Wanneer jy so na die driejarige Kate Allwood luister wanneer sy saam met die karakters in haar gunsteling-DVD, Rio, sing, sou jy nooit raai dat sy met die ergste graad van doofheid gebore is nie. Haar groot bruin oë vonkel, en haar lyfie wikkel op die maat van die musiek. Haar bruin hare hang parmantig oor haar ore en versteek alle tekens dat sy twee kogleêre inplantings het. Dis vir ouers opwindend wanneer hul kleinding ’n nuwe woord leer en sê. Maar wat as jou kind dalk nooit kan hoor hoe jy haar naam sê nie?
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Vir Kate se ouers, Sarah en Anthony, is elke nuwe woord wat hul dogter sê, ’n wonderwerk. Toe Kate die dag vir haar ouers sê sy’s lief vir hulle, het die vreugdetrane gevloei.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Sarah en Anthony se lewe is drie jaar terug tot stilstand geruk deur die nuus dat hul babadogter nooit sal kan hoor nie. Daar was vir hulle geen rede om te vermoed dat sy doof is nie. Die feit dat Kate op harde klanke gereageer het, het die ouers gerusgestel. “Nou weet ons dit was omdat sy op die vibrasies, en nie klank nie, gereageer het,” sê Sarah.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Roetine-gehoortoetse is gedoen toe Kate twee dae oud was. Hoewel daar abnormaliteite was, het die oudioloog Sarah gerusgestel en gesê indien daar fout is, sal dit met die opvolg-ondersoek op ses weke opgetel word. Eers met die derde stel toetse op tien weke het haar ouers die skoknuus gekry: Kate het die ergste graad van doofheid.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Die laaste ding waaraan die Allwoods toe gedink het, was kogleêre inplantings en dat daar wel hoop is.
“Ouers het altyd die hoogste hoop vir hul kinders. Soms wil jy selfs jou eie lewe deur jou kind leef. Hul sukses is jou sukses ook. Dis moeilik om die moderne, mededingende, inligtingsgedrewe wêreld te vermy. Ons, en almal wat ek ken, is deel daarvan en ons vergelyk onsself daarmee. Dis normaal,” sê Sarah.
Nie lank hierna nie het Sarah en Anthony die nuus gekry dat Kate ’n kandidaat is vir kogleêre inplantings deur die Tygerberg-hospitaal se kogleêre inplantingsprogram. Hulle was in die wolke. Daar was hoop!
Kate het haar eerste “bioniese oor” op vyf en ’n half maande gekry en die tweede op elf maande. Die letsels moes eers genees en Kate se ore is ’n paar weke later “aangeskakel”. Byna die hele familie het van oral oor Suid-Afrika vir die spesiale geleentheid Kaapstad toe gegaan.
“Kate kon eers nie verstaan wat op aarde gebeur nie. Sy’t doodstil gesit en verwonderd na die nuwe geluide in haar kop geluister. Wat ’n ongelooflike dag!” Maar dis nie alle gehoorgestremdes wat so bevoorreg is om te kan hoor nie. Die koste verbonde aan kogleêre inplantings is astronomies. En daar hou dit nie op nie. Daar’s deurlopende mediese en hardewarekoste. Behalwe die geldsake, vereis so iets die uiterste dissipline en geduld van die ouers.
Kate was reeds deel van ’n kogleêre inplantingsprogram by die Carel du Toit-sentrum vir gehoorgestremde kinders in Kaapstad toe sy haar inplantings ontvang het. “Ons het dus presies geweet wat op ons wag toe sy die dag kon hoor.”
Sarah het 18 maande tuis saam met haar bruinoogdogter deurgebring om haar te leer praat, en het soms tot ses uur per dag met haar gewerk.
“Ons moes elke dag klank- en gehooroefeninge doen. Daar is ontsettend baie gepraat, geluister, gelees. Ek sou daarop let om haar aandag te vestig op elke klank wat ek hoor, en haar leer om sin te maak uit alles. Ek was permanent uitgeput, en byna uitgebrand, maar ek was vasbeslote om my dogter die beste kans te gee wat ek kon!”
Behalwe Kate se probleem met balans (sy kry fisioterapie hiervoor), is daar min wat haar van ander kinders van haar ouderdom onderskei.
Met haar verbeelding skort niks, en wanneer sy begin babbel oor haar fantasiewêreld, word elke woord perfek uitgespreek. Haar maatjies is mal oor haar en het nie ’n benul dat Kate nie normaal kan hoor nie
“’n Kind met ’n gebrek plaas geweldig baie spanning op ’n ouer, én op die huwelik. Kate is ’n seën en ons dink nie aan haar as ‘gestrem’ nie. Die ding het ons sterker gemaak. Ons het baie drome vir haar gehad, maar alles het verander. Ons is gedwing om te besin oor wat werklik belangrik is.
“Die grootste geskenk wat ons Kate kan gee, is selfvertroue wat haar sal help om die lewe met gemak in die oë te kyk. Ons is glad nie meer behep met prestasie en kompetisie nie, maar eerder dat sy lief sal wees vir die lewe, elke dingetjie wat sy doen, sal geniet, sal lag en ’n gelukkige kind sal wees. Ons is dankbaar vir hierdie wonderwerk en wil hê sy moet met dieselfde dankbaarheid leef!”
Kate se verhaal is ’n gelukkige een. Maar daar is baie ouers wat nie die waarde van gehoortoetse in die eerste weke van hul kind se lewe besef nie. Sarah glo doofheid hoef glad nie meer ’n gestremdheid te wees nie, solank dit net vroeg genoeg geïdentifiseer word. “Kogleêre inplantings het ons die grootste wonderwerk gegee waarop ons kon hoop: ’n normale kind!”
Kinders leer praat deur na die taal om hulle te luister. Teen die tyd dat ’n kind sy eerste woord sê, is hy al ’n jaar lank aan taal blootgestel. Hoe langer ’n kind nie klanke of woorde kan hoor nie, hoe moeiliker is dit vir hom om te leer praat. Dit is waarom vroeë diagnose en ingryping belangrik is om die kind die beste kans op “normale” kommunikasie te gee.
Die jongste navorsing toon hoe vroeër ’n kind gediagnoseer en met die toepaslike gehoorapparate toegerus word, hoe groter is sy kans om ‘n agterstand in te haal.
Nie alle kinders kan deur ’n kogleêre inplanting gehelp word nie. As kinders te oud is (ouer as agt jaar as hulle doof gebore is) en reeds gebaretaal gebruik as kommunikasiestelsel, sal hulle nie baat vind by ’n inplanting nie, want die brein kan suiwer tone en omgewingsklanke hoor, maar kan nie sin maak uit ’n komplekse sein soos spraak nie. So ’n kind sal dus ’n vragmotor kan hoor, maar nie spraak kan volg nie, sê Tamara van Zyl, oudioloog wat kliniese ondersteuning bied vir Southern ENT, ’n maatskappy wat kogleêre inplantate van Australië af invoer.
“’n Kogleêre inplanting is nie ’n kitsoplossing nie,” sê Tamara. “As die inplanting nie op die oor is en aangeskakel is nie, het die persoon steeds uitermatige gehoorverlies. Ouers moet baie keer vrede maak daarmee dat hulle ’n kind met ’n gehoorgestremdheid het.”Sommige mense verloor hul gehoor oornag weens trauma, of ander verloor dit geleidelik weens verskeie faktore. “Hierdie mense het, behalwe die gesproke taal, gewoonlik geen ander manier van kommunikeer nie. Dit is ontsettend traumaties wanneer hulle skielik afgesny is van alles. Erge depressie en onttrekking aan die samelewing is ‘n natuurlike gevolg vir baie,” sê Nicolene Steynberg, bemarker vir Southern ENT. Ook sulke gevalle kan deur ’n inplanting gehelp word.
Dis ’n oplossing wat chirurgie behels om gehoorvlakke na normaal te herstel. Anders as konvensionele gehoorapparate wat klanke harder maak, vervang ’n kogleêre inplanting die beskadigde binne-oor (die koglea). ’n Elektriese toestel word in die binne-oor geplaas wat elektriese impulse gebruik om die kogleêre senuwees te stimuleer op dieselfde manier wat die klein haartjies in die oor dit sou doen.
Een kogleêre inplanting begin by R300 000 – hospitalisasie, chirurgie, inplanting en rehabilitasie in ag geneem. Sommige mediese fondse betaal dit ten volle, ander net gedeeltelik, en ander glad nie.
“Dis ’n groot behoefte dat meer mediese fondse uiteindelik ten volle sal verstaan watter ongelooflike verskil hierdie tegnologie vir gehoorgestremdes maak,” sê Nicolene.
Daar is ook ’n lewenslange finansiële implikasie, want die prosesseerder wat aan die buitekant gedra word, moet onderhou, herstel en opgegradeer word wanneer dit te oud is (sowat elke vyf jaar).
Daar bestaan kogleêre inplantingsprogramme by staatshospitale soos Chris Hani Baragwanath, Steve Biko Akademiese Hospitaal, Tygerberg in die Kaap en Universitas in Bloemfontein. Die fondse is egter beperk, en daar is lang waglyste. Die staat begroot vir ’n sekere aantal inplantings per jaar of begin insamelingsprojekte om meer pasiënte, wat dit nie kan bekostig nie, te probeer help.
• Volwassenes (geen ouderdomsbeperking)
• wat matige tot algehele gehoorverlies in albei binne-ore (dus, skade aan die koglea) het
• die gehoorsenuwee tussen die brein en die oor moet werk
• wat geen of min baat vind by gehoorapparate nie
• wie se uitslae 50% of minder is op die sinherkenningtoets in die oor waarin die inplanting gedoen gaan word
• wie se uitslae 60% of minder is in die oor waarin geen inplanting gedoen word nie, of in albei ore met gehoorapparate
• Kinders (so jonk as 6 maande)
• wat erge of algehele gehoorverlies in albei ore het
• die gehoorsenuwee tussen die brein en oor moet werk
• wat geen baat vind by gehoorapparate nie
• wat geen vordering toon in spraakontwikkeling nie
• wat families het wat toegewyd is om die kind te leer praat en deel van die horende samelewing te wees.
Sy is nie net die eerste dowe vrou om as Mej. Suid-Afrika gekroon te word…
Het jy geweet dat meer vroue jaarliks aan hartvatsiektes en beroertes sterf as mans? Gelukkig kan…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele 1 ½ koppie gladde medium-vet maaskaas – kamer…
Daar is baie maniere en wenke om vetplante te laat gedy. Hier is nege wenke…
As Karlien van Jaarsveld die horlosie kon terugdraai, sou sy dieselfde keuses gemaak het, want…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele 2 koppies koekmeel ¾ koppie Amasi ¼…
Hierdie webwerf gebruik koekies.