Kruispaaie – raad hoe jy krisistye kan oorleef deur Anys Rossouw
Kruispaaie
Dis die beloop van die lewe. Krisisse tref mense. Ons beplan nie swaarkry en ongeluk nie. Ons beoog nie dat ons huweliksmaat op ’n dag net uitstap nie; dat ’n geliefde sterf nie; om ’n hartaanval te kry nie; om skielik sonder werk te sit nie. Dis mos goed wat met ander mense gebeur.
Maar dinge gebeur wat jou tot stilstand ruk en jou lewe in skerwe om jou laat lê. Waarheen dan? Wat moet jy doen?
Die verhoudingsghoeroe Barbara de Angelis, sê die grootste uitdaging is nie om die dinge te hanteer waarop ons gehoop het en nooit gekry het nie. Nee, dis om die dinge te hanteer waarop ons nooit gehoop het nie, maar wel gekry het: die onverwagte, die onwelkome, die lewenslange stryd met iets wat nie regkom nie, skielike eindes, teësinnige eindes, teleurstellings, die verloor van vastighede. En vreesaanjaende nuwe beginne.
Leoné* vertel van die krisis toe sy agterkom dat haar talentvolle kind nie meer wil eet nie. Sy het al maerder en stiller geword. Al meer weggeraak. Sy het ure in haar kamer deurgebring en met niemand gepraat nie.
“As ek vra, sê sy daar is niks fout nie. Ek het nie verstaan nie. Hoekom is my kind depressief? Sy presteer akademies, is op die leerlingraad, het maats, is goed in sport en word in ’n gelukkige huis groot? Waarom is sy ongelukkig en wil selfmoord pleeg? My wêreld het uitmekaargeskeur toe ek vasstel dat my eie pa haar gemolesteer het.”
Party krisisse sien jy aankom, mits jy bereid is om dit te erken. Op ’n dag wéét jy: Ek kan nie langer so aangaan nie.
Ander krisisse kom soos ’n dief in die nag. Maar die lewe gee vir elke mens kragtige oomblikke om te stop sodat jy aandag kan gee aan wie jy is, waar jy is, hoe op aarde jy daar beland het, wat jy wil hê en waarheen jy nou moet gaan.
Minette* het op so ’n plek in haar huwelik gekom. “Ek wil nie meer so lewe nie. Ons bly saam, maar ons praat nie. Ek kyk aand vir aand TV of lees en hy sit agter die rekenaar. Ons het niks om vir mekaar te sê nie. Niks opwindends of spesiaals gebeur meer in ons lewe nie. Alles het vanselfsprekend geword en is gestroop van warm gevoelens en werklike belangstelling. Ons is ordentlik en nice met mekaar, baklei nie. As ons iets lekkers wil doen, kuier ons saam met pêlle. Hy dink ons het ’n wonderlike huwelik. Dis my probleem as ek nie tevrede is nie.”
Johan* haat sy werk. Hy het jare op universiteit deurgebring om ’n tandarts te word. Hy het swaar gebou aan ’n praktyk. En nou haat hy dit om dag vir dag in mond na mond te kyk. “Is daar nie meer in die lewe as dit nie? Maar wat kan ek anders doen? Daar is rekeninge en paaiemente om te betaal. ’n Vrou en kinders om te onderhou.”
Vryheid van keuse
Ons raak slawe van ons keuses. Tog het ons die vryheid om te kies. Jy kies om die slaaf van knellende omstandighede te bly. Dalk is jy vasgevang in ’n verhouding of ’n beroep en is jy die slaaf van haglike of weelderige omstandighede waarvoor jy jou dag en nag afsloof, sonder vreugde, sin of vervulling. In die malle gejaag van afspraak tot afspraak sterf jy dag vir dag. Jy oorleef, maar lééf nie meer nie.
Ons haat dit, maar verdedig dit. Ons rasionaliseer dat ons nie anders kan nie en hou dit in stand. “Dis nou maar soos die lewe is.” “Dis die hand wat vir my gedeel is.”
Is dit? Of is dit wat jy gekies het en steeds bly kies? Die vryheid van keuse se prys is dikwels net so hoog soos die prys van hierdie “slawerny.”
In Chinees bestaan die woord krisis uit twee tekens. Die een beteken gevaar, die ander een geleentheid. Elke krisis het dié twee elemente. Die uitdaging is om die gevaar te bestuur sodat jou lewe nie in ’n groter fiasko ontaard nie. Maar ’n krisis kan ook ’n geleentheid bied: Jy kan voorraadopname maak van die verlede en patrone wat jou by hierdie krisis gebring het. Dis die kans op ’n groeigeleentheid, op beter verhoudings, ’n nuwe koers en nuwe begin.
Die woord “krisis” in Afrikaans kom van die Griekse woord “krinein” wat waterskeiding, om te besluit of te beoordeel, beteken. In Grieks word die woord in mediese terme gebruik as die draaipunt in ’n siekte. ’n Krisis is dus die kritiese draaipunt van oordeel, besluitneming of verandering. Dis ’n geleentheid van skeiding, wegdraai van die oue, ’n nuwe rigting. Soms is dit wat soos ’n doodloopstraat lyk, ’n draaipunt wat ons mis. Maar ons is so dikwels so vasgevang op ons bekende pad dat ons nuwe roetes miskyk en nie eens oorweeg nie.
Nie alles wat stukkend is, kan weer reg en heel word nie. Party probleme, soos as jy ’n geliefde aan die dood afstaan, moet jy leer aanvaar en hanteer. Ander krisisse moet dalk ook aanvaar word, maar kan beter gemaak word.
Dis belangrik om te weet wát om reg te maak, wat die probleem is. ’n Siekte kan net behandel word as jy weet wat behandel moet word. Om dit ’n naam te gee, gee jy meer objektiwiteit en begrip.
Dit verminder vrees en maak dit werkliker en hanteerbaarder.
Dis dikwels nodig om diep na wysheid en insig te delf om die naam te kan gee. Baie dinge is nie soos dit op die oog af lyk nie. Om bewus te word en te erken wat regtig aangaan, wat regtig is, is die eerste tree uit die slawerny.
Oefen om na jou intuïsie te luister. Vra vrae. Sien. Hoor. En reageer op wat jy weet reg en waar is. Om toe te maak, te ontken, te vermy en te begrawe uit vrees vir die teleurstelling en pyn, haal jou in. Erger nog: dit maak stukke van jou dood. Dit maak jou dood as jy iemand anders se wil of droom lewe en nie jouself kan wees nie.
Lees ook: Van kommerkous tot koel komkommer
Verskillende keuses
Barbara De Angelis sê ons verwagtinge van onsself is hoër as in die verlede, maar ons aanhou- en uithouvermoë is minder. Ons sukkel meer om ons eie foute en probleme en dié van die wêreld om ons te hanteer. Ons lewe in ’n verbruikerswêreld waar ons eenvoudig weggooi wat nie werk nie en selde nodig het om die fout te soek en dit te probeer regmaak.
Jy kan nie op dieselfde plek bly en vorentoe gaan nie. Jy móét kies. Jou lewe – gevoelens en denke – is gewoonlik die resultaat van ’n keuse. Om nie te kies nie, is ook ’n keuse. Jy kan kies om net hier te bly, of om iets te verander. Dis onsinnig om dieselfde ding oor en oor te doen en ’n ander resultaat te verwag.
Deepak Chopra sê ons het baie verskillende keuses: Jy kan kies om uit vrees te lewe en dan sal jou lewe een gesukkel en oorlewingstryd bly. Jy kan kies vir mag en beheer oor die situasie en jy sal in ’n voortdurende magstryd soms verloor en soms wen. Jy kan selfondersoek en nadenke kies en sal insig in jou situasie kry. Jy kan kies om jou situasie te herskep en dan moontlik wonders ontdek. Jy kan liefde kies, liefde vir jouself en vir ander en jouself en ander gesond en heel maak. Of jy kan kies om getrou aan jou diepste self te wees – wie jy gemaak is om te wees en dan sal jy die ongelooflike rykdom en sin van die skepping kan waardeer en geniet. Maar dis nie maklik nie, ook nie sonder pyn en swaarkry nie.
Insig en ’n visie van wat jy behoort te doen, sonder dóén, bly net ’n droom. Maar optrede sonder visie word ’n nagmerrie. Dink net hoe kan jou lewe wees as jy so geneig was om probleme en die waarheid te vat en te hanteer, as wat jy dikwels kies om jou oë daarvoor te sluit. Begin doen en leef verandering – al is dit seer.
Janine* het juis dit gedoen. Vir haar was die doodloopstraat van haar beroep én huwelik ’n nuwe begin. “Toe alles my platslaan, toe dit voel asof daar niks meer van my of my lewe van 38 jaar oor is nie, toe het ek min besef dis die begin van die beste tyd van my lewe. Dit wat ek so gevrees het – verwerping en om haweloos te wees – word toe my redding. Ná jare in die onderwys het ek my pos verloor. En my man het my gelos. Ek moes by familie gaan bly vir ’n dak oor my kop. Kan jy weerloser, magteloser, moedeloser en verwarder voel?
“Maar op ’n nuwe, vreemde plek het ek begin klere maak om te oorleef. Saterdae vlooimarkte. Nou, ’n paar jaar later, ontwerp ek vir my eie boetieks. Ek het ’n sukses van my lewe gemaak. Ek het goeie tye saam met my kinders en die liefde in my lewe.”
By ’n kruispad moet jy eerlik raak en kies. Dis jou verantwoordelikheid. Jy is verantwoordelik vir wat jy dink, voel en hoe jy optree. Jou keuse het gelukkig en ongelukkig altyd ’n prys: Die prys wat jy betaal en die prys wat jy ontvang. Jou lewe en omstandighede is op die ou end die resultaat van die keuses. Al kan jy nie die voëls van hartseer en rampe wat oor jou kop vlieg, kies nie, kán jy kies dat hulle nie in jou hare nesmaak nie.
Mense reageer meestal só op krisisse
- Party kyk met ’n donkerbril en sien net die negatiewe en die gevaar. Hulle is oorweldig en sien dit as ’n onomkeerbare katastrofe wat niks goeds kan bring nie.
- Party vermy die probleem, vermy die waarheid, die werklikheid, verandering, enige risiko’s, konfrontasies, om iemand dalk teleur te stel, of om hul eie vrese te konfronteer.
- Sommige ontken die werklikheid en sê alles sal regkom sonder om werklik aanpassings te maak.
- Ander onderdruk en sluit hul eie gevoelens af sodat hulle later byna voeling met alle emosie verloor. Om jou af te sluit, of jou emosies te vries, beskerm jou nie teen pyn en seerkry nie, maar bou koue mure om jou wat jou afsluit van passie, nabyheid en intimiteit met ander.
- Ander blameer iets of iemand anders sonder om enige verantwoordelikheid vir die situasie te aanvaar, en word dan ’n verontregte martelaar.
- Sommige mense sien ’n krisis as deel van die lewensiklus van groei en snoei. Dis vir hulle ’n oproep om wakker te word en aan te pas, te verander en te groei.
Wat doen ek by ’n kruispad?
- Dis moeilik om te besluit waar en wanneer om te begin, of wanneer om te stop.
- Doen wat voor die hand liggend gedoen moet word dat jy oukei bly: Sorg vir genoeg slaap, reg eet en oefening. Al is dit hoe moeilik.
- Wees stil. Gee jouself tyd vir nadenke. Stiltyd om jou ware self te ontdek.
- Luister na jou binnestem en intuïsie: wat jy binne sien, hoor, aanvoel – ’n diep wete; die stem wat jou verbind aan groter wysheid en insig en wat nie vrees nie.
- Maak voorraadopname: Dis ’n tyd om eerlik prioriteite te bepaal en te suiwer. Wat is regtig belangrik?
- Konfronteer jou skadukant, motiewe, denkpatrone en verlede.
- Gee die probleem ’n naam.
- Luister na ander met ’n oop gemoed.
- Praat jou hart uit met iemand wat jy kan vertrou vir wysheid en perspektief.
- Laat sterf dit wat uitgedien is. Laat gaan dit wat nie meer kan of mag lewe nie: ou negatiewe gelowe, gedagtepatrone, optredes of verhoudings. Jy kan nie sinvol bou met ’n troffel in die een hand en ’n swaard in die ander een nie.
- Rou en huil oor wat jy verloor en agterlaat.
- Vervang dit wat jy laat sterf of laat gaan het deur ander gelowe, gedagtes, optredes of verhoudings.
- Dink positief: Ons gedagtes hou ten nouste met ons gevoelens verband, bepaal ons optrede en skep so ons realiteite. Oorlog en vrede begin by ’n gedagte.
- Kies met wysheid vir ’n rigting wat goed is en op ’n langer termyn vrede, liefde en geluk kan bring, en nie wat op die oomblik die gewilde keuse sal wees nie.
- Vertel jou voornemens en planne vir ander mense.
- Doen iets wat help en bydra tot ’n oplossing of verbetering van die situasie. Vra jouself af: Maak wat ek doen die situasie beter, of hou dit die probleem of situasie in stand of vererger dit?
- Geniet die proses. Fokus op klein dingetjies om te geniet en te waardeer
Bron: Barbara De Angelis: How did I get here?
*Skuilname is gebruik en verhale is met betrokkenes se goedkeuring vertel.
Lees ook: Wanneer trooswoorde nie troos nie