Om vrij te raak deur Heléne de Clercq. Hooffoto: iStock/Alexcpt
Somer 1669
//Kabbo hou ‘n kalbassie na my uit. “Drink. Jy sal dood in dié hitte.”
“Dankie. En nou wil ek by die huis kom. Hierdie dorpsrok wurg die wilde koekemakranka uit my uit. !Nanni, as ek in klere soos joune kon rondloop, sou ek kon asemhaal.”
Ek loer na die son. “Ai, hy wag al vir my.” Die spanning steek soos ‘n stuk wurgpatat in my keel vas. “Nag julle!” sê ek terwyl ek wegdraf.
“Genoeg is genoeg, Gertruide!” sê Pa toe ek by die agterdeur instap. “As jy weer saam met daardie spul lanterfanter, en dit boonop ná sononder, bly jy tuis wanneer die volgende skip inkom! Ek het nog nooit ooghare vir daardie Kabbo gehad nie. Hy’s deesdae glad te danig met jou.”
“Sy naam is //Kabbo, nie Kabbo nie. Pa sukkel nog steeds met die klikklanke,” sê ek met geveinsde rustigheid.
Soms sien ek haat in Pa se oë. Haat en verwyt. Ons skip sou destyds saam met die Drommedaris vertrek het, maar dit was oorlaai en is vertraag. Ma – hoogswanger – en Pa was passasiers op die De Walvis, opgewonde oor hul eersteling.
En toe maak ek my opwagting ‘n maand te vroeg. Ter see. In haglike omstandighede. In daardie stadium was die meeste passasiers verswak, die drinkwater ondrinkbaar en skeurbuik algemeen. Gevolglik het my ma nie my geboorte oorleef nie, en was sy een van die 130 sterftes op daardie seereis.
‘n Week later het die De Walvis en die De Witte Olifant Tafelbaai binnegevaar. Pa was moedeloos. Ek moederloos.
“Pa is verniet bekommerd,” prewel ek.
//Kabbo en !Nanni is soos my sibbe. Ons het saam grootgeword. Ma Uma het my grootgemaak so te sê van die dag af toe ons hier geland het. Krotoa het haar na Pa gebring nadat ek twee volle dae lank my koliek oor Tafelbaai uitbasuin het.
Behalwe Hollands, het ek mettertyd geleer om Khoi en Portugees te praat. Ma Uma, //Kabbo en !Nanni is van die min Khoi-mense wat Hollands vlot praat. Nou, ewe skielik, wil Pa my verbied om met hulle vriende te wees! Omdat hy ou Herrie se mense verdink van veediefstal? Of omdat hulle anders aantrek as ons? Ek, daarenteen, vertrou //Kabbo met my lewe.
Ek kan vir Pa ander redes gee tot kommer. Soos die briewe onder my kopkussing wat die Nederlandse skeepsdokter vir my by die verversingspos gelos het. Dίt sal hom slapelose nagte besorg!
Die hoogtepunt van my bestaan deesdae is wanneer die kanon in Tafelbaai aankondig dat daar ‘n seilskip op die horison is. Dan gryp ons ons selfgemaakte krale en lapsakkies vol canna en boegoe. Dit raak nogal ingewikkeld, want “ons gewone mense” mag nie direk aan die skepe verkoop nie. Die Kompanjie het die alleenreg om handel te dryf. Private handel is taboe. Ons moet ons goedere direk aan die Kompanjie verkoop sodat hulle uit ons produkte kan wins maak.
Maar niks is sonder ‘n blink kant nie. Met daardie geld koop ons die mooiste lap waarmee ons spoggerige kappies en rokke vir die belangrike vroue op die dorp maak. So speel ons hulle spel, maar met ons eie reëls. Met die oorskietstukkies maak ons kussings en lappoppe. Speelgoed is skaars.
Dis daar by die hawe waar ek Sebastiaan Vrij sowat ‘n jaar terug stiekempies ontmoet het. As Pa moet weet! Dokter Vrij – jonk en sag op die oog – het ons oor ons kruie uitgevra, uiteraard om sy noodhulptas aan te vul vir die komende vaart. Toe ek hom sien, het ek geweet dis my ander helfte. Die manier waarop hy na my gekyk het, het my so opgewonde gemaak soos toe ons as jong kinders op ‘n druppende heuningkoek afgekom het. Besonders, helend, woordloos, stroperig.
!Nanni het eenkant gestaan en giggel. Gelukkig weet sy hoe om ‘n geheim te hou. Vier briewe later mis ek nie ‘n skip wat aan wal gaan nie. As hy ‘n man van sy woord is, behoort hy enige dag weer voor my te staan met daardie swymelende blou oë vol beloftes.
Pa skep vir ons van die ertjiesop in wat ek gemaak het voordat ek hawe toe is. Soos gewoonlik is die stilte aan tafel tasbaar.
Ek smeer botter op die brood. “Pa, kan ons nie maar die verlede begrawe nie? Pa kan nie langer Ma se dood teen my hou nie. Die bitterheid vreet Pa van binne-af op.”
“Moenie jy vir my kom preek oor dinge waarvan jy niks weet nie, Gertruide! Jy’s nog pure kind, al is jy deesdae te groot vir jou skoene – bygesê, wanneer jy wel skoene dra. Ek sal nooit oor jou ma se dood kom nie. Ons kan die verlede nie verander nie, gun my my tyd van rou.”
“Heikend Pa, intussen het ek nie ‘n ma nie, en my pa is emosioneel ook nie hier nie. Ek’s jammer dat ek haar nie mis nie, maar ek het haar nooit geken nie. Ek mis wel ‘n ma én ‘n pa. Dis nou sewentien jaar! Hoe lank wil Pa nog rou?”
Ek weet ek het te ver gegaan toe hy die deur stormloop … vas in //Kabbo. “Naand, Samon. Jammer, Samon.”
//Kabbo noem Pa “Groot Menee” of “Samon”. Ek het eers onlangs uitgewerk Samon is afgelei van ‘Sir-man’.
“Wat soek jy die tyd van die aand by my dogter, Kabbo? Is jy nie veronderstel om in die maanlig te rieldans nie? En het ek haar nie verbied om saam met jou rond te flenter nie? Jy weet ek keur julle vriendskap nie goed nie.”
“Nosie.”
Nosie is ‘No Sir’.
“Ek wou net vir haar die boodskap gee dat daar môreoggend vroeg ‘n skip uit Nederland aan wal gaan. Ek het gedog sy sou wou weet dat sy haar kraletjies en goed kan gereed hou.”
“Trap, Kabbo! Sy sal nie môre daar wees nie. Ek verbied haar!”
“Dankie, //Kabbo. Goeienag,” prewel ek. En toe loop die opgehoopte probeer-sterk-wees by my oë uit en ek hardloop kamer toe.
***
Douvoordag word ek wakker van die kanonskote wat aankondig dat daar ‘n skip in die hawe is. Wat as Sebastiaan op daardie skip is? Wat as ek hom misloop en nog drie maande of ‘n jaar moet wag? Wat as hy intussen ‘n ander, meer afgeronde meisie ontmoet en met haar gaan trou?
Pa skarrel al in die kombuis rond besig om koffie te maak. Ek wil hom nie sien nie. Nie vanoggend nie. Hoe kon hy? Ek wag stil totdat ek sy kwaai voetstappe op die klippaadjie voor my kamervenster hoor knars. Die voetstappe van ‘n ontnugterde man met geen illusies of romantiese ideale dat die lewe beter sal raak nie.
Ek was my gesig in die kommetjie, gooi ‘n rok oor my kop en hardloop agter ons huis langs strand toe na die Khoi se blyplekke.
“!Nanni, is jy nog hier?” roep ek uitasem langs haar matjieshut.
“Jy vang my net betyds. Ek’s op pad.”
“Sal jy asseblief kyk of jy vir Sebastiaan sien?”
“Ek sal kyk, maar wat as ek hom nie herken nie?”
Ek stap nader. “Jy sal. Gee dit vir hom. Dis ‘n kaart na ons huis. Sê hy moet voor vyfuur kom, anders moet ek vir Pa verduidelik.”
Ek slof deur die sand terug huis toe. Skulpies knibbel aan my kaal voete. Gaan dinge dan nooit vir my uitwerk nie?
***
***
‘n Harde klop aan ons deur ruk my uit my dagdrome oor Sebastiaan wat binnekort hier gaan instap. Kan dit wraggies hy wees? So vroeg? My hart tamboer onbedaarlik. My knieë voel soos jellievis.
“Getruidjuuuu!”
Tannie Gesie se stygende stem bring my terug na die werklikheid. Kry sy nie die boodskap nie? My pa stel nie in ander vroue belang nie! Elke week kom laai sy ietsie tuisgemaak vir hom af. Dikvellig, sou ek sê, maar eintlik die dierbaarheid self. Ek maak die deur teësinnig oop en gaan staan buite om haar nie ‘n inkomkans te gee nie.
“Hallo, Kind! Vroegoggend al warm, nè.” Sy hou ‘n stomende, hoog gerysde brood in ‘n omgehekelde vadoek vas.
“Vars uit die kleioond. Ek’s so dankbaar vir die lappie koring daar langs Die Kasteel. Hopelik bly die plantluise en die oostewind vanjaar ‘n bietjie weg. Jou pa sê hulle oes vanjaar die eerste wyndruiwe.”
Sy is kennelik uitgehonger vir geselskap.
“Heikend, mens, hulle bou nou al amper drie jaar aan Die Kasteel. En dis nie asof hulle veel vinniger vorder met meer slawe nie.”
“Dankie vir die broodjie, Tannie.” Ek moet haar seker innooi vir koffie, maar ek’s regtig nie nou lus vir haar praatjies nie.
“Getruidjie, ek het gewonder. Wil jy en jou pa nie vanaand by my kom eet nie? Ek is besig om ‘n heerlike dik pot ertjiesop te kook.”
Nie ertjiesop nie, dit loop al by my ore uit.
“Ek sal vanmiddag by Pappa hoor as hy huis toe kom.”
“Goed. Ek’s oorkant die pad as jy my nodig kry, kind.”
Asof ek nie weet nie. “Dankie Tannie.”
“Getruide! Getruide!”
//Kabbo? Hoekom waag hy dit hier? Het hy nie genoeg moeilikheid gemaak nie? Gonna. Daar is bloed aan sy hande.
“Jy moet kom! Dis jou pa. Hy’t seergekry!”
“Pa! Waar is hy? Wat het hy oorgekom? Hier, Tannie. Vat eers die brood.” Ek is nog in my huisrok, maar daar’s nie nou tyd om met daardie korsetding te sukkel nie.
“Kom net! Ek sal op pad vertel!”
“Ek kom saam!” roep tannie Gesie.
***
‘n Rukkie later sit ek, //Kabbo en tannie Gesie in Dokter Hasselbult se voorkamer en wag. “Die dokter opereer. Julle kan nog nie ingaan nie.”
!Nanni strompel die vertrek natgesweet binne. Hangskouers.
“En hierdie gemoedsbekotsing, !Nanni?” vra ek. “Kom ek raai. Jy kry Sebastiaan nêrens nie?”
“Gertruide, ek het regtig oral gesoek. Hy was beslis nie op daardie skip nie. Jammer daaroor.”
“Wie’s Sebastiaan?” vra tannie Gesie, brood nog onder die arm. Gevoorskoot.
“Ag, sommer niemand. Sy skip kom seker eers later die maand in. //Kabbo, vertel nou eers rustig vir ons wat gebeur het.”
“Ek en !Nanni-goed het gaan bronkors pluk vir die matrose. Vir die skeurbuik. By die Hoofplaats het Menee Wijnand, die baastuinier, haastig met ‘n perdekar aangekom. Ek kon sien iets was fout. Die groot menee was agterop, en toe’t ek eenkant vasgegryp en opgespring. Die wa was omtrent bebloed. Ek het sy been se stukke vleis met my mouriempies probeer bymekaar hou. Blykbaar het hulle droë takke uit die bome gekap. Samon, hy’t onder die boom gestaan. Die stomp het losgekraak en op hom geval. Menee Wijnand sê as dit sy kop getref het, was hy dood. Toe ons hier stop, het ek reguit na jou toe gehardloop terwyl Menee Wijnand die dokter geroep het. En nou’s ons hie. Kan maar net wag. Menee Wijnand sal seker nou wee hie wees. Hy’t die perd gaan afsaal.”
“Dankie. Ná gisteraand verdien my pa nie jou omgee nie,” maak ek verskoning, terwyl //Kabbo deur toe stap net toe oom Wijnand binnekom.
“Hoe gaan dit hier? Kon daai jong mannetjie jou pa se stukke aanmekaar werk?”
Ek frons. “Watter jong mannetjie, oom Wijnand? Waar’s dokter Hasselbult dan?”
“Hy’s laasnag uitgeroep. Kommandeur Jacob Borghorst is deesdae meer siek as gesond. Ek’s bevrees nie een van Van Riebeeck se opvolgers kan die druk as opperhoof van hierdie trop hanteer nie. In elk geval, ‘n jong matrosie wat kammakastig iets van noodhulp af weet, opereer op jou pa. Hy’t toevallig hier vir Dokter Hasselbult gesit en wag toe ons hier aankom. Ons hoop maar hy dra nie siektes oor nie.”
“O nee, wat as Pa iets oorkom? Ons is gisteraand kwaad uitmekaar!”
“Klink my die jongste siekte is rotkoors – begin met hoofpyn, dan sloepmaag dan waansinnigheid,” kom dit taktloos van tannie Gesie.
Ek kou nog aan haar woorde toe dokter Hasselbult se spreekkamerdeur oopgaan. My hart mis ‘n slag. Ek vee ‘n haarsliert uit my gesig en kyk selfbewus af na my huisrok en kaal voete.
“Jou vader gaan binnekort op die been wees, Gertruide.” En toe kom daardie glimlag wat my knieë so lam maak.
“Nou … nou verstaan ek nie. Hoe ken die doktertjie vir jou, Gertruide?”
“Dis nie belangrik nie, tannie Gesie.”
Toe hy my hande in sy sterk hande neem, voel ek tuis.
“Ek glo nie aan die toeval nie,” prewel hy. “En ek’s mal oor jou in ‘n huisrok. Jou pa is wakker. Hy vra na jou.”
***
“Gertjie.” Sy stem draal. Hy het my laas so genoem toe ek vyf was. Toe dit nog vir hom aanvaarbaar was dat ek so ietwat van ‘n rabbedoe is. “Ek’s jammer oor alles. Oor die sinnelose verwyte al die jare. Oor gisteraand. As dit nie vir Kabbo was nie, het ek doodgebloei op pad hierheen. Voortaan sal hy altyd welkom wees in ons huis. Die Khoi-mense was vir ons net goed.”
“Dankie, Pa. Miskien kan Pa dit self vir hom sê. Hy lei net gou die perd koud.”
“Hierdie jong doktertjie was ‘n bestiering van Bo. Ek weet nie of Dokter Hasselbult my sou deurtrek nie.”
“‘n Bestiering inderdaad, Pappa. Hoe het jy geweet dat jy hierheen moes kom vir ‘n noodgeval, Sebastiaan?”
“Sebastiaan? Hoe ken sy jou naam?” Pa frons.
“Lang storie, Oom. Ek het in die straatjies rondgedwaal op soek na Gertruide en toevallig Dokter Hasselbult se spreekkamers gesien. Ek het ingekom om te hoor of daar ‘n behoefte is aan nog ‘n dokter. ‘n Maand terug het hulle vir my ‘n werk aangebied as dokter in Makassar daar in die Ooste. Maar hier is nog onafgehandelde besigheid in Caep de Goede Hoop.” Hy knipoog vir my. “Ek het vir eers genoeg gehad van woeste waters. Om ‘n skeepsdokter te wees, was nooit op my wenslys nie. Ja, en toe storm hulle hier in met oom. Dis nie asof ek ‘n keuse gehad het nie. Enige dokter sou opereer.”
“Wel, jy het jou skitterend van jou taak gekwyt. Ek sal vir jou ‘n mooi getuigskrif skryf. Roep gou vir Kabbo.”
“//Kabbo, Pappa. Pa moet die klikklanke nou regtig onder die knie kry.”
“Kan jy nie sien my knie is af nie, Gertjie?”
“Lyk my daardie tak het ook sommer sewentien jaar se bitterheid uit Pa getap. Ek kan nie onthou wanneer laas ek vir Pappa sien lag het nie. Terloops, daar’s ook iemand anders in die voorvertrek – behalwe !Nanni … Nie Ma Uma nie. Sy’t gaan kruie pluk vir Pa se pyn.”
Pa grinnik. “Kom ek raai. ‘n Voorskootdraende, opregte, mooierige, middeljarige, ongetroude, effens desperate, ietwat praatsieke vrou met ietsie eetbaars wat sy self gemaak het?”
“Reg geraai. En blykbaar gaan ons twee – of drie – ek kyk skalks na Sebastiaan – vanaand by haar ertjiesop eet.”
“Nie wéér ertjiesop nie!” sê Pa met ‘n skewe laggie.
“Of dalk eerder sy by ons,” voeg ek by terwyl ek skepties na Pa se opgeswelde been staar.
Hoe ook al – ek onderdruk ‘n laggie – ek kry die idee dat sy nie meer lank langsaan gaan woon nie. Hoe ironies dat ek my pa binnekort gaan agterlaat net nadat ek hom gevind het.
Meer oor die skrywer
Die ontdekking van ‘n motgevrete, 1986-dankie-maar-nee-briefie vir ‘n kortverhaal wat sy op hoërskool aan ‘n tydskrif voorgelê het, en die vrees vir leënessindroom, was vir Heléne de Clercq genoeg motivering om onlangs in te skryf vir ‘n skryfkursus. Om Vrij te raak is haar debuutkortverhaal. Heléne glo daaraan om haar drome en Godgegewe talente uit te leef. Sy’t in haar twintigs ge-au pair in Oostenryk vir ‘n jaar; in haar dertigs Kilimandjaro uitgeklim; in haar veertigs haar eerste kunsuitstalling gehou en poog om in haar vyftigs ‘n boek te publiseer. Sy is opreg dankbaar vir sorgvrye grootwordjare op ‘n Boesmanlandse plaas. Ná skool het sy in die Boland onderwys studeer. Sy en haar man het hulle in die Swartland gevestig. Tans is sy ‘n passievolle Afrikaans onderwyseres, neem graag foto’s en skilder in haar vrye tyd.
Vir nog lekkerleesverhale, loer hier.
Vir lekker verhale waarna jy kan luister, loer hier