Hanlie Raath, ’n psigoterapeut met ’n meestersgraad in maatskaplike werk, spesialiseer in individuele, huweliks-, gesins- en groepsterapie. Sy het ’n private praktyk in Bryanston, Johannesburg, en bied korporatiewe en openbare verhoudingsbestuurwerkswinkels aan. Sy sê:
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }“’n Verhouding is ’n verkenningstog Om ’n moeë of moeilike verhouding nuwe lewe te gee, is ’n kreatiewe proses. Die kuns lê daarin om die siel van ’n verhouding tussen twee mense te herontdek. Wat skep die verbintenis – is dit gewoonte, vriendskap, pret, lojaliteit, avontuurlus, passie of konflik? Hoe het die aanvanklike “ooreenkoms” tussen hulle verander? Sodra die skeppingsenergie in ’n verhouding opnuut begin vloei, ontstaan onvoorsiene, verrassende moontlikhede, dalk selfs ’n gevoel van verwondering. Dis die beléwing van die proses wat belangrik is, nie ’n finale uitkoms nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }• Verhoudings is nooit volmaak nie
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }’n Goeie verhouding is real eerder as ideal. Dis daar om die betrokkenes se persoonlikhede, begeertes en ontwikkeling te akkommodeer, nie om die een of ander ideaalbeeld te weerspieël nie. Vervullende verhoudings is ’n uitdaging; nie soseer omdat dit wat ons gelukkig maak moeilik bereikbaar is nie, maar omdat ons baie keer nie weet hoe om daar uit te kom nie. Ons kort bewustheid en oefening. Terwyl goeie verhoudings vreugde en spontaneïteit insluit, is daar ook soms bloed, sweet en trane. Ware intimteit word juis in hierdie paradoks gevind.
• Konflik is van kernbelang
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Mense dink dikwels konflik bedreig intimiteit, maar konflik bied ’n noodsaaklike ruimte vir die uitdrukking van frustrasies en begeertes. Wanneer mense leer om die power play tussen hulle te bestuur en onnodige beskermingsmeganismes te laat vaar, word hulle toegankliker. Elkeen van ons kan leer om gesonde, buigbare grense te skep, om die waarheid te praat sonder oordeel of verwyt, en om oop te wees vir onverwagse uitkomste.
• Verandering is onafwendbaar
Baie mense verset hulle teen groei – hul eie of hul maat s’n. Die geheim is om dit as deel van die voortgang van die lewe te beskou en jou verwagtings daarby aan te pas. Verhoudings gaan deur fases; verliefdheid is net die wegspringplek. Wanneer dit oorgaan na die tweede fase, die magstryd, beëindig mense soms die verhouding omdat hulle nie besef dat dit na ’n volgende vlak van intimiteit kan lei nie.
• Krisisse kan ’n verhouding versterk
Affairs en ander krisissituasies hoef nie in ’n heksejag te ontaard nie. In terapie kan die een wat die buite-egtelike verhouding aangeknoop het die presiese aard van die aantrekkingskrag ondersoek en maniere kry om dit in die bestaande verhouding uit te leef. Dit gaan dikwels nie om seks nie, maar om avontuurlus of die wete dat jy lééf. In terapeutiese gesprekke word die ander maat dikwels ook bewus van ’n langdurige gebrek aan vervulling, en begin albei daaraan werk om te kry wat hulle ten diepste begeer. Dis ’n veeleisende proses, maar haalbaar – veral as dit uit ’n skeppende eerder as ’n voorskriftelike hoek benader word.
• Verhoudingsbou is vir mans én vroue
Ek benader terapie vanuit die psigo-analise, stelsel- en Gestaltteorie. Ek werk ook met argetipes. Interessant genoeg spreek ek meer mans as vroue. Baie mans ervaar ’n diep gevoel van verlies oor hul pa’s. Hulle is onseker oor hoe om hul emosionele verhoudings te hanteer, en voel soms hulle het hulsélf in die steek gelaat. Vroue voel weer dikwels “onsigbaar” en verswelg deur ’n magdom eise. Hulle het die behoefte aan ’n sterker besef van hul uniekheid en potensiaal – aan “toestemming” om te wees wie hulle is en te kry wat hulle wil hê. Uit my terapie-ervaring het ek verskeie werkswinkels ontwikkel wat ’n vars benadering tot verhoudings bied, soos dié tussen paartjies, ouers en kinders of mense in die werkplek. Meer as 12 000 mense het die afgelope 20 jaar dié kursusse bygewoon. Nuttige tegnieke en insigte word deur ervaringsleer (experiential learning) aangevul. Van die werkswinkels sluit die gebruik van dansvorms in, soos die tango en salsa of kontak met perde.
Meer inligting, ook oor Hanlie se boek: The New Paradise: Making Intimacy Real (2004), kontak 084 5595 414 of besoek www.paradox8.co.za
Leandie Buys is een van slegs ses kliniese seksuoloë in Suid-Afrika. Sy het haar meestersgraad in die gesondheidswetenskappe in Australië verwerf, is ’n geregistreerde traumaberader en het ’n private praktyk in Port Elizabeth. Sy sê:
• Dit gaan nie net oor seks nie
Baie mense is onder die indruk dat ek net seksuele wanfunksies behandel, maar dit gaan eerstens om verhoudingsberading; seks is net ’n uitvloeisel van ’n verhouding. Ek spesialiseer in die sielkundige en emosionele aspekte van seksuele gesondheid. Elkeen se siening van seksualiteit is uniek. Ons houdings, ervarings en gedrag word deur biologiese, sosiale, kulturele en sielkundige faktore gevorm. Ek benader seksterapie holisties en pas dit by elke pasiënt se behoeftes aan. Die doel is onder meer om prestasieangs te verminder, inligting te bied oor verhoudings, intimiteit, die werking van ons liggame en mans en vroue se belewenis van seksualiteit, en om kommunikasie oor seks tussen paartjies te verbeter.
• Die gevolg van seksuele ‘geheimhouding’
Dié van ons wat dertig jaar en ouer is, het in ’n tyd grootgeword waar seks ’n taboe-onderwerp was. Dink maar aan Elvis Presley se “seksueel uitlokkende” musiekvideo’s wat verbied is! Kinders is ontmoedig om oor die seksuele te praat of te dink, en openbare seksuele gedrag is afgekeur sonder ’n verduideliking waarom dit onvanpas was. Dit het gelei tot vernedering, verwarring, onbegrip en die oortuiging dat die seksuele “vuil” is. As volwassenes moes hierdie kinders met hul skuld- en angsbelaaide grondslag probeer herontdek wat seks behels. Niemand het hulle vertel hoe om aan hulself of hul lewensmaats seksuele plesier te verskaf, oor seks te praat, of oor seksuele gedrag te onderhandel nie. Dit verklaar ook hoekom talle paartjies eers hulp soek wanneer hul verhoudings ineenstort.
• Daar ís antwoorde
Namate mense ouer en wyser word en gemakliker met hul liggame begin voel, breek hulle gelukkig ook uit die skuldgevoelens en angs van die verlede weg. Hulle besef hulle is as seksuele wesens geskape en dat hulle seksuele plesier verdien. Daar ís antwoorde – as ons net die regte vrae vra!
• Mans en vroue verskil
Mans en vroue verskil in hul siening en ervaring van liefde en seks. Mans verstaan nie dat vroue nie terselfdertyd seks én oorlog kan maak nie. Mans beskou seks as vrede maak en is verras as hulle agterkom hul lewensmaat is steeds kwaad! Ek sien dikwels dat vroue waardering wil hê vir die werk wat hulle in en om die huis doen, terwyl mans ’n fisieker siening van liefde het. Hulle hou van ’n drukkie of ’n sexy SMS en erkenning van hul pogings om die gesin finansieel te onderhou. As ’n man by die huis kom en ’n speelse knypie vir sy vrou gee wat heeldag gewerk het en nou aandete maak, vererg sy haar dalk omdat hy “net aan seks dink”. ’n Bakleiery ontstaan. Sy voel hy misken haar versorging van die gesin terwyl hy sy liefde deur ’n intieme aanraking wou toon. Sy kon net omgedraai, hom op die wang gesoen en gevra het dat hy die tafel dek. Of hy kon vir eers die knypie laat staan en gevra het of hy met iets kon help.
• Soms wil vroue meer hê
Begeertediskrepansie, waar die een ’n hoër libido as hul maat het, is ’n algemene probleem, maar dis ’n wanopvatting dat dit mans is wat altyd ’n hoër seksdrang het. Baie vroue het hoër libido’s as hul maats. Omdat dit nie inpas by die persepsie dat mans “altyd op die uitkyk is” en vroue gewoonlik “kopseer” het nie, neem vroue in dié posisie dit maklik persoonlik op. Hulle kan probeer om gewig te verloor of hul haarstyl te verander, sonder die verlangde gevolge. Wanneer begeertevlakke verskil, is die antwoord nie om die maat met die laer seksdrang te dwing om meer seks te hê nie. Dis doeltreffender om die paartjie se sienings en benaderings rondom seks te herdefinieer en die kommunikasiekanale oop te maak sodat hulle tot ’n wedersydse ooreenkoms kan kom.
Meer inligting, ook oor Leandie se boek Seisoene van seks: wat is normaal? (Naledi, 2009) by 041 373 5800 of www.leandiebuys.co.za
Sterna Wineberg is ’n persoonlike, bestuurs-, span- en verhoudingsafrigter in die noordelike voorstede van Johannesburg. Sy is ’n lid van die International Coach Federation (ICF).
• Verandering is die wagwoord
Jy kom na ’n lewensafrigter wanneer jy jou lewe of aspekte van jou bestaan na ’n nuwe, bevredigender vlak wil neem. Die geheim is om jou manier van kyk, dink en doen te verander.
Sien dit só: jou denke skep sekere gevoelens en jou gevoelens beïnvloed jou optrede. Jou optrede bepaal weer die uitkoms van ’n situasie. Deur indringend op denk- en gedragspatrone te fokus, help jou afrigter jou om nuwe uitkomste te bewerk. Dis ’n diepgaande proses wat tot volhoubare verandering lei.
• Die kliënt is die kundige
Jy ken jouself die beste. Jy weet hoe jou omstandighede lyk, wat jou hartsbegeertes is en watter struikelblokke in jou pad lê. Die haakplek is dat jy nie altyd helder bewus daarvan is nie. ’n Life coach help jou om ’n bietjie terug te staan en die prentjie duideliker te sien. Jy ontdek wie jy waarlik is, wat jy wil bereik en wat jy kan doen om daar te kom. Saam met jou afrigter werk jy ’n aksieplan uit wat jy stap vir stap kan volg.
• Jou verlede maak nie saak nie
In lewensafrigting maak ons ons nie moeg oor hoekom dinge gebeur het nie. Ons sê: Dís hoe die situasie lyk – wat nou?
“My rol is om kliënte bewuste keuses te help maak. As jy vir een ding ja sê, soos om langer ure te werk, sê jy nee vir iets anders – soos om jou kinders in die bed te sit.”
Die gehalte van die vrae wat jy vra, bepaal jou lewensgehalte. ’n Kundige afrigter vra prikkelende vrae wat die probleemplekke en kwessies in jou lewe belig. Dit gaan nie oor die afrigter se persepsies nie, maar om wat jy wil hê. Eers wanneer jy powerful questioning self ervaar, besef jy watter kragtige instrument dit is.
• So eenvoudig soos ABC
Ek gebruik die akroniem GROW om die pad wat ek met ’n kliënt loop, raak te vat.
G staan vir goal: die doelwit, klein of groot, wat jy op ’n spesifieke lewensgebied wil bereik.
R staan vir reality check: hoe lyk die situasie werklik?
O is options of die ontwikkeling van kreatiewe oplossings wat jou na jou verlangde doelwit sal lei.
W staan vir will of jou wilskrag om die moontlikhede in daadwerklike optrede te omvorm. Dis die mate waartoe jy jou tot die proses verbind.
’n Tweede akroniem, SMART, skep duidelikheid rondom jou doelstelling:
S staan vir specific: wat presies wil jy bereik?
M staan vir measurable of meetbaar. Hoe kan jy jou doelstelling kwantifiseer? Hoe sal jy weet as jy dit behaal het?
A dui op attainable. Is jou doelwit haalbaar? Lê dit binne jou vermoë om dit te bereik en het jy beheer daaroor? ’n Doelwit wat van iemand anders afhang, soos die wens dat jou man jou bedagsamer moet behandel, is nie ten volle binne jou beheer nie.
R staan vir relevant: hoe belangrik is hierdie mikpunt vir jou? Gee jy voorkeur daaraan?
T dui op time of die tydperk waarbinne jy dit wil bereik.
• Sleutelvraagstukke
Die kliënt kies waarop ons konsentreer. Dalk wil hy ’n spesifieke gemeenskapskwessie oplos, of begeer sy haar eie onderneming. Selfs ’n “klein” sakie, soos om vergaderings met meer selfvertroue te benader, is van pas. Ek werk met énigiets wat vir die kliënt ’n probleem is. Kwessies soos balans, kommunikasie en eiewaarde kom dikwels ter sprake. Dit beteken net vir elkeen iets anders. So beteken balans vir die een om genoeg tyd met gesinslede, familie én vriende deur te bring, en vir ’n ander om emosionele vervulling én sukses te ervaar. Die bekende oefening waar jy ’n sirkel in verskillende lewensterreine verdeel en met ’n persentasie aandui waar jy jouself ten opsigte van finansies, loopbaan, fisieke welsyn, spiritualiteit, ensovoorts sien, is veelseggend. Deur strategiese vrae te beantwoord, kan jy vasstel wat jy wil verander. My rol is om kliënte bewuste keuses te help maak. As jy vir een ding ja sê, soos om langer ure te werk, sê jy nee vir iets anders – byvoorbeeld om jou kinders in die bed te sit. Dis ons keuses wat die balans skep of versteur en sodra ons met oorleg begin kies, word ons nie meer willoos deur omstandighede meegesleur nie.
• Vervang eerder as verander
As jy iets al jare lank op ’n spesifieke manier doen of benader, is dit ’n gevestigde patroon wat moeilik sal verander. Dit is beter om ’n vars patroon te skep en die oue ’n stille dood te laat sterf. Navorsingsresultate wys dit neem sowat drie maande om nuwe gedrag deel van jou te maak. Daarom sien ek mense vir minstens twaalf sessies of vir ’n tydperk van drie maande.”
Kontak Sterna by swineberg@gmail.com of 082 349 6270.
Daar is baie maniere en wenke om vetplante te laat gedy. Hier is nege wenke…
As Karlien van Jaarsveld die horlosie kon terugdraai, sou sy dieselfde keuses gemaak het, want…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele 2 koppies koekmeel ¾ koppie Amasi ¼…
28-dag oefenprogram vir beginner-fietsryers deur Salomé Delport. Hooffoto: zozzzzo/istock images As jy na veertig begin…
Ek het my verhouding met kos verander en jy sal nie glo wat volgende gebeur…
Hy is in 1989 op Springbok gebore en hierdie uitsonderlike deel van ons land was…
Hierdie webwerf gebruik koekies.