Ek dink ons almal is dit eens dat goeie grond die heel belangrikste element in jou tuin is. In deel 1 het ons bokasji-lasagnebeddings bespreek en in deel 2 hoe jy kosafval met bokasji behandel en dit dan in jou tuin gebruik. In deel 3 het ons aandag gegee aan die voordele van erdwurms in jou tuin en jou eie wurmboerdery. Deel 4 het verduidelik hoe die mikro-organismes en erdwurms met mekaar saamwerk om humus te vervaardig om goeie grond te bewerkstellig. Deel 5 het gehandel oor die posisie van jou tuin en vertikale tuine en in deel 6 het ons gekyk na die verskillende style vir jou kostuin.
Voordat jy kan heengaan om ’n tuinplan te teken en aan jou tuin begin bou, is dit egter belangrik om ’n bietjie stil te staan en te besin oor die filosofie vir jou tuin. Hoe wil jy dit hanteer? Tot watter mate wil jy saam met die natuur werk?
Dit is waar koswoude in die prentjie pas. Koswoude is meer ’n filosofie as wat dit ’n metode is. Plante word op so manier geplant dat dit die natuur sover as wat dit menslik moontlik is, naboots. Koswoude boots die argitektuur en voordelige verhoudings van ’n natuurlike plant- en diergemeenskap wat in ’n spesifieke klimaat sou voorkom na. Alhoewel dit nie natuurlik is nie, word dit nietemin so ontwerp en bestuur dat die ‘nuwe’ ekosisteem ryk is aan biodiversiteit en gevolglike produktiwiteit.
’n Groot piramiedvormige raam van ’n paar meter hoog kan byvoorbeeld pampoene en boontjies gelyktydig huisves. Die plante sal elkeen na behoefte lig soek (en vind). Boonop sal die boontjies stikstof in die grond terugsit tot voordeel van die ander plante wat daar geplant is en later geplant sal word. Terwyl die pampoene en boontjies groei, kan ander vinniger gewasse soos radyse en blaarslaai op die oop grond geplant word en teen die tyd dat die pampoene en boontjies die spasie in beslag neem, is die vinniger soorte reeds geoes. Die blaarslaai se wortels word sommer in die grond gelos en net die boonste deel word afgesny. Mikro-organismes, erdwurms en ander voordelige grondwerkers sal toesien dat dit komposteer word en die grond verryk.
Onkruid word afgeknip en as groen deklaag op die grond gelos eerder as om dit uit te spit en die grond te versteur. Hoendertjies beweeg in ’n hoendertrekker in die tuin rond sodat die hoenders kan help met die verwydering van tuinplae soos slakke en hul eiertjies wat vlak in die grond lê, en om dit sommer terug te sit as bemesting deur hul mis. Deklae wat stikstof bind, word aangeplant om die grond verder te voed. Dit word dan opgevolg met aanplantings van groente van jou keuse.
In ’n koswoud is daar ook nie net kos vir die tafel nie. Daar is ook vrugtebome en ander plante wat as kos dien vir die ander lewe in die ekosisteem wat jy besig is om te vestig. Daarom plant jy vrugtebome, neutbome, struike, rankplante soos grenadellas en druiwe, en meerjarige groente en kruie wat nie net tot jou eie voordeel is nie maar wat ook bye, voëls en ander nuttige diertjies soos akkedisse en verkleurmannetjies lok.
Op hierdie manier vestig jy dan ’n tuin wat baie lae instandhouding verg en met jou hulp ’n byna selfversorgende eko-siteem word.
Bron: www.permaculture.org