Snaaks hoe, as mens nou maar eenvoudig só deel van die meubels geraak het soos ’n skwiekende skarnier, jou kinders met nuwe oë na jou kyk die slag as jy op ’n Maandaglaatmiddag skielik aankondig dat jy ’n yslike vryskutprojek het wat jou moontlik “dag en nag” gaan besig hou vir die volgende twee weke.
“Maar, wie gaan ons skool toe vat?” vra die jongste een grootoog – vermoedelik met ’n knerts opportunisme.
“Mamma sal mos nogsteeds vir ons skool toe néém, Domkop!” sê die ouer een, effe iesegrimmig omdat hy in sy enigheid seker sy eie wonders wonder oor wat hierdie nuwe “dag en nag”-affêre van die binnenshuise bykomstigheid genaamd sy ma, nou eintlik beteken.
Dit is immers oor ’n week toetsreeks en die ma en huishouding se fokus behoort mos daarop te wees?
Alles sal nog steeds dieselfde wees as julle by die huis is, verseker ek hulle. Behalwe dat die huis bes moontlik nie silwerskoon gaan wees nie. Die skoolklere dalk ook nie alles betyds gewas nie, maar, hei, moenie pouse op die rugbyveld rondgly nie en jou broek se knieë behoort dit te oorleef vir ’n ekstra dag of wat.
Inkopies gaan ook tot die supermark op pad skool toe beperk word en as jy Dinsdagmiddag vergeet om te sê jy het boeke wat oorgetrek moet word, moet jy Woensdagoggend maar tevrede wees met ’n rol plastiek “vol fronse” (soos die boekoortekker) wat agter uit die skryfbehoeftekas gered is.
“Hoekom sê Mamma nie eerder nee nie?” vra ’n aweregse kind op pad skool toe.
“Want. Dis my werk. En, dis ’n slag werk waarvan ek hou!” antwoord ek.
Sie sy nou my motiewe bevraagteken?
Ek wonder of ma’s wat voltyds werk, dit dalk makliker het wat betref die kinders se aanvaarding van die status quo?
Of raak almal maar net mettertyd gewoond daaraan? My kinders is gewoond dat ek meestal toegegooi is met huishouwerk soos stofsuig, wasgoed en skropwerk, maar ook nou en dan ’n vryskutwerkie het. Hulle is minder gewoond daaraan dat ek ’n slag met iets anders as hulle en die huishouding besig is.
Ek het lank gelede reeds ophou skop teen die prikkels en aanvaar dat my jongmeisiedrome van ’n spoggerige werk by ’n uitgewer of tydskrif in die stad, eers op die lange baan geskuif word. Al is dit met tye erg uitputtend om voltyds ma en huishoudster te wees, weet ek dit is ’n seisoen wat in ’n oogwink verbygaan. As jy as die kroos nog jonk is, bietjie meer tyd aan hulle kan spandeer – ten koste van jouself en jou begroting – glo ek dis die gebrek aan ’n salaris en ek-tyd werd.
Maar, dit verander nou nie veel aan mý status quo van 18 257 woorde waarvan slegs nog 2 100 na vier ure se vryskuttyd vertaal is nie. Dit is darem 100 woorde meer as my raming van 2 000 woorde per dag voor die spertyd. Die hoop beskaam dus nie dat ek nog my pligte as vloermopper, skoolklerewasser en taxidrywer ook sal kan nakom alvorens die spertyd verstryk nie. Maar, die res van die week lê daar nog ’n redenaarsaand, koekverkoping en provinsiale spelkompetisie voor. Gelukkig het die dag ’n nag se ure ook.
“Dink net as dit al tien jaar later was en ons was nou in die vliegtuig op pad Frankryk toe?” sug die agtjarige gisteraand na haar aandete en 250 woorde van die 1 500-lys se hardop spel vir die naweek se kompetisie.
“As ek en Mamma in Frankryk bly, sal daar nie sulke goed soos spertye en kosblikke pak wees nie,” sê sy en kyk so teen haar neus af na die toebroodjie wat ek in haar ouboet se kosblik pak. Sy háát brood. Ek wonder wat die speelterreinjuffrou se mening is oor die Genade-dramakwien se kosblik vol kersietamaties en wortels.
“Jy moenie dink dat jy in Frankryk gaan beland met jou staplers nie!” brom haar ouboet vererg.
Hy kyk afkeurend na Kleinsus se pienk teddiebeer wat op die kombuistoonbankblad poseer met sy nuutste helderpers-en-groen pullover-nuutskepping met krammetjies op die nate geheg.
“Wag, maar!” blits sy sussie terug. “Wag maar nét tot ek beroemd is met my modeontwerpe!”
Na sy asem geskep het: “En, moenie dink jy gaan sommer kan kom rondlê in ons Franse woonstel nie, hoor? Ek en Mamma gaan hard werk om in Parys te bly. Dis nie sommer so lekker-lekker-iemand-sorg soos ons in Worcester bly nie, hoor!”
Ek grinnik by myself. Want, of mens nou in Worcester vir jouself of vir ’n “lekker-lekker-iemand-sorg”-huishouding of vir ’n reeks kliënte werk – en of jy dalk met ’n krammasjien modes vir die loopplanke in Parys optower: Drome is harde werk. En, die lewe meng soms in daarmee. Maar, mens moet nooit ophou drome droom nie. Al moet jy soms die drome en die lewe met ’n krammetjie of twee aan mekaar heg.