Dié kosreeks, wat in die Overbergse stranddorp Struisbaai verfilm is, begin Donderdag 6 Februarie om 20:00 op kykNET.
Kykers het in 2013 vir die eerste keer aan die Kokkkedoor-tafel kom sit en oor die jare het nog familielede van die reeks (Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie) geurryke vermaak verskaf. Vir Kokkedoor Vuur & Vlam, waarvan die eerste seisoen in 2023 uitgesaai is, gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei.
Die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha is oor 13 episodes op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier.
- ’n Onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar hul hart klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos.
- Kinkelbraaiers word gekies vir hul kwalifikasies en/of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.
Talle kos- of produkspesialiste, asook ’n bekende persoonlikheid of twee, maak verskynings in die reeks, terwyl die bekroonde kosskrywer en SARIE KOS-redakteur Herman Lensing en kosfoendi Errieda du Toit deel is van Kokkedoor Vuur & Vlam se vervaardigingspan.
Hier’s die Onthoubraaiers:
Godfrey Davids (41), Paarl (Tegniese klerk)
“Ek het ’n passie vir kosmaak en terselfdertyd is ek ook baie kompeterend. Ek wil vir mense van my plek en my woonbuurt wys niks is onmoontlik nie. As jy ’n doel het, fokus daarop, ongeag jou omstandighede. Volg jou drome en maak die beste van jou situasie. Jy kan ’n rolmodel wees vir ander wat te bang is om ’n geleentheid aan te gryp.”
Jay Maan (51), Pretoria (Oopvuursjef )
“Ek is twee keer gekies vir ander braaiprogramme, maar ek moes van beide onttrek. Toe ek Kokkedoor Vuur & Vlam op die skerm gesien het, het ek geweet dis wat ek wil doen. Ek’t ook gedink as “Mr Braai Guy” kan dit nie net ’n goeie uitdaging en leerskool vir my wees nie, maar ook goeie publisiteit.”
Benjie Benjamin (39), Kimberley (Hoogspanningselektrisiën)
“Almal sê altyd vir my ek braai lekker, en toe moedig my skoonma my ook aan om vir Kokkedoor Vuur & Vlam in te skryf. Ek het ook by myself gedink: Kom ons sien wat Bertus en Kobus van my braaivernuf dink.”
Suzie Wandrag (47), Strand (Smaakmaker en inhoudskepper )
“Ek wou meer mense, veral vroue, bewus maak van kos op vuur voorberei. Deur Women Fire Food wil ek vir vroue leer om te braai en ook kos te rook en hulle te laat besef dat dit oukei is om te braai en goed te wees daarmee. Daar is baie vroue wat braai, maar ons sien dit min. Braai is immers nie net ’n sport vir mans nie. Ek wou ook aan myself bewys dat ek goed genoeg is om aan so ’n groot kompetisie deel te neem.”
Ferdi Uys (45), Struisbaai (Produksie-adviseur in die mynbedryf)
“Ek hou van ’n uitdaging.”
Martin Steyn (53), Stellenbosch (Dominee)
“Braai is so deel van ons kultuur, maar tog ’n nuwe soort uitdaging. Iets wat my buite my gemaksone sou vat.
Nelia Lombard (46), Bellville (Vryskutwerknemer in die filmbedryf)
“Nadat ek die eerste seisoen van Kokkedoor Vuur & Vlam gekyk het, het ek eers gewik en geweeg om in te skryf. Die idee het wel by my bly spook vir ’n paar weke en op die dag voor die inskrywings sou sluit, het ek besluit om in te skryf. Ek was van twee goed seker: dat lekker kos, braai en onthaal my happy place is én dat hierdie ’n groot en heerlike avontuur gaan wees, een waarvan ek deel wou wees.”
Johan van der Watt (46), Bellville (Argitek)
“Ek het ingeskryf om nuwe resepte, bykosse en braaivernuf aan te leer, asook om my eie tegniek en braaistyl met my mededeelnemers te deel. Dit was vir my ’n groot toets teen myself om uit te vind hoe goed ek werklik is en of my ondervinding en tegniek kan saamgesels met die ander deelnemers om die braaivuur.”
Johan de Villiers (30), Durbanville (Operasionele bestuurder van hul familieplaas, Klein Roosboom)
“Dit was vir my ’n geleentheid om my vaardighede te toets, nuwe tegnieke te leer en natuurlik blootstelling vir ons plaas te kry. Boonop het ek die kans gekry om kos langs die see te maak en nuwe mense te ontmoet – wat beter kan ’n mens voor vra?”
Liz Nass (44), Pretoria (Entrepreneur)
“Ek het ingeskryf oor ek Liz is. Ek is “Liz” vir braai, kook, bak en kos. My ouma het as kind nie vir my stories nie, maar resepte gelees en my verbeelding geprikkel met moontlikhede vir die kombinasie van bestanddele. Ek het ’n inherente passie vir goeie, mooi kos. Na ’n hoë-intensiteitwerkdag kook en bak ek my flou of lees ’n resep of kostydskrif. Ek het geglo Kokkedoor Vuur & Vlam sal my passies bymekaarbring en my die geleentheid bied om te wys hoe lief ek vir kookkuns is. Ek wil baie graag mense met kos inspireer. “
Hier’s die Kinkelbraaiers:
Lollie Heyns (44), Milnerton (Professionele kok en uitvoerende sjef by Jéan Restaurant op die Klein Roosboom-wynlandgoed)
“Ek het besluit om myself ’n bietjie uit te daag en om buite my gemaksone sonder my span iets aan te pak. Om iets vir myself doen. En die eerste seisoen het na baie pret gelyk.”
Charlotte Minnaar (43), Centurion (Entrepreneur. Haar spysenieringsonderneming se naam is Charlotte’s)
“Ná ’n leeftyd van toere doen en met mense werk om vir hulle die beste vakansie van hulle lewe te help ervaar, het ek en my gesin in Maun, Botswana, gaan woon. Dit was ’n ongelooflike bos-ervaring met al ons vriende, maar vanweë Covid moes ons na Suid-Afrika terugkeer. In my hele lewe van in ander lande bly, het ek nooit gedink dat ek ooit in Pretoria sou opeindig nie. Skielik was ek en my familie in hierdie betonoerwoud, en ek het myself begin verloor. As jy eers ’n gids en ’n bosmens was vir so lank, is dit regtigwaar swaar om aan te pas in die stad. Mense jaag konstant en regtig … vir wat? Depressie het deel begin word van my elke dag, want waar begin mens nou weer op 42 ’n nuwe werkslewe in Suid-Afrika? Toe Kokkedoor Vuur & Vlam se inskrywings oopgemaak het, het ek besluit dis dalk net wat ek nodig het.”
Francois Binneman (35), Port Elizabeth (Professionele sjef en mede-eienaar van Food with Thought, ’n spysenieringsonderneming )
“Ek het ingeskryf omdat ek hou van uitdagings wat my vermoë as sjef toets en my kans gee om kreatief te wees. Suid-Afrikaanse kos en kosmaak op die vuur is vir my ’n passie, en ek wil ons tradisies na nuwe hoogtes neem. Ek hoop ook om deur hierdie platform ander te inspireer met ons land se ongelooflike kulinêre rykdom.”
De Wet Visser (37), Welgelegen (Verkoopsverteenwoordiger vir Cape Deli)
“Ek het so ’n groot liefde vir kosmaak. Ek wil graag die groot prysgeld wen en al my drome najaag. ”
Hantie Jansen (44), Windhoek (Eienaar van ‘n spysenieringsonderneming genaamd Sage by Hantie)
“’n Vriendin het my aangemoedig, en toe dink ek by myself: Hoekom nie? Ek wou kyk of ek iets sal regkry – iets wat heeltemal buite my gemaksone is.”
Vendi Klaushofer (40), Pretoria (Operasionele bestuurder van hul familierestaurant, Adler’s)
“Ek het nog nooit deelgeneem aan enige TV-kompetisie nie en het letterlik die dag voor die sluiting van die aansoeke, my aansoek ingedien. Ek was nogal nuuskierig oor wat werklik agter die kameras gebeur, en ek was lus vir ’n nuwe uitdaging wat ’n bietjie buite my gemaksone was. Om eerlik te wees, ek het nooit in my wildste drome kon dink dat ek gekeur sou word as een van die finaliste nie. ”
Lourens Engelbrecht (37), Pretoria (Vryskutsjef)
“Ek het gevoel dis die regte tyd om aan myself te bewys dat ek ‘nog kan’ en dat ek ‘meer is as net dit’. As student het ek aan baie kookkompetisies deelgeneem, en dit was vir my so lekker om dit te doen. Ek hou van die tydsdruk wat met so ’n kompetisie gepaard gaan. Ek werk op my beste as daar so ’n bietjie druk in die mix is. Ek was nog altyd ’n baie kompeterende mens, en dit het my gedryf om elke dag beter te wees as gister en die lat hoër te stel vir môre. Ek het gevoel Kokkedoor Vuur & Vlam sal die platform wees waar ek weer kan kompeteer. Wat is nou beter as ’n braaikompetisie? Dis mos in ons Suid-Afrikaners se bloed om te braai. Min het ek geweet Kokkedoor Vuur & Vlam is baie meer as dit.”
Mike van Rooyen (37), Johannesburg (Konsulterende sjef)
“Ek was deel van die Marble-restaurant in Johannesburg se span waar ons op vuur gekook het. Dis hier waar ek my kennis van vuur-kosmaak na ’n hoër vlak geneem het. Deur vir Kokkedoor Vuur & Vlam in te skryf, wou ek vir myself ’n naam in die kosbedryf maak.”
Nelda Buhr (57), Malmesbury (Kunstenaar)
“Ek het gevoel dis ’n goeie platform om myself uit te daag. Dis so ’n kreatiewe avontuur. Kokkedoor Vuur & Vlam gaan vir my oor baie meer as net kook. Ek is baie lief vir geskiedenis, en ek is altyd nuuskierig oor verskillende produkte en kookmetodes en oor waar goed vandaan kom. Die hele voorbereiding vir die kompetisie was so opwindend en leersaam.“
Stefan Weitz (36), Observatory (Voltydse sjef by ’n restaurant)
“Ek het ingeskryf om te sien hoe goed ek kan doen en uit te vind of ek dit in my het om die groot prys te wen. Ek het gehoop dat my tipe styl van kosmaak en die feit dat ek amper elke dag met vuur werk, iets anders na die kompetisie sal bring. Ek wou myself uitdaag en in die proses ook meer leer. ”
Lees ook: Ses vrae vir Je-Ani Swiegelaar, die geliefde Naomi Koster in ‘Binnelanders’