Waar
Soek ’n sonnige plekkie vir jou kombuistuin. Dit hoef nie heeldag son te kry nie en oggendson is beter. Namiddagson kan in die somer nogal baie warm raak en sommige plante dalk brand.
Spasie en styl
As jy nie plek het om beddings te bou nie, kan jy enige houers gebruik. Ou plukkratte of selfs kleiner houers werk goed. Spasie is nie ’n verskoning nie, so moet dit nie as ’n rede gebruik om weg te kom van hierdie manier van tuinmaak nie. Jy kan selfs tuin op die dak maak. Gebruik ’n kompossak wat met potgrond gevul is en sit bottels vol water (sonder proppe) onderstebo daarin vir besproeiing.
Vertikale tuine is deesdae baie gewild. Dit wissel van plantrakke of bakkies wat met rame wat teen ’n muur gemonteer word of panele wat met grond gevul word en teen die muur vasgesit word. Sulke panele is nogal duur, maar redelik vrylik beskikbaar by kwekerye. Jy kan ook jou eie maak, soos op die foto onder. Vir verskillende maniere om jou eie vertikale tuin te maak, klik hier.
Indien jy wel spasie het, is daar ’n hele paar opsies. Dit kan ’n gestruktureerde gevlegde tuin (‘knot garden’) of potager wees, ’n blokkiestuin of bloot informele meer plaaslike styl. Volgende keer kyk ons in meer besonderhede hierna.