Deur Cornel Dunn. Hooffoto: pixabay.com
Terug skool toe
’n Ou deur is met swartbordverf bedek en met industriële kettings aan die plafon geheg. Die moontlikhede van hierdie kopstuk is eindeloos. Draai hakkies in die hout en monteer prente of ligte daaraan.
Gaatjie vir gaatjie
Hierdie borde is relatief goedkoop. Net ’n lagie verf is nodig om dit ’n nuwe voorkoms te gee. S-hakke is beskikbaar by alle hardewarewinkels, en word gebruik om items op die bord te monteer. Die gaatjiesbord maak dit moontlik vir jou om jou items te verander en rond te skuif.
Feëtjies en liggies
Ons het ’n ou raam met moeselien oorgetrek en toe die liggies agterop gemonteer. Kies battery-aangedrewe liggies sodat daar nie onnodige drade rondlê nie.
Van deur tot deur
Hierdie ou stoorkamerdeure het reeds baie karakter gehad. ’n Paar spieëls, ’n tydskrifhouer en ’n plekkie vir jou tee skep ’n romantiese voorkoms.
Lapland
’n Kombinasie van lint, kant en repe afvallap skep ’n ryk gordyntjie wat as kopstuk dien. Bly by skakerings van dieselfde basiskleur as jy so ’n gordyn maak: die klem lê eerder op die verskillende teksture.
Plak dit
Ons het hierdie pragtige prent digitaal laat vergroot en laat druk. Dit skep baie atmosfeer en word as basis vir die res van die slaapkamer se dekor gebruik.