Jy vra: Is die Ponseti-tegniek vir klompvoet pynlik vir kleintjies? Deur Salome Delport. Hooffoto: GENNADIY BALOVLENKOV/istock images
Klompvoete by kinders is in ons land baie algemeen. In enige gegewe jaar word daar in suidelike Afrika rondom 11 000 kinders met ’n klompvoet gebore word. Dit is soveel kinders as in elf groot stadskole, met ander woorde taamlik baie kinders. Jou kind se klompvoet is dus nie so raar nie – en gelukkig is daar regtig goeie behandeling vir klompvoet.
Ons gesels met Karen Moss, self die ma van ’n seun wat met klompvoete gebore is. Ná haar belewenis hiervan is sy passievol oor die Ponseti-tegniek – so passievol dat sy STEPS begin het, Haar droom is om elke enkele kind wat met ’n klompvoet gebore is die kans te gee om normaal te kan loop.
STEPS werk hard om die Ponseti-tegniek landwyd bekend te stel. Met die skryf van die artikel is dit reeds by 29 sentrums beskikbaar, insluitend al ons opleidingshospitale, beskikbaar, terwyl 512 gesondheidswerkers opgelei is daarin.
Ons vra haar uit. As jy nog vrae het, plaas dit onderaan, en ons vra haar verder.
Eerstens: Is ’n klompvoet seer vir jou baba?
“Nee, dit is nie pynlik nie. Maar as dit onbehandel bly gaan jou kind sukkel om te loop en selfs nooit kán loop nie, en dan met pyn sit.”
Veroorsaak die Ponseti-tegniek “pyn en lyding”, soos een van ons lesers vra?
“Nee, regtig nie. Dit is verstommend om te sien hoe vrolik en gemaklik hierdie outjies is, spalkies en al. Hulle huil nie – wel, nie meer as ander kinders nie. Alle kinders huil as hulle honger of moeg is.”
“’n Mens se eerste reaksie op klompvoet en spalkies en gips is emosioneel. Ek verstaan dit – ek was ook daardeur. Dit lyk erg om jou piepklein babatjie so gespalk te sien. Feit is dat jou kleintjie nie gesny is nie, geen penne het nie, nie onder narkose was nie en eintlik heel gemaklik is. Wees gerus, die Ponseti-tegniek is nie pynlik vir jou kind nie, en veroorsaak nie pyn nie.”
Wat is die opsies vir behandeling, as jou baba met ’n klompvoet gebore is?
“Eintlik het jy maar net twee opsies, want jy kan vir seker nie die voetjie net so los nie:
- Voetchirurgie: Dit is wel suksesvol, en binne ses weke is die gips af. Maar dit is ’n pynlike operasie vir die kind – en duur vir jou. Dié operasie word deur ’n pediatriese ortopeed gedoen. Die eintlike kommer is die komplikasies wat die kinders later vanaf hul tienerjare kan ervaar. Baie het as volwassenes erge voetpyn, en/of ontwikkel jonk artritis in die voetbene.
- Die Ponseti-tegniek: Die kind ondergaan nie ’n operasie nie. Sy been is in gips en hy dra vier jaar lank ’n spalk – meestal darem net snags. Vandag sien dokters dit as die goudstandaard vir klompvoetjies, juis omdat dit minder ingrypend is as ’n operasie en selde komplikasies veroorsaak. Basies word sy voetbene en kraakbeen in die regte posisie gedraai en gegips sodat dit set en geleidelik “reg” trek. Die gips word elke paar dae afgehaal, die voet word verder geposisioneer en weer gegips. Die kleintjie dra vir die eerste drie maande heeltyd ’n voetspalk. Daarna, en tot op vier jaar, dra hy dit twaalf uur per dag, hoofsaaklik snags waarvan hy die grootste gedeelte omslaap.”
Op watter ouderdom moet ’n mens met die Ponseti-tegniek begin?
“Hoe gouer jou dokter hiermee begin hoe beter is die uitkoms. Die ideaal is om in die eerste week van jou baba se lewe te begin, terwyl sy kraakbeen en been nog sag en buigsaam is.”
“Dit pas ook beter in by kinders se natuurlike ontwikkeling, aangesien jou kind op drie, vier maande, wanneer hy begin skop, sit, staan, kruip en stap, oorskakel na die nagspalkie, wat hom nie ernstig inperk nie.”
Enige risiko’s aan die Ponseti-tegniek?
“Nee wat, dit is ’n “sagte” benadering. Die ergste wat kan gebeur is dat jou kind se voetjies nie wil regskuif nie. In hierdie geval is ’n operasie die beste opsie. Sowat een uit elke vyf kinders word wel geopereer.”
Gaan die Ponseti-tegniek veroorsaak dat jou kind so ’n bietjie stadiger as ander kinders leer loop?
“Die navorsing wys Ponseti-babas haal hul mylpale soos staan, kruip en loop op dieselfde ouderdom as ander kinders. Mense is altyd verras as hulle dit sien maar hierdie kinders sit, kruip, staan en stap, spalkie en al.”
Wat van sport ná die Ponseti-tegniek?
Kan ’n kind met ’n klompvoet wat herstel is met die Ponseti-tegniek deelneem aan sport wat “harde” voetwerk verg, soos rugby, hokkie, atletiek, sokker en tennis? Of moet hulle liewer bly by roei en fietsry?
“Kinders wie se klompvoet met die Ponseti-tegniek gekorrigeer is, kan deelneem aan enige sportsoort – rugby, ysskaats, enige iets anders. Hul voetjies is ten volle funksioneel. Sport is inderdaad belangrik vir hulle, omdat dit die spiere en ligamente soepel en sterk hou, wat goed is vir hul voete. Moedig jou kind beslis aan om sport te geniet.
“Kinders wie se klompvoet geopereer is mag sport moeiliker vind, weens styfheid en pyn. As jou kind voetpyn ervaar, gesels met jul dokter, en kyk watter bewegings is moeilik, sodat julle ’n sportsoort kan kies wat by hom pas.”
Nog ietsie: word ’n klompvoet aan verstandelike gestremdheid gekoppel?
Moet ek vorentoe dophou of oplet na kenmerkende agterstande?
“Daar is geen verband tussen klompvoetjies en enige vorm van gestremdheid nie. Hierdie outjies is normale, doodgewone kinders, met talente en gawes soos enige ander kind. Dit kan wel gebeur dat ’n kind een of ander uitval het, maar dit is nie weens die klompvoet nie. Hanteer jou kind intellektueel en sosiaal net soos enige ander kind.”
Waar vind jy ’n dokter wat spesialiseer in die Ponseti-tegniek?
Kry al die besonderhede oor die tegniek op www.steps.org.za, saam met praktiese raad, soos oor watter babaklere geskik is vir kleintjies met voetspalke, waar jy die regte skoentjies en spalkies kan kry, en verdere ondersteuning.