Dan sal ’n ernstige verlange na die “regte wêreld” inskop, en nie net omdat onbewoonde eilande arm is aan brosbrood en sjokolade nie.
Wat ek die meeste sal mis, is ménse. In die eerste plek natuurlik my vriende, familie en kinders, nie noodwendig in daardie volgorde nie (ek noem dit net ingeval een van die kinders dalk per ongeluk hierdie blog onder oë kry.) Ook die vriendelike vreemdelinge met wie ek verrassend positiewe oomblikke by kasregisters, op trappe of langs petrolpompe deel – mense wat moeiteloos ’n warm glimlag aangee.
Wat mense doen, koop, eet en aantrek is interessant, maar lank nie so fassinerend soos wat hulle dínk nie. Hou ouer ek word, hoe lekkerder word dit om te hoor wat in ander se koppe aangaan. Ja, ek hou van lees, maar as jy oorkant iemand sit, kan jy vrae vra. En – as die geluk aan jou kant is – ’n paar vrae gévra word. Dan word dit ’n stimulerende sessie waar gespreksgenote ’n spieël vir mekaar ophou en vars aspekte van die werklikheid, mekaar en hulself ontdek. Veral as hulle bo 50 is. Ek is in totale verwondering oor die insigte en kleurrykheid van hierdie groep.
Die piekervaring is natuurlik wanneer kop tot kopgeselsies hart tot hartgesprekke word; meestal heeltemal onvoorsiens. Daardie konneksie is kosbaar. Ek vermoed dit stel hordes goedvoelhormone vry.
Nee wat, hou maar die onbewoonde eiland. Of wag – dalk moet ek my opsies oophou. Drie weke per jaar tussen kokosneutdoppe en die res tussen koppe, met nou en dan ’n hart?