kategorieë: Ons menseBekendes

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Potjie-roer-my-nie se wenners gesels oor vaalkos en ’n molpot

In die vierde episode van Kokkedoor Vuur & Vlam, kykNET se koswerklikheidsreeks waar vlamme en alles wat daarmee gepaard gaan, koning kraai, moes die spanne hul vernuf toon met die potjiekos-uitdaging. Benewens braai, is potjiekos mos koning vir Suid-Afrikaners wat kén van smake en tekstuur kombineer.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Teen dié tyd is dit duidelik dat glanssjef Bertus Basson en koskenner Kobus Botha hoë verwagtinge koester. En volgens Kobus kom potjiekos met reëls. Moet dit in lae gepak word of moet dit geroer word? Wat is mite en wat is waarheid?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Dis nie die enigste uitdaging nie. Daar word ook onder party spanne gewoeker met nuwe spanmaats wat deur Bertus en Kobus aangewys word.

Dis toe juis een van die nuwe spankombinasies wat as wenners uit die stryd getree het met hul vaalkospotjie.

Die Mielie Mafia, bestaande uit De Wet Visser (37), ’n Cape Deli-verkoopsverteenwoordiger van Welgelegen (Kinkelbraaier) en Martin Steyn (53), ’n dominee van Stellenbosch (Onthoubraaier), se vaalkospotjie het die beoordelaars se asem behoorlik weggeslaan met die smaakvolle eenhoud waarmee dit voorberei is.

Ons het na afloop van hul sege vir De Wet en Martin ’n paar vrae gevra.

De Wet Visser

Jy het ’n nuwe spanmaat in Martin gekry vir hierdie uitdaging. Voel jy dit was die regte besluit?

Martin is my derde spanmaat. Dis maar ’n kwessie van adapt or die. Hy lyk na ’n cool ou! Ek dink ons sal lekker kan saamwerk.

Hoe lank loop jy al ’n pad met potjiekos en watter potjie is jou gunsteling?

Ek maak al van jongs af potjie. Ek probeer om elke Sondag een op die vuur te hê. Dit moet vir my so eenvoudig moontlik wees met lamsvleis en groente.

Roer of nie roer nie?

Ek roer nie!

Hoe het dit gevoel toe jy hoor daar’s nog net ’n uur oor van die gegewe tyd?

My hart het letterlik gaan stilstaan in my borskas. Onthou, pot-maak is ’n heeldag ding. Die vleis moet lekker sag kook.

Jy’t vir Bertus verras met die appel wat jy bygevoeg het. Hoe het jy op hierdie idee gekom?
Ek het die appel-idee jare gelede in die Huisgenoot Potjiekos-resepteboek raakgelees. Die eerste uitgawe is in 1987 gedruk en dit het in my kop bly vassteek. Die appel komplimenteer die lam, maar jy proe nie werklik die appel nie.

Wie het met die naam “Mielie-Mafia” na vore gekom?

As ek reg onthou, was dit 100% ’n spanpoging.

Hoe het dit gevoel toe Kobus sê julle vaalkospotjie was vir hom alles wat dit moet wees?
Om dit te hoor, was baie lekker. Aan die einde van die dag het ons bloot eenvoudige bestanddele gebruik en dit die ster van die pot gemaak.

Martin Steyn

Jy het gehoop om iets anders in De Wet uit te bring? Het dit gebeur en hoe goed het julle saamgewerk?

’n Nuwe spanmaat vra vinnige aanpassings en vra ook ’n bietjie gee en neem. De Wet ken sy kos en smaakprofiele en daar het ek hom voortou laat neem. Hy het op sy beurt my ook weer vertrou met dit wat ek ken.

Potjiekos en basaars loop maar hand-aan-hand en jy noem jy proe meer as wat jy self potjie maak. Vertel meer oor die lekkerste potjie of interessantste kombinasie wat jy nog op ’n basaar raakgeloop het.

By ’n basaar is daar ’n potjie! En as pastoriekind en predikant het ek nou ook al als in ’n pot gesien. Ek self het nog nie dié een raakgeloop nie, maar baie gehoor hiervan. Dit is ’n resep uit die resepteboek van NG Kerk Citrusdal (gemeente-resepteboeke is ’n skatkis van ou resepte). Wel, dié resep is vir ’n Molpot. Want daar is mos baie sandmolle . . .

“Sandmol met vervrissende Weskus witwyn” is hoe die opskrif lui. Met karringmelk, koljander, naeltjies en varkspek bygevoeg. Onderaan die resep staan daar die volgende: “As u die mol proe, sal u Moses se raad volg aan die volk in die woestyn nadat hul kwartels uit die hemel ontvang het: “Niemand mag iets daarvan laat oorskiet tot more-oggend nie.” (Eks 16:19)

Wat is jou gunsteling-vleissnit vir ’n potjie? En hoekom?

Skaaprib. As daai vleis eers so van die been af val is dit darem lekker. ’n Vet tweetand-skaaprib kan jou sous ook ver rek met diep geure in die pot. En terwyl jy wag vir die pot om gaar te kook, vat jy jou vet lieslap en braai dit in olie soos kaiings langsaan in ’n pot vir ’n krakerige peuselhappie.

Vertel ’n bietjie meer van daai mieliepap-soufflé, oftewel mielieplof soos julle dit noem.

Dit kom uit ’n vriendin van my se resepteboek. Dis ’n bietjie aangepas vir die braai met gebraaide heelpitmielies wat saam met die braaipap wat bietjie ge-“soufflé “ is.

Die eierwitte is geklits, wat dit baie ligter as die tradisionele papterte maak wat almal ken. Dit is ook lekker as jy gaar boerewors bysit in die mengsel en saam met ’n vars groen slaai bedien. Dis iets wat ons as gesin al vir ontbyt geëet het. Dit is ’n hele gereg wat jy selfs op die vuur in ’n platboompot kan maak.

Hoe hanteer jy daardie “storm in jou kop” wanneer twyfel inskop – soos wat gebeur het tydens die beoordeling?

Storms is nodig, dit vat jou deur die stappe, dit laat jou dink. Ons pot het maar vaal gelyk en dit het my laat twyfel. Maar dan dink ek net aan wat ons gedoen het en die lepel waarmee ons van die pot geproe het. En ek onthou hoe lekker die geure en smake bymekaargekom het. Dán haal ek weer asem.

Vaalkos of kerriekos?

Vaalkos! Die naam gee jou die verkeerde idee. Hoewel die kleur vaal kan wees, is die geur allesbehalwe. Die uitdaging van ’n vaal pot is om elke bestanddeel tot sy reg te laat kom. Dit beteken jou tydsberekening moet reg wees vir elke bestanddeel wat jy byvoeg sodat sy beste geur kan uitkom.

Wanneer jy wat insit maak baie saak. Dit kan ook nie papsag gekook wees of te hard wees nie. En dan soos Matie Brink sê: Moet nie roer nie. Dan, aan die einde, kom daai smaak in jou mond waar alles net wegsmelt.

Julle het R50 000 vir Meals on Wheels losgekook. Hoe het dit gevoel?

Ek was baie bly. Daar is soveel nood daarbuite en dit was ongelooflik dat Meals on Wheels saam aan die Kokkedoor-tafel kan sit en dat daardie tafel groter gemaak word. Jy moet altyd ’n ekstra stoel hê.

Kokkedoor Vuur & Vlam word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.

Lees ook: KYK | Niggies se sterbelaaide rolverdeling en lokprent is hier!

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

Tradisionele melktert

Vir 2 middelslagterte   Bestanddele   Deeg: 500 ml (2 k) meel 10 ml (2…

13 hours Gelede

Lyk minder moeg met hierdie 16 skoonheidswenke!

Lyk en voel minder moeg met ons slim skoonheidswenke.

15 hours Gelede

Geroosterde knoffelkaaskoek

Genoeg vir 8   Bestanddele   1 heel knoffelknol 15 ml olyfolie 200 g volgraan-…

15 hours Gelede

Wenke vir binnenshuise plante

Ons deel ’n paar wenke vir binnenshuise plante.

1 day Gelede

Blitsidee met bloubessies

Kook 250 ml (1 k) bloubessies, 5 ml (1 t) balsemiekasyn en 15 ml (1…

1 day Gelede

Minki verjaar! “Ek wil net ’n goeie voorbeeld vir my dogters wees”

Deur Maretta Bellingan Foto's, hare en grimering: Willem Botha & Willem Botha Beauty    …

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.