Aan die einde van ‘n reis deur Kroasië bly daar net prente oor om alles wat mens gesien en beleef het nog vir ‘n lang tyd daarna in herinnering terug te roep.
Dit is so dat terwyl mens in Kroasië met jou een voet in die hede staan, jy met die ander voet in die middeleeue en nog verder terug kan staan. Die opmerklike op ons reis was hoe die kerk in elke dorpie en stad sentraal met sy kloktoring uitstaan. Baie kerke en katedrale is midde in kastele gebou. Meestal is die kerk op die hoogste punt van die landskap gebou.
Een so ’n prent is die van die Sveti Stephan-katedraal in Zagreb. Die bouwerk daaraan het in die 13e eeu begin en is pas in die 18e eeu voltooi. Al die kerke en katedrale se bouwerk getuig van ‘n geestelike toewyding aan die taak wat gewone bouwerk aan ‘n gebou by verre te bowe gaan. Die 9 November 1880 aardbewing wat Zagreb, toe nog bekend as Agram, middeldeur geskeur het en die boonste deel van die stad 40 meter bokant die onderste deel gelaat het, het ook hierdie katedraal erg beskadig. Die herstel het 26 jaar geneem! Nou nog word herstelwerk aan een van die torings gedoen wat in die 1990-95 oorlog beskadig is.
Dit is opvallend hoe sterk sentraal die kerk in die burgerlike samelewing staan. Daar is ten eerste die duidelike sigbaarheid van die kerk. Maar meer nog, die kerkhorlosie en die kerkklokke wat die tyd al eeue uur na uur afmeet, hou die kerk se teenwoordigheid dag en nag onder oog en oor. As jy in meerdere sin wil weet ‘hoe laat dit is’ hoef jy net na die kerk te kyk of na sy klokke te luister. Die boodskap is altyd helder en duidelik.
Dit is eenvoudig pragtig om, waar die dorpies en stede nie te ver uitmekaar geleë is nie, te luister hoe die kerkklokke se gelui oor berg en dal met mekaar versmelt tot een groot simfonie van klokgelui wat oor die landskap beier.
Wat ook treffend was, is dat die kerke en katedrale elke dag oopstaan. Dit staan oop vir ‘n ieder en elk van watter geloof of plek ookal om net deur te stap of om ‘n stille oomblik op een van die kerkbanke met sy eie gedagtes te verwyl.
Hoewel daar geen sigbare prediker aanwesig mag wees nie, sê die eerbied en respek waarmee vreemdelinge in die kerk of katedraal vertoef tog iets van die geestelike belewenis wat hulle daar mag ervaar. Daar is nogal kosbaarhede in die plekke wat anders as wat moontlik op ander plekke die geval mag wees, nie as aandenkings saamgeneem word nie.
Die gevoel wat mens kry is dat die kerke en katedrale elke dag ‘n geestelike rusplek langs die pad vir die volk is en nie net ‘n Sondagstoevlugoord nie.
Miskien is dit juis die eerbied wat deur die kerk vir dinge geinspireer word wat van die mense van Kroasië en die land iets heel besonders op jou aardse reispad maak om te ontmoet en mee te doen te kry.