Daar het ook ’n spesiale gas opgedaag – dié keer was dit Jess van Dyk (sjef en eienaar van die Post & Pepper-restaurant, Stellenbosch).
Daar is van die deelnemers verwag om ’n fynproewersdis voor te sit wat aan Jess se hoë standaard moes voldoen.
Bertus het haar kos as “verfynd, vars, eenvoudig maar flippen lekker” beskryf terwyl Kobus baie beïndruk was met die feit dat sy van Kuruman kom waar sy met skaapstertjies grootgeword het.
Elke span het een van haar disse by hul stasies gekry om te proe en te ontleed en te beplan. Gelukkig het sy ’n resep bygesit, al was dit ’n lang en gekompliseerde een soos wat die deelnemers weldra sou uitvind.
Maar wie sou haar dis – vleis gebraai met ’n Oosterse kinkel in die vorm van ’n kluitjie – so na as deksels voorberei en dit boonop “in casual fine-dining styl” aanbied?
Dit was weer die kombinasie van kinkelbraaier Lourens Engelbrecht (37), ’n vryskutsjef van Pretoria en onthoubraaier Johan de Villiers (30), die operasionele bestuurder van ’n familieplaas naby Durbanville, wat hulle met die louere laat wegstap het.
Selfs die spraaksame Kobus was vir ’n wyle tjoepstil want, hoe hard hy ook al probeer het, kon hy net mooi niks negatief oor hulle dis gevind het nie.
Terwyl hierdie span uitgestaan het vir goeie en positiewe spanwerk, het dinge by tye maar wild gegaan tussen kinkelbraaier Mike van Rooyen (37), konsulterende sjef van Johannesburg en sy spanmaat, onthoubraaier Jay Maan (51), ’n oopvuursjef van Pretoria.
Die aanvanklike gevoel van harmonie waarmee hulle die uitdaging aangepak het, het gou plek gemaak vir kreatiewe verskille en inspirasie en daar was by tye hard op die tande gekners.
Dit, gepaardgaande met die tyd-monster, het daartoe gelei dat die twee hul voorskote moes ophang.
Wat sê Mike?
Met die vorige uitdaging het jy besef jy kan op gevoel en intuïsie kook. Nou’s daar skielik weer ’n resep wat gevolg moet word. Het dit jou so ’n bietjie ontspoor?
Nee, glad nie. Dit was ’n wonderlike uitdaging, die tyd was net nie aan ons kant met die uitdaging nie. Dit is altyd baie belangrik om ’n resep stadig deur te lees en dit te verstaan.
Jy en Jay het nie altyd ooreengestem met die prosesse nie. Dink jy dat dit vir jou makliker was om jul verskille te hanteer as jy terugdink aan jou eerste spanlede waar dit soms moeilik gegaan het?
Ja, ek dink tot nou toe in die kompetisie het ek geleer dat daar nie tyd is om oor goed te stry nie, eerder om vinnig met mekaar ooreen te stem en aan te beweeg.
Wil jy meer vertel oor die kruis op jou bo-arm? En die ander tatoes – wat is die simboliek daarvan?
Die kruis gaan oor my Christelike geloof, die ander is ervarings wat na aan my hart is. Soos byvoorbeeld die restaurant met drie Michelin-sterre waar ek in Holland gewerk het. Die res is van plekke waar ek geëet het. Dit als is van sentimentele waarde vir my en dit herinner my aan al my wonderlike travel-dae.
Bertus het jou ’n ongelooflike en talentvolle sjef, asook ’n leier, vinnig en hardwerkend genoem. Wat het dit vir jou beteken?
Ek het baie respek vir Bertus. Hy is al vir meer as 20 jaar een van die top-sjefs in Suid-Afrika. So, dit beteken vir my ongelooflik baie en ek is baie dankbaar daarvoor.
Watter Kokkedoor Vuur & Vlam-deelnemer het jou die meeste inspireer? En hoekom?
Lourens. Hy beskik oor ’n baie goeie kombinasie van geure en hy was vir my die grootste kompetisie!
Wat sê Jay?
Jy en Mike moes mekaar leer ken in die kombuis. Wat was die verskil in dinamika tussen julle van die vorige uitdaging tot hierdie een? Dit het gelyk of die wiele begin af val?
Ja, ek wens ek en Mike kon vroeër in die kompetisie by mekaar uitgekom het. Dalk sou ons dan meer tyd gehad het om mekaar regtig te leer ken in die kombuis en voor die vuur.
In die vorige uitdaging was ons in ’n omgewing wat baie nader aan my eie styl van kook is. Maar met hierdie uitdaging was dit duidelik in Mike se wheelhouse – en ek het van die begin af besluit om my heeltemal aan sy leiding toe te vertrou. Ek het gevoel dis regtig ’n sjef-uitdaging en ek wou hom daardie ruimte gee.
Het ek dit goed reggekry? Tot op ’n punt, ja. Maar soos die druk toegeneem het, het die wrywing begin insluip – en ek dink ons het mekaar begin verloor in die kombuis. Ek het al voorheen gesê: hoe verder jy kom in dié kompetisie, hoe kleiner raak die margin vir foute. Ongelukkig was ons foute klein, maar net groot genoeg om ons huis toe te stuur.
Hoe voel jy in die algemeen oor die volg van ’n resep, veral waar dit soos in hierdie uitdaging, ingedruis het teen jou instink om die vleis sappig te hou?
In my werk as Mr Braai Guy volg ek dikwels resepte – veral wanneer ek met ander sjefs saamwerk of ’n spesifieke ervaring vir kliënte skep. Ek bedien nie net vleis nie – so, my fokus op die vleis is belangrik – maar ek sit net soveel moeite en respek in vir my bykosse, souse en geure.
Ek sal nie sê die resep het teen my instink ingedruis nie. Dit was wel duidelik dat ons as span gesukkel het om ’n duidelike ritme en balans te vind voor die vuur. En as daai dinamika nie reg is nie, raak dit moeilik om enige resep met selfvertroue uit te voer.
Jou benadering tot die uitdaging: Óf klere pak óf klere stryk. Het hierdie wete dalk jou fokus ondermyn?
Ons het hierdie uitdaging aangepak nes al die ander. Ons het ingeloop met hoop in ons harte – hoop dat dit wat ons gaan voorsit genoeg gaan wees. Daardie dag was dit ongelukkig nie. Dis nie dat die wete oor pak of stryk my fokus ondermyn het nie – maar soos altyd, speel die druk, tyd en span-dinamika almal ’n rol.
Vertel ons meer van jou seuns en jou drome vir hulle?
Ek het drie seuns en ek’s ongelooflik trots op elkeen. My droom vir hulle is dat hulle my lewe – die goeie én die moeilike dele – as fondasie kan gebruik om nog verder te gaan. Ek sê altyd: ek wil hê hulle moet op my skouers kan staan en verder kyk as wat ek ooit kon. Maar dan is dit ook my verantwoordelikheid as pa om ’n lewe te lei waarop hulle wíl staan.
Hoe ek hul ma hanteer, hoe ek ander mense hanteer, hoe ek foute hanteer – dis alles deel van die voorbeeld wat ek wil stel. Want ja, ons almal gaan tog foute maak – maar hoe jy dit hanteer, is belangrik.
Kobus het jou die “koning van melktert” genoem. Sou jy dit ooit voor Kokkedoor Vuur & Vlam kon glo?
Nee, nooit! Ek sou nie in ’n honderd jaar myself as melktertkoning gesien het nie. Die groter vraag is seker of ek nou net ’n one hit wonder was en of ek daai kroon weer gaan opneem. Die waarheid is – Mr Braai Guy se kliënte vra nou vir die melktert . . . so, ek sal hom seker weer moet aanpak!
Wat is die waardevolste les wat jy tydens Kokkedoor Vuur & Vlam geleer het en wat jy saam met jou vorentoe gaan neem?
Soos ek weer die episodes kyk, sien ek dinge van myself raak vir die eerste keer. Dis belangrik om te onthou – ons as deelnemers sien dié nou eers self vir die eerste keer. Ek sien nou vir die eerste keer hoe ander mense my dalk ervaar het: hoe ek praat, optree, hoe ek reageer onder druk. Dis ’n unieke ervaring om jouself só van buite af te beleef. Dis soms ongemaklik, maar ook ongelooflik waardevol.
Elke keer wanneer ek weer kyk of daaroor gesels, ontdek ek iets nuuts – ’n klein pêrel van wysheid. Ek het soveel geleer by die ander deelnemers en sjefs.
Ek is lief vir mense – nie noodwendig die life of the party nie, maar wel iemand wat luister, en soms iets sê wat sin maak. Wat ek besef het, is dat ek redelik gemaklik is met wie ek is. Ek is nie altyd reg nie – maar ek is oukei daarmee. Ek glo ons moet leer om mekaar te aanvaar, met al ons foute en weirdness.
Waarheen met lekkeslaap?
Ek het nog nie regtig daaroor gedink nie, maar daai R10 000 prysgeld van World Sports Betting het ’n baie spesiale doel gehad – ek het my vrou se trouring laat revamp vir ons 25ste huweliksherdenking. Dit was ’n wonderlike investering. So wie weet – dalk nog ’n investering, maar hierdie keer in tyd saam met haar. Sy was amper op pad vir Episode 13 . . . so hoekom nie? Die huisies waar ons gebly het tydens die opnames was pragtig – ek dink dit sal ’n perfekte plek wees om “Lekker te slaap”.
Kokkedoor Vuur & Vlam word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
Lees ook: Darren Scott op Laataand by Rian: ‘As ek nie kan praat nie, kan ek nie werk nie’