en geslagsdele – sodat hulle besef die foto’s in pornografie is dikwels vals.
• Praat oor liefde vs seks, respek en seksuele rypheid.
• Moenie jou kind se rekenaar wegvat of in die middel van die sitkamer sit nie. Dan breek jy die vertrouensverhouding tussen julle af. Jou kind se nuuskierigheid is natuurlik. Jy wíl hê jou kind moet seksuele kwessies met jou bespreek. Leer eerder jou kind om krities te dink en beklemtoon dat jou “deur oopstaan” om seksualiteit te bespreek.
• Behandel jou kind altyd met respek en liefde en leef die waardes wat jy wil hê jou kind moet nastreef.
• Maak seks en liefde ’n natuurlike, deurlopende gesprekspunt tydens saamweestyd of wanneer julle ontspan en TV-kyk. Dit moenie ’n “kwessie” word, wat net elke nou en dan afgestof en weer weggepak word nie.
• Aanvaar jou kind soos hy/sy is.
• Stel perke aan selfoon- en rekenaargebruik, soos dat dit nie aan die etenstafel toegelaat word nie sodat julle saam ongestoorde gehaltetyd kan deurbring.
Wat sê tienermeisies?
• Oor die media “Ons wíl lyk soos die TV-sterre en glanspersoonlikhede. Ons wíl sulke bene en hare hê. Hulle is mooi, maer en het baie geld … ons wil dit ook hê. Op ’n manier is dit fake en sad, maar daardie droom is steeds in jou kop.”
• Oor facebook “Ons vergelyk ons foto’s die heeltyd met mekaar. Party meisies is net só mooi en dan probeer jy jou fix om mee te ding. Jy wil so graag hê ander moet jou like. As dit nie gebeur nie, voel jy gebreek.”
“Jy het geen beheer oor wat ander van jou op facebook sit nie, dis bad. Soms was jy by ’n party en dan lyk dit asof jy ook gedrink het, maar dan het jy nie ’n druppel in nie. Dit lyk sleg en almal sien dit, jou ouers ook. Dis moeilik om daardie persepsies wat geskep word af te breek.”
• Oor WhatsApp “Partykeer dink ek ons lewe in ’n device, dis sad.”
“Dis erger om jou foon te verloor as jou virginity. As my foon weg is, of ek het dit êrens vergeet, freak ek heeltemal uit. Die hele dag is ’n fail. Ek voel nie soos ek nie. Sonder my foon is ek niks nie. My hele lewe is my foon.”
“My ouers is die heeltyd op my case oor WhatsApp, maar dis hoe ons kommunikeer. Dis nie dat ek my ouers nie respekteer nie, dis meer ’n generation gap-ding.”
• Oor geslagsgelykheid “Meisies moet baie harder as seuns werk om erkenning te kry. Dis oukei vir seuns om lui te wees of om hul huiswerk te vergeet, maar nie vir meisies nie. Seuns hoef net in die eerste rugbyspan te speel of krieketkaptein te wees om suksesvol te wees. Meisies moet akademies A’s kry, in kultuur uitblink, in die eerste span speel, mooi en maer wees, net dan is sy suksesvol. Dis baie moeiliker vir meisies.”
“Daar is steeds ’n persepsie dat meisies onderdanig moet wees aan seuns. Ons lewensoriënteringonderwyseres het gesê ‘die man is die alfa en die koning en die meisies moet hul prinsesse wees’. Die boodskap is duidelik: mans is nog in magsposisies en hulle neem al die besluite. Die enigste mense wat eerlik is oor mans en vroue se rolle is die.”
“Dis depressing as ek sien hoe hard my ma werk en hoewel sy meer grade het as die mans by haar werk, word sy steeds minder betaal.”