’n Bibberkoue winter. Beurtkrag. Om my rys die magies een vir een … paddastoele in die tuin, dink ek. Blosend erken hul dit: ek is swanger, ons is swanger, daar’s ’n baba op pad, daar’s twee baba’s op pad. Party blaker die nuus al op vyf weke uit, met ’n senuagtige “Jy’s al wat weet. Moet asseblief vir niemand vertel nie. Hou dit stil, niemand weet nie … asseblief! Hou dit stil.” Vir ingeval jy nie gehoor het nie. Net sodat jy kan agterkom eintlik weet almal lank reeds. Die geheim is uit. Ander wag suutjies tot op twaalf, dertien weke en deel dan elke mylpaal met ál wat leef en beef.
Naar, naarder, naarste. Jy hoor stories van blombakke, asdromme in winkelsentrums en beddings by vyfsterhotelle wat nooit weer dieselfde sal wees nie. ’n Happie droë brood, ’n piesang, ’n koppie rooibostee, gemmerkoekies, ’n bed. Raad, raad en nogmaals raad.
Maand-na-maand plak die brawes die sonarfoto’s op Facebook en Pinterest, sien ons selfies van ma’s wat oorgee, meegee en sywaarts hul groeiende boepies in die spieël afneem. Aanvanklik blosend energiek, braaf in bultende broeke, later word die foto’s minder. Moedeloos en moeilik. Alles knel, trek en rek, tot dit nie verder kan rek nie. Jy, sy en hy stry jul eie stryd. Daar’s koors, kinderkoors, die wêreld oor.
Gister land die kaartjie in my posbus. ’n Regte posbus by die poskantoor, nie die elektroniese een op my lessenaar, in my handsak of in my hand nie. ’n Internasionale posseël, geplak op ’n regte koevert. Binne-in ’n pienk kaartjie, al die pad van Sint Pancras, Nederland. Om ons te vertel dat kleine Sofie Kathelijn, dogter van Fred en Carolien, susje vir Niels en Thijs gebore is:
Het is en blijft bijzonder.
Welkom, lief klein wonder.
Kraamfeest, 20 September
Dis ’n Hollandse ding, dié geboortekaart, dié kraamfeest. Iewers lees ek: “Het begon zo rond 1850 met het versturen van geboortebrieven. Die kregen in de loop der tijd een leuk randje en zo kwam het dat rond 1940 rijke mensen echt geboortekaartjes gingen versturen. . . “En dan die fees – ’n paar weke na die geboorte kan almal kom kyk, en “kan iedereen even met je kindje knuffelt.”
Ek wonder vlugtig hoe kry jy in twee dae ’n visum en ’n vliegtuigkaartjie? Hoe organiseer jy jou eie huis en haard? Hoe kry jy tyd om met dié kindjie te knuffel?
Want dis tyd vir ’n kraamfeest. ’n Kind is gebore.
Het is en blijft bijzonder.
Welkom, lief klein wonder.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za