In vandeesweek se episode het glanssjef Bertus Basson en koskenner Kobus Botha met nog ’n eerste in Kokkedoor Vuur & Vlam, kykNET se spannende koswerklikheidsreeks, na vore gekom.
Van die deelnemers was uit die veld geslaan en ander heel in hul noppies toe hulle hoor dat daar hierdie keer nie in spanne gebraai gaan word nie, maar dat elke deelnemer op sy of haar eentjie die uitdaging moet takel.
Verlede week se wenners, Lorianne en Benjie het voorskootloos langs glanssjef Bertus Basson en koskenner Kobus Botha gestaan want as deel van hul sege kon hulle hierdie keer op die kantlyn staan. Die twee het aanvanklik baie ongemaklik gevoel, amper “soos stout kinders wat in ’n hoekie gesit is,” het Lorianne vertel. Maar hulle was duidelik verlig oor hierdie voordeel na afloop van die uitdaging.
Daar het nog ’n verrassing op die deelnemers gewag. Een van Suid-Afrika se legendariese solo-sangers, Rina Hugo (76), het ook kom inloer. Terloops, Rina is op 26 Januarie 2020 ingehuldig as ’n lewende legende in die Suid-Afrikaanse legendesmuseum. Sy was een van slegs 20 legendes van wie daar ook ’n borsbeeld gemaak is.
Die uitdaging op sigselwers was iets om te ervaar. Onder elke pragtige en unieke bord was daar ’n Afrikaanse spreekwoord wat die deelnemers moes gebruik as inspirasie vir hul disse.
Die spreekwoorde was almal op kos gemik en ja, dinge kán lekker kook in Afrikaans!
Hier is ’n paar van die spreekwoorde: Botter kan nie in sy mond smelt nie, hy skrik nie vir ’n koue pampoen nie, iets vir ’n appel en ’n ei verkoop, boontjie kry sy loontjie, mosterd na die maal, met die sak patats vorendag kom en in tamatiestraat wees.
Lees ook: Wat soek Kokkedoor: Son & See se beoordelaars? Sjef Yolani Abrahams vertel
Die kinkelbraaier wat vandeesweek huiswaarts moes keer, is Francois Binneman (35), ’n professionele sjef van Gqeberha en onthoubraaier Nelia Lombard (46) van Bellville, ’n vryskut in die filmbedryf.
Wat sê Francois?
Jy was twee episodes gelede tydens die koffie-uitdaging saam met jou spanmaat, Jay Maan, die wenners. Dink jy ’n spanmaat sou in hierdie episode in jou guns getel het?
Beslis! Ons het mekaar aangevul en mekaar gedruk om beter te wees. In ’n solo-uitdaging is jy baie meer in jou kop, en daar’s niemand om jou uit jou kop te kry of net ’n tweede opinie te gee nie. Maar dit het my ook geleer om my eie stem en styl te vertrou.
Rina Hugo is waarskynlik ’n tydjie voor jou generasie. Hoe was die ontmoeting met haar en het jy van haar geweet?
Ons het altyd Rina se musiek geluister – Sweef soos ’n Arend was ’n gunsteling! Ek het dus grootgeword met daardie stem in die agtergrond van my kinderdae. Dit was ’n voorreg om haar in lewende lywe te ontmoet! Sy straal só ’n warmte en grasie uit wat mens net stil maak. Ek het gevoel ek staan in die teenwoordigheid van ’n ware ikoon.
“Met die sak patats vorendag kom” was jou spreekwoord. Hoe het jy dit ingespan om jou dis te inspireer? Het jy enige goeie wenke rondom patats?
Ek het gedink: as ek nou my sak patats moet uithaal, dan gaan ek dit met flair doen! Patats is vir my trooskos – dis so veelsydig, of jy dit rook, rooster of selfs in die kole gaarmaak. My wenk? Sit dit met skil en al in die kole, en laat dit natuurlik karameliseer. Dan balanseer jy dit met iets sout soos feta of bros spek vir daardie wow-kontras.
Jy was opgewonde om jou eie kos op jou eie styl voor te berei. Hoe verskil dit wat jy solo voorberei van dit wat jy tot nou toe met ’n spanmaat gedoen het?
Wanneer ek solo kook, kom my eie hart en storie veel meer deur. Ek kies elke element volgens persoonlike betekenis – elke geur dra emosie. In ’n span leer jy om te kompromiseer, maar solo leer jy om jou eie stem te vertrou. Dis bevrydend . . . en terselfdertyd ’n bietjie vreesaanjaend ook!
Wat lê nou vir jou voor? Sal jy weer aan so ’n werklikheidsreeks deelneem?
Ek sal beslis weer! Hierdie reis het my nie net as sjef laat groei nie, maar ook as mens. Ek voel meer seker van wie ek is en wat ek wil sê deur my kos. Maar vir eers wil ek my energie sit in ons besigheid, Food with Thought, en aanhou mense verras met vuur, liefde en geur!
Wat was die beste deel van Kokkedoor Vuur & Vlam vir jou?
Die mense. Die kamera ágter die kamera. Die trane, die lag, die laatnag-beplan . . . en daai oomblikke waar jy jouself verras met wat jy kan doen. Ek sal elke oomblik koester – dit was ’n avontuur van selfontdekking.
Wat beplan jy met jou deel van lekkeslaap se R10 000?
Ek en my vrou droom al lank van ’n wegbreek net vir ons twee. Stilte, natuur, vlamme en wyn – dis ons taal van liefde. As daar iets is wat Kokkedoor Vuur & Vlam my weer geleer het, is dit om die lewe te vier – elke vuur, elke vlam.
Wat sê Nelia?
Jy’t ’n voorgevoel gehad dat twee spanne dalk hierdie week voorskote sal moet ophang. Het jy vermoed dat dit jy gaan wees?
Ek het definitief geweet die kanse vir op-slip en foute maak is nou verby en dat ek alles gaan moet gee om in die kompetisie te bly. Net die blote feit dat al die deelnemers wat nou nog oor is in die kompetisie sulke fantastiese kokke is, het dit vir my duidelik gemaak dat ek ’n goeie kans staan om huis toe te gaan.
Die gemengde gevoelens wat opgeduik het toe julle ingelig is dat dit elkeen vir hom- of haarself is in die kombuis . . . Hoe het jy daaroor gevoel en hoe het jy die beste daarvan probeer maak?
Ek dink eerlikwaar dit was vir my ’n groot verligting. Ek het regtig die dag gevrees dat ek dalk moontlik die rede kan wees vir iemand anders om hulle plek in die kompetisie te verloor omdat ek miskien droog gemaak het. Maar ek het ook vinnig na die laaste uitdaging besef dat spanwerk so belangrik is en team work makes the dream work. Ek dink as Stephan, Francois of De Wet daai dag langs my gestaan het, sou al drie van hulle beslis vir my gesê het “gaan haal die winkelbrood uit die spens en sit weg daai deeg . . .”
Rina Hugo. Hoe was dit om haar te ontmoet?
Ek het grootgeword met al die legendes. Tannie Carike [Keuzenkamp], Annelie van Rooyen en natuurlik Tannie Rina. Dit was vir my werklik ’n groot voorreg om haar te ontmoet. Sy het haarself so oor my ontferm toe ek oor my seuns praat en vertel hoe baie ek hulle mis. Sy het ’n hart van goud.
Jou spreekwoord was: In tamatiestraat wees . . . Wat het jy daarvan gedink? En het jy ’n gunsteling tamatie-dis vir ons kykers?
Ja, ek dink dit is duidelik dat ek met hierdie uitdaging myself pens-en-pootjies reg in die middel van tamatiestraat geplaas het. Ek was kniediep in die moeilikheid met my braaibroodjie. Ek moet ook sê, as dit by tamaties kom is daar vir my niks lekkerder as ’n sappige ryp tamatie met net so ’n bietjie sout en peper nie.
Vir jou was daar ook die gevoel dat jy dinge bymekaar moet bring en onthou hoekom jy lief is vir kosmaak. Waar het alles vir jou begin? En wie inspireer jou?
Ek het maar grootgeword met ’n ouma en ’n ma wat altyd aan die kook was. Kosmaak was net nog altyd deel van wie ek is. As ek sien en hoor dat mense my kos geniet wat ek vir hulle voorsit, inspireer dit my beslis om aan te hou groei en nuwe dinge te probeer. Dit was vir my regtig ’n voorreg om saam met elkeen van hierdie deelnemers hierdie paadjie te stap en om elke dag te sien met hoeveel passie en liefde hulle elke bord kos aanpak. Dít inspireer my.
Jou braaibroodjie was vir jou kinders. Vertel gerus meer van hulle. Kan hulle jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam volg?
Ja, dit was vir Michael (19) en William (17), my trots en my hart se punt! Hulle woon by hulle pappa in Brisbane, Australië. Ek mis hulle elke dag. Ek vlieg binnekort Brisbane toe om vir hulle te gaan kuier en ek is vreeslik opgewonde om hulle stukkend te bederf met al hulle gunsteling-disse. Hulle het gesê hulle sal wag tot ek kom, dan kyk ons Kokkedoor Vuur & Vlam saam. Ek kan nie wag nie en ek hoop ek maak hulle trots.
Wat was die waardevolste les/se wat jy tydens Kokkedoor Vuur & Vlam geleer het? En gaan jy dit vorentoe in jou lewe toepas?
Wees braaf, ek moet in myself glo en ek moet nie bang wees vir mislukking nie. Dit is hoe ek hoop om elke dag van my lewe, en elke taak, aan te pak. En ek hoop dit is iets wat my seuns in my kan raaksien en ook in hul eie lewens sal toepas.
Kokkedoor Vuur & Vlam word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.
Lees ook: Twee karakters, een aktrise: Sandi Schultz se mees uitdagende rol tot nou toe