Kry jou kinders uit jou sak deur Anet Schoeman
So maak jy met ses kinders
Martie Buys (50) van Randburg is ’n tuisblyma van vyf kinders: Kobus (26), Div (24), Marí (22), Douw (21) en Sofí (17). Asof dit nie genoeg was nie, het sy en haar man, Peet, ook vir Willem (22) ná matriek “aangeneem” nadat hy van graad 10 af hul naweek- en vakansiekind van die Abraham Kriel-kinderhuis was.
“Ons het te veel kinders,” lag Martie, “maar ek sou dit nie anders wou hê nie. Ek was nog altyd ’n voltydse ma en die kinders was van vroeg af aan ’n klimaat van spaar blootgestel.
“Vir die oudste het ons R30 000 vir ’n rekenaarkursus betaal, maar toe die res kort op sy hakke volg, het ons besef dat hulle lenings sal moet kry wat hulle self moet afbetaal. Die eerste is ná sy rekenaarkursus Londen toe en het vir ’n jaar daar gewerk. Toe hy terugkom, het hy met ’n lening aan die Potchefstroomse Universiteit gaan swot. Toe sy geld opraak, het hy sy studie onderbreek en eers weer in Londen gaan werk.
“Div het met ’n lening B.Com. op Potch gaan swot en toe vir twee jaar in Londen gaan werk om sy studieskuld af te betaal – en selfs met spaargeld teruggekom.
“Marí het toerisme op Potch gaan swot en Douw is nou in sy derde jaar B.Com. ook op Potch en verdien ekstra geld deur papierherwinning by groot ondernemings te doen.
“Willem het ’n post-matriekjaar gedoen om sy punte te verbeter en universiteitsvrystelling te kry. Hy is ook op die Puk en kry vanjaar sy B.Ed.-graad. Hy het ’n beurs van die Abraham Kriel-kinderhuis gekry vir sy studie en verblyf, maar hy kry nes die ander kinders sakgeld.
“Die drie op universiteit kry sakgeld elke maand en hieruit moet hulle petrol, klere, toiletware, hul selfone en vermaak betaal. Hulle deel ook ’n ou Toyota wat hulle net gebruik om huis toe en terug te ry.
“Marí en Div is tydelik terug by die huis en betaal losies tot hulle ’n geskikte blyplek kry. Sofí is vanjaar in matriek, werk Saterdae en wil volgende jaar met ’n studentelening soos die res op die Puk gaan studeer.
“Hoewel my moederhart hulle soms jammer kry omdat hulle met minder moet klaarkom, sou ek dit nie anders wou doen nie, al kon ons. Hulle is toegewyd en volwasse omdat hulle weet dat hulle self verantwoordelikheid moet aanvaar. As ons meer geld gegee het, sou ons dit dalk aanvanklik vir die kinders makliker gemaak het, maar dan het hulle later swaargekry omdat hulle nie verantwoordelik is nie.”
Lees ook: Nuwe grense: Wanneer volwasse kinders en hul ouers saamwoon
Dis lekker om te gee
Zita* (57) van Pretoria is vroeg uit die skool om te gaan werk. Sy het haar later in die eiendomsmark begewe en was buitengewoon suksesvol.
“In my jong dae was dit juis ons armoede wat my gemotiveer het om ambisieus en suksesvol te wees. Tog is dit ook my swaarkryjare wat maak dat ek dit vir my kinders maklik wil maak.”
Hulle het twee dogters, Ansie* (30) en Ina* (27). “Ons het die geld en dit is vir my lekker om my kinders so ’n bietjie met geskenke te bederf.
“Ons het ons kinders se studie ten volle betaal (al het die een van kursus verander) en ruim voorsien in al hul behoeftes. Hulle het my ou motor gekry as hulle 18 geword het en op 21 het ons vir elkeen ’n nuwe motor gekoop.
“Noudat die kinders getroud is, is my man streng. Hy wil nie hê dat ons die skoonseuns die voorreg ontneem om vir hul eie gesinne te sorg nie. Dis vir my sleg, want dis vir my heerlik om te gee. Ek koop nou nog vir hulle lekkerruikgoedjies en betaal vir gesigsbehandelings en manikure. Ons leen wel vir hulle geld vir groot aankope wat hulle sonder rente afbetaal.
“Ek weet ek is geneig om te veel te gee en my vriendinne vertel my heeldag dat ek die kinders bederf, tog het ek sulke goeie dogters dat dit lekker is om die lewe vir hulle plesierig en gemaklik te maak.”
Net een kans
Adelle* (44), ’n spysenier van Randburg, het twee kinders; André* (22) en Nico* (17). Sy en haar man het albei groot studielenings gehad wat hulle moes terugbetaal. Vir hul kinders is die reël: “Ons sal vir die duur van een kursus betaal. As jy vakke dop, moet jy self daarvoor betaal, as jy opskop, is die volgende kursus vir jou eie rekening.”
Toe André ná ’n jaar en ’n half aankondig dat hy sy studierigting wil verander, het hy reeds ’n werk gekry sodat hy vir sy volgende kursus kon betaal. Ná ses maande het hy genoeg geld gehad vir sy eerste jaar (nou aan ’n plaaslike universiteit sodat hy by die huis kan bly) sowel as die maandelikse paaiemente op ’n voertuig. ’n Bonus was dat die maatskappy hom gevra het om in sy vrye tyd en vakansies daar te werk. Na gelang van sy rooster kry hy dit reg om twee of drie dae per week te werk en sy klasse in die ander dae te groepeer.
“As dit ’n krisis was, sou ons vir sy studie kon betaal,” sê Adelle, “maar ons moes baie hard werk vir ons geld en ek voel dat hy ie-wers verantwoordelikheid vir sy eie lewe moet aanvaar. “André (nou al in sy tweede jaar) is baie verantwoordeliker en volwasse en kry onderskeidings vir sy hoofvakke. Ek vermoed dis omdat hy weet die geld kom uit sy eie beursie.
“Ons sal vir Nico dieselfde geleentheid bied en sy studie betaal, maar hy weet dat hy net een kans op ons rekening kry … ”
Kom werk, boetie
My man (een van sewe kinders) was skrander op skool en daar was groot opwinding in die gesin toe hy universiteitsvrystelling kry, sê Joanne Kisbey-Green (42) van Fourways. “Sy pa (wat by ’n myn gewerk het) het onderneem om sy studie aan Wits te betaal. Maar toe die partytjies te jolig raak en hy ’n paar vakke in sy eerste jaar dop, het sy pa hom teruggeroep huis toe en vir hom ’n werk by die myn gekry. Hy moes ’n jaar werk tot hy al sy pa se geld terugbetaal het en ’n beurs by die myn gekry het om aan ’n technikon ingenieurswese te studeer. Vandag is hy suksesvol, en glo dat sy vroeë lewenslesse daartoe bygedra het.”
’n Ekonomiese uitdaging
Lourinda* (51) van Kaapstad doen marknavorsing van die huis af en haar man is in die boubedryf. Hulle het drie kinders: ’n tweeling van 22, Suné* en Mitchel* en Anja* 20.
“Drie kinders wat gelyk op verskillende plekke studeer, is vir ons ’n ekonomiese uitdaging. Hoewel ons die eerste twee jaar van die tweeling se studie en losies betaal het, moes ons vanjaar vir hulle studentelenings uitneem.
“Ons sal ook die jongste se eerste twee jaar betaal, maar daarna moet sy ’n lening kry.
“Ons wil graag hê die kinders moet hul studentejare geniet, maar dis belangriker dat ons vir ons oudag beplan. Ons kan nie nou ons uitkeerpolisse gebruik om studieskuld te delg nie. Die kinders is jonk en aan die begin van hul loopbane met die potensiaal om genoeg geld te verdien.
“Ondanks die lenings moes ons ook ons lewenstyl afskaal om hul uitgawes te dek. Die kinders het elk ’n goeie tweedehandse motor gekry en kry een tenk petrol per maand. Selfoonkoste, kos en klere word betaal. Hulle kry steeds elkeen sakgeld elke maand en het rekeninge vir boeke en die apteek. Dan is daar nog die koste van vliegkaartjies om hulle vakansies by die huis te kry.
Wat sê ’n sielkundige?
Dr. Elzette Frits, ’n senior lektor in die Departement Opvoedkundige Sielkunde aan die Universiteit van Johannesburg glo die boompie moet jonk gebuig word.
“Dit help nie ouers begin eers in matriek om kinders iets oor geld en onafhanklikheid te leer nie, hulle moet voorskools al begin.”
In haar beroep sien sy dat kinders wat beter presteer, dié is wat van vroeg af self moes dink en verantwoordelikheid moes aanvaar. “Hulle is die mense wat die waarde van geld besef en nie verkwisters is nie.”
Ouers moet van vroeg af vir kinders die verband tussen geld en harde werk verduidelik. “Sê vir hulle as jy geld by die kitsbank trek dat jy of jou man hard werk vir die geld en dat die werk dit in die bank inbetaal. Anders dink hulle die geld verskyn soos ’n towerslag uit die masjien.
“Ek sien baie ouerpare wat arm was en hard moes werk vir hul geld wat nou wil vergoed. Hulle kweek kinders sonder ambisie omdat hulle net gee en gee. Onthou, jy is geregtig om die genot van jou eie geld te hê.”
Ons is geneig om ons kinders te koester en beskermd groot te maak, en daarom kan ’n jaar se werk voor die kinders universiteit toe gaan, baie doen vir lewenservaring.
Elzette maan gegoede ouers ook teen die koop van ongepaste duur geskenke vir jong kinders. “Later bly daar niks oor waarna hulle kan uitsien nie, want hulle het alles.”
Kry jou kinders uit jou sak: Wenke
- Begin kleintyd met sakgeld en help kinders om ’n doelwit te kry om voor te spaar.
- Al het jy geld in oorvloed, moet jy steeds beperkings stel sodat kinders kan leer om binne ’n begroting te leef.
- Sit voor die tyd met studente en werk ’n begroting uit en stippel duidelik uit wat hul bydrae en jou bydrae gaan wees. Wees realisties, maar stel duidelike grense en beperkings.
- Kinders wat al werk en by die huis woon, moet losies betaal (al is dit klein), anders kweek jy ’n kultuur van gemaksug.
Wat sê die finansiële kenners?
“’n Lening is nooit die ideale manier om te beplan nie, maar as geld nodig is, is ’n studentelening die beste lening,” sê Neil van Loggerenberg, finansiële beplanner by Standard Bank.
Banke leen gewoonlik geld aan studente teen laer rentekoerse en in baie gevalle daal hierdie rentekoers elke jaar soos die student deur sy graad werk.
Dis wonderlik as ouers vir hul kinders se studie kan betaal, maar jou aftrede is altyd die eerste prioriteit. Statisties word mans 77 en vroue 81. As jy op sestig aftree, moet jou spaargeld vir 21 jaar hou.
Dis nie ’n sonde om kinders ’n bietjie te bederf nie. Die probleem kom wanneer kinders net altyd gekry het wanneer hulle gevra het. As hulle op hul eie bene moet staan, het hulle geen benul hoe om op ’n begroting te werk nie. Stel beperkings en leer hulle begroot.
Kredietkaarte
Baie ouers gee vir hul kinders ’n addisionele kaart sonder beperkings en wonder dan hoekom dinge handuit ruk. Dit is wel gevaarlik om met groot bedrae kontant rond te loop, maar gebruik eerder ’n debietkaart sonder ’n oortrokke gerief.
Dis ook belangrik om die student nie met geld uit te help tot die volgende maand as hy te veel bestee het nie.
* Skuilname
Lees ook: Nuwe grense: Wanneer ouers en hul volwasse kinders saamwoon