Dit moet die fabrieksbase se skuld wees. Dat ons ophou speel het, meen ek. Dis húlle wat begin het met kinderarbeid en as kinders nie eens die kans gegun is om te speel nie, wat dan van ons grootmense?
Kinders (goed, sommige kinders en verkieslik nie ‘n hele trop boeties en sussies nie) word wakker, kyk rond, en kry iets om mee te speel. As die volwassenes nie inmeng nie, kan hulle ure lank so aangaan. Hulle mag dalk ‘n streep gebreekte voorwerpe agterlaat en die vertrekke waarin hulle losgelaat is sal tien teen een nooit weer dieselfde wees nie, maar speel sal hulle speel, teen die hoogste versnelling en met die grootste genot.
Wanneer laas het jý spontaan aan die speel gegaan met wat ookal in die oomblik beskikbaar was? Ons grootmense se speelgoed kos geld, ons speeltyd is beperk, en ons spel is gestruktureerd. Gewoonlik val die spelery onder ‘n eerbare versamelnaam soos “sportsoorte” of “stokperdjies”. En meestal veg ons om tyd daarvoor te maak of te kry.
Dikwels kleef daar ‘n skuldgevoel aan speeltyd. Jy kan dit hokslaan deur ‘n aanvaarbare doelstelling aan jou spelery te koppel: dit hou jou fiks, dit maak jou kop skoon, jy ontmoet nuwe mense, of jy verwerf ‘n vaardigheid.
Teken ek die prentjie te donker?
Dalk is ek die enigste een met ‘n groot behoefte aan ongestruktureerde tyd. Ure wat niks te make het met kos, klere, huis, tuin …(vul in na smaak) en werk nie. Ek moet kan wakker word, rondkyk, en iets kry om mee te speel sonder ‘n enkele gedagte aan die woordjie “moet”. En dit moet lááánk so aangaan.
Totaal onrealisties?
Toemaar, ek speel net.