In hierdie episode is daar frustrasie, irritasie, hartseer en selfverwyt – alles bestanddele vir ’n vuurwarm ervaring met baie min tyd en ’n groot uitdaging.
Die spanne moes pyle kies – óf rooi vir teenoorgestelde smake en teksture (opposites attract) óf blou (voëls van eenderse vere) vir smake en teksture wat klassiek by mekaar pas. En nog ’n kinkel . . . daar moet ’n vyeblaar, sjokolade en heuning iewers by die disse ingewerk word!
Terwyl glanssjef Bertus Basson en koskenner Kobus Botha die liefdestaal van kos liries besing het, was daar twee deelnemers wat ten spyte van die bloed, sweet en trane wat hulle in die stryd gewerp het, tog wel hul voorskote moes ophang.
Die twee deelnemers wat se disse deur ’n Kupido-kolskoot getref is, is kinkelbraaier Mike van Rooyen (37), ’n konsulterende sjef van Johannesburg en onthoubraaier-spanmaat Ferdi Uys (45), ’n produksie-adviseur in die mynbedryf, van Struisbaai, het koning gekraai met hul perfek-gebraaide tuna en pannekoek met bruin botter.
Wat sê Mike?
Wat het jy van die gekleurde pyl wat julle gekies het, gedink? Het dit jou bekommerd gemaak of stilweg laat juig?
Ons was opreg opgewonde oor die uitdaging. Eerlik gesê, enige kleur pyl sou wonderlik gewees het want vir ons gaan dit alles daaroor om die uitdaging saam aan te pak en dit ons beste te gee. Dit gaan oor spanwerk, kreatiwiteit en om die beste te maak van wat ook al oor ons pad kom. Die blou pyl was perfek vir ons dis.
Jy het ’n Mexikaanse sous met beenmurg gemaak. Is Mexikaanse disse een van jou go to-disse of watter ander lande se kookkuns inspireer jou ook?
Ek is mal oor die geure van Mexiko. En ek was gelukkig genoeg om Tulum, een van die bekendste plekke in Mexiko, te besoek waar ek ’n paar werklik outentieke geregte geniet het. Daardie ervaring het my beslis bygebly. Maar as ’n span put ons inspirasie uit soveel verskillende oorde. Suid-Amerikaanse en Japannese kookkuns is ook ongelooflik inspirerend. Die vrymoedigheid en diepte van Suid-Amerikaanse geure gekombineer met die elegansie en akkuraatheid van Japannese kookkuns dryf my altyd om nuwe dinge te probeer.
Wat het jy tot dusver van Ferdi geleer?
Om saam met Ferdi te kon werk was so ’n lonende ervaring. Hy is ’n ongelooflike spanmaat en ek voel dat ons kommunikasie en begrip werklik dit versterk het wat ons as ’n span kon vermag. Sy kalm, gefokusde benadering is iets wat ek werklik bewonder, en ek leer so baie by hom elke keer as ons saam kook. Dit is beslis ’n spanpoging en ek is dankbaar om saam met iemand so passievol en toegewyd te werk.
Jy is nie ’n vreemdeling wat wen op Kokkedoor Vuur & Vlam betref nie. Is elke wen vir jou anders? Hoeveel het hierdie wen vir jou beteken?
Elke wen voel heeltemal uniek en ons is ongelooflik dankbaar en nederig vir elke wen. Dit gaan nooit daaroor om te verwag om te wen nie; dit gaan daaroor om alles wat ons het in die uitdaging te sit en saam te werk om iets spesiaals te skep.
Hierdie oorwinning was werklik betekenisvol, want dit is nog ’n tree vorentoe in ons reis van leer, groei en samewerking. Ons voel so geseënd om ons passie vir kos te kan deel en ook om onsself as ’n span aan te hou motiveer.
Wat sê Ferdi?
Wat is jou tipiese idee van ’n romantiese aand?
Ek en my vrou langs die groot oseaan . . . sy met ’n glasie wyn en ek met ’n bier in die hand.
Het jy al ooit voorheen met heuning, vyeblare en sjokolade kos gemaak?
Ek het wel al met heuning en sjokolade saam gewerk, maar nog nooit met vyeblare nie. Maar soos daar gesê word: Daar’s altyd ’n eerste keer.
Van die ander deelnemers het ook tuna gemaak, maar jy het duidelik ook idees oor hoe daar met tuna te werk gegaan moet word. Deel gerus ’n paar van jou idees.
Tuna is die beste vars uit die see. Ek maak graag sashimi (snye rou vis) met ’n bietjie balsamiese asyn of suurlemoensap. Anders braai ek dit met knoffelbotter, medium tot rare, soos ’n steak. Dan bietjie sout en peper en ek rond dit af met suurlemoensap.
Het jy en Mike mekaar eindelik voor die vuur gevind?
Ja, ek en “Magic Mike” het eindelik mekaar gevind. Met my rustic kennis van kook en sy spesifieke, gesofistikeerde en fassinerende kennis van kos het ons daarin geslaag om interessante en mooi borde voor te sit. Waar oud en nuut mekaar vind . . .
Basies kan Bertus se terugvoer op julle disse met een woord opgesom word: Fantasties. Hoe het dit vir jou gevoel om dit te hoor?
Dis altyd great om goeie terugvoering te kry, veral van iemand soos Bertus met sy breë kennis van kos. Hy’s ’n legend, nie net omdat hy in Kokkedoor Vuur & Vlam is nie, maar ook as restaurateur.
Dis koebaai-tyd vir twee vasbyters
Kinkelbraaier Charlotte Minnaar (43), entrepreneur en eienaar van ’n spysenieringsonderneming, van Centurion en haar onthoubraaier-spanmaat Godfrey Davids (41), ’n tegniese klerk by die Mediclinic in die Paarl, moes vandeesweek groet.
Kokkedoor Vuur & Vlam word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.
Lees ook: Margaret oor selfvertroue en snedige kommentaar: ‘Ek’s benoud vir wat mense oor my gaan skryf’