Kristen Stewart laat ’n mens aan ’n luilekkersomermiddag dink. Sy lyk effe lusteloos en haar halfmas-oë laat ’n mens sommer ook lui voel. Haar stem klink soos ’n ou motor wat nie soggens aan die gang kan kom nie. Haar woorde tuimel vinnig uit haar mond, gevolg deur ’n skielike stilte wanneer sy besef dat almal aan haar lippe hang. Dan byt sy op haar lip, laat sak haar oë en mompel en strompel deur die res van haar antwoorde.
Sy staan haar plek in die kollig vol, en hou ’n mens se aandag op die silwerdoek, maar eintlik wil sy net met die omgewing saamsmelt en glad nie opvallend wees nie. Maar sy sal nooit daardie soort vrou wees nie, daarvoor is sy te mooi en te talentvol. Haar eerste hoofrol as Bella in die Twilight-reeks (2008) het al van haar ’n huishoudelike naam gemaak. Boonop het sy en haar vampierkêrel, gespeel deur Robert Pattinson, in die werklikheid ook ’n paartjie geword tot hul verhouding tot ’n einde gekom het toe intieme foto’s van haar en Rupert Sanders, die ouer en getroude regisseur van Snow White and the Huntsman, in ’n skindertydskrif was. Tienerharte wêreldwyd het in stukkies gebreek. Kristen het op die oomblik ’n verhouding met ’n vrou. Die stories oor haar stormagtige liefdeslewe laat die koerante verkoop maar daaragter skuil ’n jong meisie wat in die openbare oog moet leef, haarself probeer vind en vir meer as net haar roem bekend wil wees.
Kristen was onlangs ook in Woody Allen se Cafe Society te sien.
Watter eienskap van Allen het jou die meeste verras?
Soos baie van my gunstelingregisseurs het hy sy eie manier van werk. Hy laat jou toe om jou rol te besit en is regtig nie besitlik oor sy fliek nie. Vir iemand wat flieks maak met so ’n kenmerkende styl was sy informele manier van werk vir my ’n verrassing. Ek het gedink hy sou meer leiding gee, hoewel hy bekend is daarvoor dat hy nie van lang gesprekke of repetisies hou nie. Die tonele in sy flieks rol by ’n mens verby, amper soos wat dit in die werklike lewe is. Dis vir my baie interessant.
In die fliek het jou karakter ’n affair met haar baas. Hoe blootgestel, dink jy, is ’n jongmens wanneer jy jou in so ’n situasie bevind?
Dit is vir my moeilik om my persoonlike en professionele lewe te skei. Ek het ook nie ’n kantoorwerk nie maar ek het begrip vir haar situasie – ’n verhouding kan maklik ontwikkel wanneer daar iemand by die werk is by wie jy aandag en stimulerende geselskap kry. Ek dink die twee mans in die fliek bring elkeen ’n ander kant van haar na vore.
Het dit al met jou gebeur? Dink jy jou lewe sou anders verloop het?
Ja. En ek dink dis natuurlik om te wonder oor wat sou gebeur het.
Daar is verskillende soorte liefde – kameraadskap, intellektuele en seksuele liefde. Watter een is vir jou die belangrikste?
Daar is vir seker verskillende aspekte aan die liefde en net omdat jy dit dalk nie kan identifiseer nie, beteken dit nie dis nie waardevol nie. Of net omdat dit nie konvensioneel is nie, beteken dit nie dis nie belangrik nie. Ek kry by elkeen van my vriende iets anders. Ek kan nie ’n gunsteling kies nie, want elkeen help my om ’n ander kant van myself uit te leef. Ek is anders by elke mens met wie ek in aanraking kom.
Wat sou jy doen as jy vir een dag anoniem kon wees?
Ek dink ek sou net wou rondloop. Ek mis dit om na inkopiesentrums toe te gaan en mense te bekyk. Nou staar hulle na my. Ek is mal daaroor om mense dop te hou en te kyk hoe hulle dinge doen. Dis hoekom ek ’n akteur geword het.
Wat het jou die meeste van die rolprentbedryf verras?
Ek was nege toe ek begin werk het. My ma was ’n draaiboek-konsultant en my pa ’n verhoogbestuurder. Ek het my as ’n spanlid beskou. Die hele proses en energie het my aangetrek en ek het dadelik geweet dis wat ek met my lewe wou doen. Dit was vir my verrassend dat elke molekule in my geskree het: “Ek is mal hieroor! Dis wat ek wil doen!”
Hoe voel jy oor Hollywood? Is dit opbouend en inspirerend, of ’n donker, afbrekende plek om in te werk?
Ek dink dit hang af van hoe jy daarna kyk. Jy kan fokus op die dinge wat saak maak en dit wat jou definieer. Baie mense is meer bekommerd oor hoe dinge lyk en hoeveel geld hulle maak. Maar dis nie al waaroor Hollywood gaan nie. Ek dink daar is heelwat mense wat nader aan mekaar wil kom deur stories te vertel en flieks te maak. Ek sien nie neer op die mense wat dit anders doen nie – ek doen dinge maar net op my manier.
Waar is jy nou in jou loopbaan?
Ek het gewoonlik werkontploffings en dan weer stiller tye. Ek het in een jaar in vyf flieks gespeel. Daarna wou ek ’n bietjie leeglê. Ek het toe ’n kortverhaal geskryf wat ek nou verfilm het. Ek het die regie ook gedoen. Ek kan nie sê hoe heerlik dit vir my was nie. Dit was my eerste tree in die regisseurswêreld. Ek dink nie daar is so ’n groot verskil tussen toneelspel en regie nie. Toe ek vir Jodie Foster vertel dat ek die fliek gaan maak, het sy gesê: “Die eerste ding wat jy gaan leer, is dat jy nie veel het om te leer nie. Jy is heeltemal gereed hiervoor.” Dit was ongelooflik motiverend.
Hoe voel jy oor die mode?
Ek het ’n liefde-haat-verhouding met mode. Wanneer ek daarvan hou, is ek mal daaroor. Wanneer dit jou laat goed voel en jou inspireer, is dit fantasties. Ek kan skoonheid waardeer, maar iets wat vir iemand anders mooi is, is nie noodwendig my smaak nie.Mode is oppervlakkig, ja, maar jy kan tog ’n dieper betekenis daaruit put as jy wil.
Wat is jou grootste uitdaging?
Toe ek jonger was, het die onbekende my angstig gemaak. Ek het nie daarvan gehou om nie te weet wat gaan gebeur nie. Maar ek het geleer om gemakliker daarmee te wees en eintlik hou ek nou van daardie gevoel, van daardie onsekerheid. Dis goed om nie altyd te weet wat met jou gaan gebeur nie. Ek hou daarvan om mense beter te leer ken, dis hoekom ek so baie van my werk hou. Dis die rede waarom ek elke oggend opstaan.
Hoe lyk jou klerekas?
Ek het deur die jare ’n paar van my Met Ball-rokke gebêre maar gewoonlik moet ons die klere teruggee. Ek het ’n hele muur wat met tekkies toegepak is. En ’n groot rak vol T-hemde. Ek het ’n klein afdeling vir Chanel, maar dis tien teen een nie indrukwekkend genoeg om enigiemand te beïndruk nie.
Is jou hart al ooit gebreek?
Ja, heeltemal stukkend. Ek was platgeslaan.
Hoe maak jy ’n gebreekte hart weer heel?
Jy sit net een voet voor die ander. Elke oomblik wat ek gevoel het of ek wil doodgaan, het my lewe verryk. Ek sal niks daarvoor verruil nie. Die slegste ding wat met jou kan gebeur, is as jy ophou om iets te voel. Die lewe is onvoorspelbaar. ’n Mens moet verantwoordelikheid vir jou eie geluk aanvaar. Dit help nie om iemand anders kwalik te neem of spyt oor iets te wees nie. Jy kan eers gelukkig saam met iemand anders wees as jy gelukkig is met jouself. Jy moenie pyn probeer vermy nie, dis goed vir jou.