Dr. Nerina Wilkinson van Kaapstad doen al die afgelope tien jaar vulvaverkleining (labiaplasty) waar die binneste velvou van die vroulike geslagsdeel verklein word. “Aanvanklik was dit die uitsondering dat vroue vir so iets gevra het, maar die laaste paar jaar kry ek ongeveer honderd versoeke per jaar waarvan ek ongeveer vyftig goedkeur vir die prosedure.”
As jy na jou asem snak en wonder of jy die enigste vroulike wese is wat nog nooit oor die voorkoms van jou geslagsdele gewonder het nie, het jy nog nie vir Dr. Gary Alter en kollegas van die realiteits-TVreeks, Dr. 90210, gesien nie. Daar kan jy op die groot skerm sien (die beeld word darem verdof sodat niks onbehoorliks wys nie) hoe dames vet aan hul geslagsdele laat uitsuig, deeltjies wat te lank is, verkort, en slap plekkies regtrek. Ongehoord? Nee wat, sê Dr. Paul Skoll, plastiese chirurg van Kaapstad, wat al self sestig prosedures op sy kerfstok het.
“As dit aanvaarbaar is om ’n groot funksionele neus te verruil vir ’n kleiner pikante model, is daar geen rede waarom vroue nie aan hul geslagsdele mag verander nie. Dis nie hoogheilig en onaantasbaar nie. ’n Kosmetiese chirurg is nie daar om iets wat abnormaal is te verander in iets wat normaal is nie. Eerder om ’n liggaamsdeel te verander na iets waarmee die pasiënt gemaklik voel.”
Dr. Skoll sê mense het ’n verwronge opvatting van perfeksie.
“Daar is nie iets soos normale of abnormale labia nie. Maar kandidate vir vulvaverkleining voel dat die binneste labia nie by die buitenste labia moet verbysteek nie.”
Hoewel van sy paiënte ’n funksionele oorweging het (soos perderuiters of fietsryers wat ongemak ervaar), doen die meeste vroue dit om kosmetiese redes. En die terugvoering? “Almal is soveel gelukkiger agterna.” Daar is ook heelwat vroue wat kla dat verlengde labia in die pad kom tydens gemeenskap.
Sy pasiënte se ouderdomme wissel van 14 tot 62 en volgens hom is dié vroue as ’n groep niks anders as die deursnit vrou nie.
“Dis nie ontkleedanseresse en pornografiese modelle nie.” Hy het ook nog nooit ’n pasiënt gehad wat hierdie prosedure aangevra het met die hoop dat dit seksuele plesier sal vergroot nie. Tog het kosmetiese chirurgie tot gevolg dat mense beter oor hulself voel, sê hy.
“Kosmetiese chirurgie is chirurgie vir die siel. As ’n vrou selfbewus is oor haar geslagsdele kan dit vrymoedigheid en plesier tydens seks beïnvloed.”
“My jongste pasient van 14 was ’n verwysing van ’n ginekoloog omdat sy groot ongemak verduur het as sy perdry. Dit was pynlik en sy het by haar ginekoloog om hulp aangeklop. Haar labia was effens vergroot, maar niks abnormaal nie. Ná die verkleining is sy baie gelukkig en het geen ongemak meer nie.” Tog is funksionele oorwegings in die minderheid (volgens ’n studie, so 26%) en is dit eerder om kosmetiese redes dat 87% vir vulvaverkleining vra. “Moet dit asseblief nie met skending van die geslagsdele (genital mutilation) verwar nie, maan Dr. Skoll. “Dit word nie gedoen om seksualiteit te verhoog nie en het niks met erotika te doen nie.”
Dr. Nerina Wilkinson is verbaas oor die groot hoeveelheid jong meisies wat toustaan vir ’n vulvaverkleining. “Dit het ’n mode-chirurgie geword en ek waarsku altyd dat die voorbeelde wat mense in pornografiese films of -tydskrifte sien, verwronge beelde is wat baie keer digitaal verander word en dus nie normaal is nie.” Haar pasiënte wissel hoofsaaklik in ouderdom tussen twintig en veertig met ’n groter groep in die twintigs. “Hoewel daar hier en daar ’n pasiënt is wat wel ’n funksionele probleem het, is dit meestal vir kosmetiese redes.” Sy glo dat soos daar geen mediese rede is om jou borste te vergroot nie, maar dit ’n vrou se lewe positief kan verander, geld dieselfde vir plastiese chirurgie aan die geslagsdele.
Buiten vulvaverkleining doen sy ook prosedures waar vet wat elders uit die liggaam gesuig is, gebruik word om van die geslagsdele soos die labia majora (die buitenste velvou) voller te maak of vetuitsuiging uit die mons pubis (die heuweltjie op jou skaambeen) as dit te prominent in swemklere vertoon. Soos met enige operasie is daar risiko’s, sê Dr. Wilkinson. Dit word meestal onder lokale verdowing in ’n dagkliniek gedoen en gewoonlik herstel pasiënte vinnig met byna geen littekenvorming nie. Tog kan dit gebeur dat pasiënte oormatige littekenweefsel vorm en agterna pyn tydens gemeenskap kan hê. Sy vertel van ’n pasiënt wat ná ’n jaar teruggekom het en gekla het van pyn hoewel daar oënskynlik geen rede daarvoor was nie. Sulke pyn kan ook sielkundig van aard wees.
“Dis egter die uitsondering en die meeste pasiënte sê dis die beste besluit wat hulle nog geneem het.”
Risiko’s
Vroue wonder dikwels of ’n vulvaverkleining sensitiwiteit in die labia kan benadeel. Volgens Dr. Skoll is daar geen groot senuwees in die labia nie, maar dis nie onmoontlik dat dinge kan skeefloop nie.
“Hoewel daar verskeie tegnieke is vir vulvaverkleining berus dit eerder op die vaardigheid van die individu as die tegniek. As dit reg gedoen word, behoort daar geen verlies aan sensitiwiteit te wees nie. Die probleem ontstaan soms waar die labia getrek word en ’n deel afgeny word. Dan kan dit gebeur dat ander onderliggende weefsel ook verwyder word of dat die hele rangskikking van die geslagsdeel verander word tot nadeel van sensualiteit.”
Wat sê die ginekoloog?
’n Vroulike ginekoloog in Johannesburg, wat anoniem wil bly om haar pasiënte te beskerm, reken dat hoewel dit modechirurgie geword het, dat dit tog nodig is, al is dit by ’n klein minderheid. Sy behandel ’n vyfkampatleet wat daagliks ’n paar uur op ’n fiets deurbring. Die atleet het verlengde labia wat ná ’n dag in die saal rooi en seer is. Sy sukkel ook met chroniese ontstekings van die sebumkliertjies weens die konstante wrywing. Hoewel die ginekoloog al verskeie vertoë aan haar mediese fonds gerig het vir befondsing, weier die mediese fonds op die gronde dat dit kosmeties is. Sy het ook ’n pasiënt gehad met sulke verlengde labia dat dit geneig was om by haar swembroek uit te hang. “Ek het dit in ’n suksesvolle operasie verkort.” Tog pla verlengde labia nie vir almal nie. “Heelparty van my pasiënte het effens verlengde labia, maar die meeste van hulle het geen probleem daarmee nie. Daar’s ook kulture soos die Basothos, waar jong meisies vroeër hul labia gerek het om hul seksuele aantreklikheid te verhoog.”
En die seksoloog?
René Raff is ’n seksoloog in Kaapstad en het ’n baie sterk standpunt oor vulvaverkleining en enige verwante chirurgie aan geslagsdele. Sy is wel ’n groot voorstander van plastiese chirurgie as daar ’n werklike funksionele behoefte, ’n geboortedefek of trauma aan die geslagsdele is.
“Wie weet hoe perfekte labia moet lyk? Seksualiteit het nie met grootte en voorkoms te doen nie en jy gaan nie ’n seksuele verhouding met chirurgie red nie.”
Sy glo die samelewing het ’n obsessie oor estetika ontwikkel, wat mense ontoereikend oor hulself kan laat voel, en die media en realiteits-TV het ’n groot aandeel in dié misplaasde fokus. Sy voel dat ’n behoefte kunsmatig geskep word.
“Ek dink dis baie hartseer. Dis gewoonlik mense met ’n selfbeeldprobleem en hulle blameer foute in hul voorkoms, wat nie eens daar is nie, vir hul lae selfbeeld. Boonop raak mense verslaaf aan plastiese chirurgie en vind altyd iets nuuts wat hulle wil verander.”
René voel mense moet minder op seks fokus en eerder op hul persoonlikheid binne ’n verhouding staatmaak. “Mense gaan van jou hou vir wie jy is en nie vir die grootte of voorkoms van jou labia nie. Dié soort gedrag by jonger mense dui op ’n ontevredenheid met hulself en kan tot ander verwronge persepsies oor hul voorkoms lei. Berading gaan van meer hulp as plastiese chirurgie wees.”
Vernuwing ís moontlik?
Dr. Julian Bassin is die enigste dokter in Suid-Afrika wat vaginale vernuwing met laser (laser vaginal rejuvenation) doen en het sedert 2007 al honderd prosedures gedoen. “Ek kry daagliks navrae, maar omdat die prosedure ongeveer R30 000 kos en nie deur mediese fondse gedek word nie, kan min mense dit bekostig. Die meeste kandidate is vroue tussen twintig en veertig jaar wat ná kindergeboortes voel dat hul vagina verslap het en dat daar ’n afname aan seksuele plesier is.”
Tydens die prosedure word van die oortollige binnewand van die vagina deur ’n snit met ’n laser verwyder en dan weer met steke geheg. (Soortgelyk aan ’n pylnaat). “Die laser gee ’n meer presiese snit met minimale bloeding en het ’n vinniger hersteltyd.” Die onderliggende verslapte spiere word ook stywer gemaak en as daar ’n prolaps (uitsakking) van organe soos die blaas is, word dit ook reggemaak. Dit help ook om stresinkontinensie (waar jy nie jou urine kan keer as jy lag of hoes nie) te korrigeer. Die prosedure kan met ’n epiduraal gedoen word, maar die meeste mense verkies ’n algemene narkose en pasiënte slaap minstens een nag in die hospitaal oor. Hoewel daar altyd risiko’s aan enige operasie verbonde is, het sy pasiënte nog geen komplikasies, buiten ligte infeksies, gehad nie. “Die area herstel gewoonlik baie vinnig omdat daar goeie bloedtoevoer is. Ek sê ook altyd vir pasiënte dat ons eerder konserwatief moet wees as om te veel te verwyder.”
Pasiënte is vol lof vir die prosedure en voel dat dit hulle selfvertroue gee. ’n Pasiënt in haar dertigs wat vaginalevernuwing en ’n vulvaverkleining gehad het, skryf in ’n e-pos aan Dr. Bassin:
“Hoewel ek aanvanklik dalk negatief oor die resultate gevoel het, is ek nou, 6 maande later, in ekstase daaroor. Ek het nou selfvertroue en my sekslewe is wonderlik.”
Wat is dit presies?
Vulvaverkleining (Labiaplasty) is van die gewildste chirurgie aan die vroulike geslagsdele. Labia beteken lippe in Latyn en vroue het ’n labia majora (dis die buitenste velvoue of “lippe” van die vroulike geslagsdele) en labia minora. Die binneste velvou (die labia minora) is die deel wat tydens so ’n operasie verklein word. Dit kan gedoen word deur die oortollige deel af te sny of anders kan ’n gedeelte in die vorm van ’n wig verwyder word terwyl die kante behou word.
“Die tegniek word deur die probleem bepaal,” sê Dr. Wilkinson. Daar’s uiteenlopende redes waarom vroue so ’n operasie wil laat doen. In een groot studie is bevind dat 87% dit om kosmetiese redes doen, 84% het gesê styfpassende klere skep ’n verleentheid, 62% dat dit probleme met intimiteit veroorsaak, 47% dat dit irritasies en probleme met higiëne skep en 26% het pyn tydens sport soos perdry en fietsry ervaar word. Die prosedure word onder plaaslike verdowing by ’n dagkliniek gedoen.
Vir meer inligting: Dr. Julian Bassin | Dr. Nerina Wilkinson | Dr. Paul Skoll