Tortillas
Hierdie Mexikaanse toevoubrood kan gevries word. Rooster op ’n riffelpan om te ontvries. Vul met gaar hoender, tuna of ham, oorskietslaai en ’n skeppie mayonnaise vir ’n vinnige middagete.
Bone
Hou blikkies cannelini-, botter- en snyboontjies in jou koskas. Meng met sondroëtamaties, geblikte artisjokke, gekrummelde fetakaas en basiliekruidblare vir ’n blitsige pitavulsel of slaai.
Tuna
Meng roketblare, olywe, gekookte eier, kersietamaties en ’n blikkie tuna vir ’n klassieke Niçoise-slaaipita of tortilla wrap-vulsel.
Pesto
Daar is min geregte wat nie deur ’n paar skeppies pesto opgekikker kan word nie. Deesdae is hulle beskikbaar in al wat ’n geur en kleur is. Roer deur koue pasta, noedels, geroosterde groente of gebruik as ’n smeer.
Rotis
Koop klaarbereide rotis by jou supermark en hou in die vrieskas. Vul met oorskietkerrie of -roerbraai en vat saam werk toe.
Pitas
Verhit gevriesde pitas sommer in die broodrooster. Sny die bokant oop en trek die pita oop sodat dit ’n bakkie vorm. Vul met oorskietmaalvleis, gekapte tamatie en ’n paar kappertjiesade.