“Bid gedurig,” staan in 1 Tessalonisense 5:17. Die vraag is: Waar? Wanneer? Hoe? Deur die eeue en in verskillende wêrelddele het mense verskillend gebid. Die Christelike tradisie alleen bevat ’n groot verskeidenheid gebedswyses, om nie eens van ander geloofstradisies te praat nie.
In Bybelse tye het gelowiges heel anders ge-bid as wat Protestante dit vandag doen, skryf dr. Piet Muller in die splinternuwe Kom ons bid (Griffel, 2012): “In die vroegste dae was gebed ’n handeling wat in ’n rituele ruimte of ná ’n ritueel van suiwering plaasgevind het. In die Ou Testament lees ons dat mense spesiale plekke besoek het vir gebed en offers. Heilige plekke, soos die berg Moria, was hiervoor nodig.“
Baie mense het in Jesus se tyd by die tempel in Jerusalem gaan bid. Omdat sy bediening meestal buite Jerusalem plaasgevind het, kon Hy dit selde doen. “Maar Hy het Hom dikwels teruggetrek na eensame plekke – wat ’n mens ’n rituele handeling laat vermoed.“
Vandag is dit vir die meeste gelowiges onnodig om eers ’n rituele handeling te voltooi voordat hulle kan bid. Baie glo ook hulle mag enige tyd op enige plek bid. Net so het die inhoud van gebede grootliks van voorgeskrewe na spontane gebede verander.
Sommige Protestantse kerke lees steeds rituele gebede voor. “Ander glo weer dis ’n ‘ydele herhaling van woorde‘. Maar rituele gebede was juis wat Christene meestal deur die eeue gebid het. Die Middeleeuse kerk het ’n ryk gebedspraktyk gehad met talle gebede wat deur enkele begenadigde bidders soos Franciskus van Asissi geskryf is. Gebedeboeke het gebede vir die hele liturgiese jaar bevat en die idee was hoe meer ’n mens hierdie gebede bid, hoe meer word jou gees met die strekking daarvan deurtrek.
“Dat jy tot God moet bid in jou eie woorde, met vrome eerbied, kom van die kerk-vader Johannes Calvyn. Dit steun op die opvattings van die Renaissance, waarin die mens ná die Middeleeue sy eie waardigheid herontdek en as individu na vore getree het.“
Hierdie persoonliker, intiemer gebeds-aanslag het die redes waarom mense bid opnuut belig. Is gebed maar net ’n pleidooi om gunste of hulp, of is dit meer as die somtotaal van ons versoeke aan God?
’n Dissipline
Sekere kerkvaders het die gebed gesien as ’n manier “om ’n persoonlike verhouding tussen die aanbidder en die Groot Misterie op te bou of as die gemeenskap van die gees met God“, skryf Piet. “Dis bedoel om jou spirituele lewe te voed. Gebed wat nie deel is van ’n vaste praktyk nie, kan nie geestelike groei by die bidder veroorsaak nie.“ ’n Vaste praktyk veronderstel natuurlik dissipline.
“In die eerste eeu van ons jaartelling was Olimpiese atlete die ‘popsterre‘ van hul tyd. Die lang ure wat hulle elke dag moes oefen en die jare van voorbereiding vir ’n paar oomblikke van glorie het almal se bewondering afgedwing. Daarom dat selfs die apostel Paulus die oefening en opoffering wat ’n mens ter wille van geestelike groei moet maak met dié van atlete vergelyk het.
“Ons geestelike voorvaders was klaar-blyklik deeglik bewus van die ’oefening‘ wat nodig is om die geestelike leer te klim, soos wat een van die woestynvaders, Johannes Klimakos, dit gestel het. Kyk ’n mens na die Christendom van die eerste drie eeue, merk jy dat ‘geestelike oefeninge‘ ’n groot deel van Christene se lewe in beslag geneem het. Nie dat hulle doelbewus iets soos ‘geestelike oefeninge‘ gedoen het nie, maar dat hul leefwyse daarop ingestel was om Jesus se leefwyse na te boots. Soos Paulus dit in die taal van die 1933-vertaling van die Bybel gestel het, moet ons ons oefen in godsaligheid (1 Timoteus 4:7). Ons moet oefenaars van Jesus se beginsels word, sodat ons ons naaste kan liefhê soos onsself en tot sewentig maal sewe toe kan vergewe.
“Sedert die Hervorming, toe Martin Luther tot die gevolgtrekking gekom het dat al sy kloosterdissipline hom nie kan red nie en dat slegs die genade van God dit kon doen, het die praktyk van geestelike oefening na die agtergrond geskuif en in vele opsigte selfs verlore geraak. Kom ons bid ondersoek metodes waarmee gebed weer sentraal gestel kan word, nie net as spirituele ‘oefening‘ nie maar as ’n middel tot gees-telike groei en diepe gemeenskap.“
Bid met jou hele wese
“Jy hoef nie net met woorde te bid nie, jy kan ook met jou gedagtes bid, met jou verbeelding en met jou liggaam,“ skryf Piet.
Bid met jou liggaam
“Wanneer ’n mens met jou hele liggaam bid, is die eerste stap om te sentreer, om tot rus te kom, soos wat ’n pottebakker ’n bal klei op ’n pottebakkerswiel vashou totdat dit kan ronddraai sonder om te wikkel.
“’n Goeie manier om hiermee te begin is om stadig en doelbewus asem te haal. Sê vir jouself: ‘Ek weet dat ek nou inasem‘. Wan-neer jy uitasem, sê jy: ‘Ek weet dat ek uit-asem‘. Wanneer jy dit ’n paar keer vir jouself gesê het terwyl jy asemhaal, sal jou asemteue vanself stadiger en rustiger raak.
“Sê dan: ‘Heer, ek asem my kommer oor my maandelikse rekeninge voor U uit’, of ‘oor my kind se eksamen … ’ Luister daarná net in stilte. As jou gedagtes wil dwaal, bring dit saggies terug na die hede deur jou dwalende gedagtes ‘uit te asem‘ en luister weer. Dis merkwaardig hoeveel antwoorde op probleme ’n mens kry deur net bereid te wees om te luister na wat in jou gemoed opkom.
“Nadat jy asemhaling as ’n manier van gebed gebruik het, kan jy ook jou hande gebruik om te bid. In sy klassieke boek, Celebration of Discipline, beveel Richard Foster aan dat ’n mens jou palms grond toe draai as ’n simbool van jou bereidheid om jou sorge aan God oor te gee. Sê iets soos: ‘Ek gee my kommer en my angs aan God oor’, of ‘my besorgdheid oor my kind’, of wat jou ook al kwel. Dis merkwaardig hoeveel rustigheid hierdie gebaar van oorgawe kan bring helder kan dink. Want hoe meer gejaag en gespanne jy is, hoe kleiner word die kans dat jy ’n oplossing sal kry.
“Draai nou jou palms boontoe en vra: ‘Heer, gee my insig in my kind se probleme.’ Of eenvoudiger: ‘Heer, vul my met U teenwoordigheid en wysheid.‘ Aanvaar wat in jou gedagtes opkom as ’n geskenk.”
Visualisering as gebed
“Ons eie gedagtes en verbeelding is ryk bronne waaruit ons kan put om ons gebeds-lewe dieper te maak. In ’n tyd sonder boeke het Jesus gelykenisse gebruik om sy bood-skap oor te dra. In hierdie gelykenisse het Hy elke sintuig van sy luisteraars aangespreek.
“Jou gebede hoef dus nie net petisies of lofliedere aan God te wees nie. Jy kan ge-woon jou oë toemaak en byvoorbeeld die dag oproep toe Jesus die gelykenis van die verlore seun vertel het. ‘Sien‘ in jou verbeelding waar Jesus staan of sit, ‘sien‘ die mense rondom hom, voel die temperatuur van die dag en verbeel jou jy ruik die warm broodjie wat ’n kind as padkos saamgebring het, of wat ook al. Lewe jou volkome daarin en luister hoe Jesus se woorde oor die verlore seun jou direk aanspreek.
“Of verbeel jou jy is teenwoordig terwyl Jesus die saligspreuke tydens die bergrede uitspreek. Nadat jy jou in die oomblik ingeleef het, kan jy die woorde van die saligspreuke stadig vir jouself herhaal: ‘Salig is die armes van gees…‘“
Die herhalende gebed
“Dis nie nodig om jou eie woorde te gebruik terwyl jy bid nie. Jy kan Jesus se woorde herhaal, of die gebed van Franciskus. Jy kan die woorde ook soveel maal herhaal as wat jy nodig ag, want elke herhaling sal jou na ’n dieper geestelike vlak neem. Hierdie soort gebed het die vermoë om – soos waterdruppels wat sag maar aanhoudend op klip val – uiteindelik deur die hardste ‘geestelike korse‘ tot in die onbewuste te dring, waar geestelike genesing kan plaasvind.“
Stap as gebed
“’n Mens kan ook bid terwyl jy stap of hardloop. Die meeste van ons het al beleef dat iemand van onrus en bekommernis spontaan heen en weer begin stap. Stap, veral as jy afgemete en bewustelik stap – hoe stadiger, hoe beter – het ’n kalmerende uitwerking. Wanneer jy só wil stap, is dit natuurlik beter om dit te doen waar ander jou nie kan sien nie. Hulle kan jou dalk vreemd aankyk!
“Stap so dat jy bewus kan wees van elke tree wat jy gee. Tel jou treë en sinkroniseer dit met jou asemhaling: in een … twee, uit ? een …?twee. Aanvanklik kan jou uitasem langer wees as jou inasem: in?een …?twee …, uit een … twee … drie. Moenie dat dit jou ontstel nie. Soos jy kalmer raak, sal dit verander. Dit kan ook ’n week of meer duur voordat jou longe sterk genoeg is om op die ritme van in … een … twee … drie, uit … een … twee … drie … te stap, maar uiteindelik word dit tweede natuur.
“Wanneer jy dit kan doen, is die tyd reg om ’n pandwoord of ook ’n langer gebed te gebruik terwyl jy stap. ‘Maran…atha’ is ’n lekker pandwoord om op te stap. Jy kan na-tuurlik ook net op jou liggaamsaksie konsentreer, terwyl jy jouself oopstel vir wat uit die diepste van jou gemoed boontoe kom.“
’n Pandwoord, verduidelik dr. Ronell Bezuidenhout in Kom ons bid, is ’n hulpmiddel wat die onophoudelike gedagtestroom in ons help beheer. Dis ’n woord, gedagte of kort sinnetjie – ’n “mini-geloofsbelydenis“ – wat jy herhaal en wat jou dieper in die gebedsbelewenis intrek. “Die moontlikhede is eindeloos: Jesus, Vader of Abba, Liefde, Vrede, Skuilplek of Kyrie Eleison.“
Die bidsnoer
“Een van die heel oudste maniere van bid, bid met ’n bidsnoer, is besig om weer pos te vat,“ skryf Piet. “Op vliegroetes en in openbare plekke is dit nie meer snaaks om mense met ’n bidsnoer te sien nie. Daar is waarskynlik nie ’n wêreldgodsdiens wat nie op die een of ander tydstip hierdie vorm van gebed beoefen het nie.
“Die twee bekendste bidsnoere in die Christendom is die Griekse komboskoni, ’n toutjie met verskillende knope vir verskillende gebede. Elke knoop is op so ’n manier gemaak dat dit ’n kruis vorm. Die ander een is die katolieke rosekrans, met gebede wat meer spesifiek om Maria wentel.
“Die kort bidsnoer wat om die pols gedra word, is baie gewild. ’n Mens tas die krale met jou vingers af terwyl jy jou pandwoord of gebed opsê. Omdat ’n bid-snoer wat om die pols gedra kan word die mees praktiese vorm vir die moderne lewe is, het die skrywers van Kom ons bid ’n kort bidsnoer ontwerp wat ook voorsiening maak vir verskillende gebedstye per dag: vir wanneer ’n mens wakker word, laatoggend, met middagete, die namiddag en die aand. Sluit die dag af met ’n gebed of ’n reeks gebede – of selfs net jou pandwoord – op die bidsnoer. In Kom ons bid word so ’n reeks gebede voorgestel.
“Omdat ’n mens nie die gebede hardop hoef te sê nie, kan jy selfs tussen ander mense op hierdie manier bid sonder dat dit hulle sal steur. Al die gebede op die bidsnoer kan ook in een deurlopende sitting gebid word, byvoorbeeld op ’n lang reis of tydens ’n siekbed. Ook wanneer jy in die laatnag wakker word en nie weer kan slaap nie.
“Wanneer ’n mens die bidsnoer gebruik, bid jy nie net met woorde en/of gedagtes nie, maar ook met jou onrustige vingers. Dit is hierdie kombinasie wat deur die eeue heen die bidsnoer so gewild gemaak het.“
In Kom ons bid word ook ander gebedsvorme en benaderings tot gebed beskryf. Dr. Abel Pienaar vat dit só saam: “Gebed is nie net ’n oomblik op jou knieë nie. Alles is ge-bed, elke gedagte en elke handeling. Gebed is die strewe om goddelik te leef deur liefde, sagtheid, vergifnis, omgee en nederigheid.“
Kom ons bid, Piet Muller (samesteller), Griffel, 2012 is by boekhandelaars of www.Boekblik.co.za beskikbaar.
Klein verposings
Ek het ’n moderne gebedsnoer, ’n “armband“ met ’n lieflike, aardse gevoel, by dr. Piet Muller present gekry en met die gebedsdissipline begin wat in Kom ons bid uiteengesit word. Jy begin en sluit die dag af met spesifieke gebede en bid drie ander gebede tussenin. Die bidsnoer herinner jou midde-in die daaglikse geharwar dat jy onderneem het om gereeld te bid. Soms het ek dit as ’n armband gedra en wanneer dit nie by my kleurskema wou inskakel nie, het ek dit langs my rekenaar gehou. ’n Vrou bly maar ’n vrou! As ek dié gebedsdissipline met een woord kon beskryf, sou ek “vertroostend“ kies. Dis goed vir my siel om gereeld tot stilstand te kom wanneer ek die gebedskrale aftel en die woorde bid. Soms kos dit diep asemhaal om te konsentreer, maar meestal is dit ’n eilandjie van stilte midde-in ’n besige dag. Soos dr. Ronell Bezuidenhout dit in Kom ons bid stel: “Hoe voel ’n agenda wat – al is dit vir die oomblik – eenkant toe gestoot word? Niks is immers belangriker nie as die viering met God.“
Navrae/bestellings: stuur ‘n e-pos getiteld „Bidsnoer“ aan [email protected]