Kry katte en honde ook Alzheimersiekte? deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: pixabay
Die slegte nuus
Ouer troeteldiere kan inderdaad ’n breintoestand soortgelyk aan die menslike vorm van Alzheimer se siekte ontwikkel. Dit staan bekend as “canine or feline cognitive dysfunction syndrome”.
Navorsing toon dat byna 70% van bejaarde honde minstens een simptoom het, en sowat die helfte van katte ouer as 15 jaar toon ook tekens van kognitiewe agteruitgang.
Dis noodsaaklik dat jy gedragsveranderinge met jou veearts bespreek, want ander mediese toestande moet eers uitgeskakel kan word.
- Dit is normaal dat ouer diere – nes ouer mense – se gedrag effens verander namate hulle ouer word, maar ekstreme gedragsprobleme kan ’n besliste aanduiding van die sindroom wees.
- Dit kan ook veroorsaak word deur ’n klein beroerte (wanneer jou dier bv. tjoepstil staan en net voor hom uitstaar, of verward voorkom),
- Chroniese pyn (wat hom afsydig of aggressief maak) of
- Nierskade (wat veroorsaak dat hy in die huis begin mors).
- ’n Interessante simptoom is nagtelike rusteloosheid by honde. Hy sal skielik bedags heeldag slaap en snags op en af stap, geluide maak en angstig voorkom.
Daar is goeie nuus!
Die goeie nuus is dat voorkomende behandeling, oefening, ’n stimulerende omgewing, die regte aanvullings en ’n gesonde, gebalanseerde dieet vir sy spesie (dus, nie wat jy dink hy of sy sal geniet nie, maar wat veeartse aanbeveel) jou beste vriend nog baie gehaltetyd kan gee, mits die toestand vroeg genoeg gediagnoseer word.
Lees ook: ‘Menskos’ wat giftig is vir honde