Reeds met die aanvang van die 7de episode van Kokkedoor Vuur & Vlam, kykNET se gewilde werklikheidsreeks, was dit duidelik: Hierdie gaan nie ’n mak dag wees nie. Bertus Basson en koskenner Kobus Botha se interessante aankoms het dit bevestig.
Die twee daag toe so ewe op met Kobus as Bertus se passasier op sy brullende Harley Davidson, oftewel “oumansfiets” soos kinkelbraaier Lourens Engelbrecht dit laggend genoem het.
Bertus sê hy het nog nooit iemand ontmoet wat kwaad van ’n bike afklim nie. Tog is die vermoede daar dat die 12 motorfietsryers wat in die koue vanuit die Kaap onderweg na Struisbaai is vir ontbyt, dalkies kwaad kan wees as hulle nie ’n lekker brêkfis van die onthou- en kinkelbraaiers kry nie. Bikers is hónger wesens . . .
Vir hierdie episode was Bertus en Kobus op soek na een volledige ontbyt wat eiers insluit. Die eiers moes daar wees en gesien kan word want, soos Bertus dit gestel het, dit eer die hoender en dis mos boonop die Kokkedoor-logo!
Die tweede deel van die uitdaging was soos ’n action station: Of ’n wafel of ’n taco of ’n jaffle op die vuur. Die spanne moes lootjies trek om te bepaal watter een van die drie hulle op die vuur gaan maak.
Lees ook: KYK | Natasha Joubert deel foto’s van sprokiestroue!
Kinkelbraaier Lourens Engelbrecht (37), ’n vryskutsjef van Pretoria en sy onthoubraaier-spanmaat, Johan de Villiers (30), operasiebestuurder van Klein Roosboom naby Durbanville, was vol selfvertroue oor hul sukses, veral toe hulle die jaffle-lootjie getrek het.
Hulle was reg. Bertus het erken hy sou baie ver ry om weer so ’n uithaler-ontbyt te kan nuttig.
“Ag, f*k”, was die woorde wat onthoubraaier én biker Suzie Wandrag (47), ’n smaakmaker en inhoudskepper van die Strand, geuiter het toe sy besef sy en kinkelbraaier-spanmaat Vendi Klaushofer (40), die operasionele bestuurder van ’n familierestaurant in Heidelberg (Gauteng) se vuurtjie is geblus. Sy het erken sy wou eers iets fênsie maak, maar toe besef eintlik is dit ’n braaibroodjie wat moet gebeur, maar teen daardie tyd het Vader Tyd hulle ingehaal.
Wat sê Suzie?
Jy is self ’n biker. Vertel meer! En hoe het jy gevoel toe jy hoor julle moet ontbyt vir 12 motorfietsryers maak?
Ek ry self bike en het gewoonlik aan offroad-kompetisies deelgeneem tot waar ek te veel stopsels los geval het. Ek het toe maar besluit om eerder ’n ander soort motorfiets te koop . . .
Ek was toe baie in my noppies om te hoor ek kan ontbyt maak vir mý mense!
Jy en Vendi het goed saamgewerk as ’n span. Is daar iets wat jy by hom geleer het?
Vendi is regtig so ’n goeie ou. Hy het my geleer om nie te ernstig te wees nie. Dinge gebeur en werk uit soos dit moet. Ons kan almal by Vendi iets leer.
Wat lê nou vir jou voor? En sal jy weer aan so ’n werklikheidsreeks deelneem?
Eks alweer woelig. Ek het klaar ’n idee vir TV aangestuur waar ek saam met vroue wil braai. Ek bied ook nou smoking courses aan vir mans en vroue. My rissiesous (Donkiebyt) is ook binnekort aanlyn en in winkels beskikbaar. Ek het in 2021 goud en dubbel goud vir Donkiebyt by die Aurora International Taste Challenge gewen.
Kom ons kyk wat eerste gebeur.
Wat gaan jy met jou gedeelte van lekkeslaap se R10 000 aanvang?
Ek en my liefie is al 20 jaar saam, maar nie getroud nie. Ons kort ’n break. Ons gaan hopelik in September ’n bietjie kan weggaan. Langebaan, staan reg, ons is op pad!
Wat sê Vendi?
Jy was lus vir ’n nuwe uitdaging wat ’n bietjie buite jou gemaksone was. Hoe ver het Kokkedoor Vuur & Vlam die grense vir jou verskuif?
Kokkedoor Vuur & Vlam was verseker een van die moeilikste uitdagings wat ek al in my lewe aangedurf het, maar dit was ook een van die mees bevredigendste ervarings wat ek al gehad het.
Die reeks het my geleer om meer in myself te glo . . . Ek is normaalweg maar ’n man van min woorde, maar Kokkedoor Vuur & Vlam het my selfvertroue ’n lekker boost gegee!
In ’n stadium het jy gesê die uitdaging was eintlik ’n maklike opdrag. Jy het ’n Franse roosterbrood-jaffle gemaak. Is dit iets wat jy ook in julle familie-restaurant sal doen?
Ja, ek sal beslis die Franse roosterbrood-jaffle in ons familie-restaurant bedien. Ek het dit weer vir my gesin by die huis gemaak – en hierdie keer was dit foutloos.
Die druk tydens die reeks is nogals rof. Dan is ’n mens se kop oral wat natuurlik veroorsaak het dat my jaffle een gróót flop was.
Dit kom voor asof jy nie iemand is wat maklik tou opgooi nie. Is dit hoe jy in die algemeen optree?
Ek is al deur baie moeilike en harde tye in my lewe, maar ek het nog nie, en sal nóóit, tou opgooi nie. Jy moet net aanhou en dan sal jy deur enige storm kan loop. En ja, dis hoe ek ook maar is – ek pak die bul by die horings en kyk wat gebeur.
Dit het gelyk of jy en Suzie as ’n span mekaar goed verstaan het. Wat sou jy as een van haar beste eienskappe beskryf?
Suzie het ’n ongelooflike sterk persoonlikheid en sy gee ook nie op nie, en daarom het ons mekaar so goed verstaan en gelees. Sy maak nie ’n moordkuil van haar hart nie en haar eerlikheid en ons wedersydse respek vir mekaar het van ons ’n goeie span gemaak. Ek dink ons gaan lewenslange pelle bly.
Is daar iets wat jy uit Kokkedoor Vuur & Vlam geleer het wat jou op die pad vorentoe gaan help?
Die reeks het my geleer dat mens jouself daar buite móét sit en nie toelaat dat die vrees vir die onbekende jou ooit terughou in die lewe nie. The sky is the limit!
Jy noem dat hierdie een van jou top-3 ervarings was. Vertel gerus meer oor die ander twee.
My eerste top-ervaring was toe ek as ’n baie jong sjef (in my twintigs) aangestel is as die Executive Head Chef van ’n bekende 4-ster hotelgroep in Suid-Afrika.
My tweede top-ervaring was die dag toe ek my vrou voor die kansel ontmoet het in haar trourok. Dit was soos ’n sprokie. Ek is nogals ’n romantiese ou en steeds verlief op my bruid.
Wat gaan jy met jou gedeelte van lekkeslaap se R10 000 aanvang?
Ek gaan beslis my vrou wegneem vir ’n lekker bederf, maar iewers waar ons twee nog nie vantevore was nie.
Kokkedoor: Son & See
KykNET soek nou na deelnemers vir Kokkedoor: Son & See, wat die vyfde gedaante van die Kokkedoor-familie is. Mense moet as ’n span van twee familielede inskryf en daar moet boonop ’n generasiegaping van ten minste 20 jaar tussen die twee spanlede wees. Daar word ook net na huiskokke gesoek word en dat daar nie deelnemers met ’n kwalifikasie as professionele sjef gaan wees nie. Kry die aansoekvorm by kyknet.tv en volg die stappe of stuur ’n e-pos na [email protected].
Lees ook: Kokkedoor trek ’n ander voorskoot aan vir nuwe seisoen: Het jy wat dit vat?