Klippies in die skoen: Hoe kan ek irriterende situasies beter hanteer? deur Anys Rossouw. Foto’s: Unsplash
Klippies in die skoen: Hoe kan ek irriterende situasies beter hanteer?
Ons almal ken daardie klein jakkalsies wat die wingerd verniel; die klippie in die skoen wat vir jou rou skaaf. Dis goedjies soos die tandepastabuisie se proppie wat nie vanself toeskroef nie, die vuil wasgoed wat nie wasgoedmandjie toe stap nie, die ysbakkies sonder ys.
Ons het gaan rondvra oor die dinge en situasies wat mense doringdraad laat kou.
“Oor die groot goed stem ons saam, maar daardie klein goedjies maak ons binne oomblikke kwaad vir mekaar … sokkies op die vloer, die koerant wat in stukke gesaai lê, koffiebekers wat rondstaan, die waterbottel wat leeg teruggesit word in die yskas. As ek iets sê, word dit as ‘kerm’ afgemaak en dis nie iets wat hy nodig het as hy moeg van die werk af kom nie. Ek het ook nie die sokkies op die vloer nodig nie! Wat my rooi laat sien, is as hy vra: ‘Nou maar wat doen jy dan heeldag?’ Asof ek nie ook werk, kinders in tien rigtings rondry, kos koop en maak nie.” – Helena.
“Dié scenario maak my mal: Ek bel. Dis beset. Ek bel weer. Steeds beset. Uiteindelik lui die foon. En lui en lui. En dan antwoord ’n monotone stem op ’n antwoordmasjien: ‘Wees asseblief geduldig jou oproep sal beantwoord word. Please be patient your call will be answered. Your call is important to us. This call may be recorded for quality purposes.’ Hoe wens ek nie vir kwaliteit en flinke diens nie. ‘Press 1 for accounts, press 2 for new products, press 3 … ’ en so luister jy na die ellelange spyskaart van ontoepaslikhede. Kom jy uiteindelik by ’n mens uit, laat dié jou verstaan iemand uit ’n ander afdeling hanteer die saak. Ná ’n halfuur het jy nog nie gevorder nie en begin jy van voor af.” – Ansie.
Ma’s kla veral oor vuil klere wat rondlê, verdwaalde, vuil skottelgoed wat nie hul pad na die opwasbak kan kry nie, nat handdoeke wat goor in ’n hoek lê en die bad wat nie gewas is nie.
“Wat my regtig teen die mure uitdryf, is om my eie goed te soek – my skêr, kleefband of sokkies. Hulle kan rêrig my goed gebruik. Ek wil dit net ook kan gebruik. Hulle moet dit net terugsit as hulle klaar is en sê as dit op is. Ek voel my top blaas as ek deur die hele huis moet soek.” – Alida.
“Dit maak my suur as mense laat is en my laat wag. Ek skarrel vir die vale, kry spoedkaartjies, stel dinge uit wat ek wou doen net om betyds te wees. En raai wat gebeur? Ek wag en wag. Dit voel vir my of mense nie meer ’n sin vir tyd het nie, of nie respek vir ander het nie. Wat my amper nog meer frustreer, is as mense goed belowe en dit nie doen nie, soos ’n aflewering wat dae later eers geskied, of daardie terugbel wat nooit gebeur nie.” – Sharlise.
“My man het die gewoonte om terwyl ons televisie kyk met die remote te speel. Terwyl ons 7de Laan kyk, wil hy net gou kyk wat op daardie en daardie kanaal aangaan … die kriekettelling, wie loop voor in die gholf … So flits dit van kanaal na kanaal. Hy beweer hy doen dit net gedurende die advertensies, maar ek kan netsowel nie 7de Laan kyk nie, want ek sien net deeltjies. En dit maak my suur. Ek loop sommer en hoop hy slaap as ek Sondag daarna wil kyk.” – Anita.
“’n Selfoon wat in ’n vergadering of by ’n konsert lui, irriteer my. Wat dit nog erger maak, is as die persoon besluit om te antwoord en almal verder steur of die hele proses vertraag. Ek kry ook die creeps as iemand in ’n geselskap met sy foon sit en speel. Eers die SMS lees én antwoord. Dis mos sommer net swak maniere. Of mense wat bel net as ons aansit om te eet.” – Jaco.
“Ek haat dit as iemand nie luister as ek praat nie en my dieselfde ding weer en weer vra, of my onderbreek en my sinne vir my voltooi. Die ergste is as hulle vir my wil vertel wat ek voel en dink. Ek haat dit ook as mense veeleisend is en daarop aandring dat ek dit of dat nóú moet doen, ongeag waarmee ek besig is of wat ek beplan het. Ek sien ook rooi as ek by my skoonouers kom en hul groet is ’n verwyt: ‘Waarom sien ons julle nooit nie?’” – Lorraine.
Vir baie mense is die verkeer ’n erge bron van frustrasie. As jy die voorreg en plesier het om in een van ons stede in spitstyd te ry, sal jy weet dis ’n ervaring wat jou dikwels letterlik en figuurlik nader aan jou Skepper bring. En jou nie tot dankbaarheid en stigting stem nie.
“Dit laat my digby ’n padwoede-aanval omdraai as ’n motor op my stert ry terwyl ek so vinnig ry as wat die motor voor my my toelaat. Ek kry lus om aspris stadiger te ry, hard rem te trap of die skurk agterna te sit. Maar ek is net so geïrriteerd as ’n voertuig in die vinnige baan kruie. Dan praat ek nie van die taxi’s wat sonder enige teken deur die verkeer vleg, kleurblind is as dit by verkeersligte kom en in enige baan, op enige plek, te enige tyd stilhou nie. As hulle al wiegend en oorlaai op die geel streep by my verbysteek en ek hoor hul polsende musiek, pols die woede teen my slape – en dis nie ’n mooi deuntjie nie.” Ben.
“Mense se aanwensels irriteer my soms, soos ‘hmm …. hmm’ tussen elke paar woorde, of as hulle elke sin met ‘okay’, of ‘verstaan jy’ afsluit? Ek wil sommer sê: ‘Ja, ek is nie onnosel nie, ek verstaan.’” Annette.
“Dit irriteer my as ek in ’n vergadering is en daar word heeltyd net na ‘here’ of ‘menere’ verwys, asof ek nie daar is nie. Ek kriewel as ’n man my as ‘vroutjie’, ‘juffroutjie’ of nog erger as ‘liefie’ aanspreek.
“Ek kan dit ook nie vat as ander my met hul eie, eng roetine wil vasknoop nie. Een Sondagaand bel ek. Die volgende een bel jy. En bel ek nie, is dit ’n doodsonde, ’n bron van bekommernis en histerie. Die een Kersfees hier, die volgende een daar. Watter Kersfees is ’n slag mýne?” Hannie.
“Ek is op die oorlogspad as my kinders in die motor baklei as ek bestuur. Ek verpes dit ook as hulle die radiostasie verander sodra hulle in die motor klim – ongeag of ek besig was om na iets te luister. Die kloppende geraas waarna ek dan moet luister, maak praat onmoontlik en bedinges elke stukkie rustigheid wat ek dalk nog in die verkeer kon hê.” Danika.
*Skuilname
Lees ook: 10 dinge waaroor elke paartjie moet praat vir ’n gelukkiger verhouding
Die goue draad
In al hierdie stories is daar paar temas wat soos ’n suur, donker draad deurloop: Mense neem ander nie in ag nie en is onbedagsaam. Die ander probleem is tyddruk en ons eie bagasie en emosionele reaksie op situasies.
In elke lewensituasie het ons emosies, gedagtes en behoeftes wat uiteindelik ons optrede bepaal. Terwyl ons emosies meestal willekeurig gebeur, beteken dit nie dat ons daaraan uitgelewer hoef te wees nie. Ons kan hoe ons voel, laat bepaal deur hoe ons dink – en dit kan ons kies!
As dit jou probleem is en jy wil iets verander, hier is hier ’n paar idees:
- Fokus op die baie dinge wat reg, mooi en lekker is. Wees dankbaar daarvoor, waardeer en geniet dit. Verwag die beste, dan kom dit dikwels spontaan.
- Hou op om gebeure as positief of negatief te sien. Beleef dit, hanteer dit, geniet dit en leer daaruit.
- Behou jou sin vir humor. Sien die komiese in situasies raak en moenie so ernstig na jouself, ander of die wêreld kyk nie. Gebruik ook humor (nie sarkasme nie) om die situasie te hanteer.
- Neem ’n wilsbesluit. Ons keuses bepaal meestal ons rigting, lewenswyse en geluk. Gedagtes en optredes is gewoontes wat kan verander. Om jou kop te bestuur is die belangrikste deel van om jou lewe te bestuur.
- Dit vereis ’n definitiewe poging – om te weier om negatief te dink; om te glo daar is ’n oplossing en jou energie daarin te sit.
- Dit verg dissipline. Nuwe gewoontes neem minstens 21 dae om te vestig. Iets wat jy vir 21 dae agtereenvolgend volhou, is vasgelê.
- Dit vra ’n kritiese kykie na jouself – om jouself nie in die sentrum van alles plaas nie.
- Maak tyd om stil te wees en tot rus te kom, dan kan jy baie meer makliker hanteer. Slaap en oefen genoeg.
- Leef eenvoudiger, stadiger. Groter, mooier, vinniger is nie altyd béter nie. Soveel mense smag na meer geluk, vrede en ’n gevoel van sekuriteit. Mínder van dit wat ons lewe so vol maak, bring dikwels méér van dit waarna ons so smag. Sukses buite beteken min as ons nie ook sukses binne ervaar nie. Dikwels lyk ons gejaagde lewensomstandighede soos ons binnekant.
Robin Sharma, die sukses- en leefstylghoeroe, sê ’n situasie wat vir een mens na ’n tragedie lyk, kan vir iemand anders na ’n geleentheid lyk. Wat optimistiese en gelukkige mense onderskei van mense wat voortdurend miserabel en onvergenoeg is, is hoe hulle hul omstandig-hede interpreteer en daarop reageer.
Dit neem tyd om ’n ander uitkyk en gewoontes te kweek – soos dit tyd neem vir die groente wat jy plant om te groei en ryp te word. Die gawe is uiteindelik die gevoel van vrede, krag en prestasie: Ek kon iets verander. Om ’n doelwit te stel en dit te bereik, is karakterontwikkeling. Dit gee nie net vrede nie maar ook selfrespek en ’n gevoel van innerlike krag en beheer, want niemand is werklik vry wat homself nie kan beheer nie.
Lees ook: 10 dinge wat jy nou kan doen om gelukkiger te wees
Skud die klippies uit jou skoen
As jou emosies ’n pot is wat dreig om oor te kook, of ’n stoompot is wat dreig om te ontplof, is dit dalk nodig om iets aan die saak te doen. Moontlik kan jy die hitteskakelaar laer stel, of seker maak die pot is nie tot oorlopens toe vol nie. Dis nie altyd maklik nie. Maar voor jy te opgewerk raak, vra jouself dié vier vrae:
- Hoe belangrik is dít waaroor ek opgewerk raak regtig? Gaan dit oor ’n week, ’n maand, ’n jaar nog saak maak? As dit nie oor ’n jaar nog werklik saak maak nie, is kommer of ontsteltenis daar-oor dalk vermorste energie en emosie.
- Wie se probleem is dit? As dit nie jou probleem is nie, los die emosie vir die ou wie se probleem dit is. Laat die brompot brom sonder om ook kwaad te word.
- Kan ek iets aan die situasie verander? As jy kan, maak ’n plan. As jy niks kan verander nie, het jy twee keuses: skakel die situasie uit – as dit moontlik is, of aanvaar die situasie en werk aan jou emosionele hantering daarvan.
- Werk my huidige hantering van die irritasie? Maak jou reaksie die situasie beter? Indien nie, hou op om dit so te hanteer. Dit werk nie. Probeer iets heeltemal anders. Hou op kerm en kla – dit help nie.
Lees ook: Leer hoe om meer selfgeldend te wees
Wat kan help?
- Irritasie word ’n geveg as dit van twee kante af kom. Jy moet seker maak jy doen nie dinge wat ander irriteer nie, en leer om jou eie irritasies te hanteer.
- Ken die knoppies wat jou irritasie aanskakel. Besluit vooraf hoe jy daarop gaan reageer.
- Skei jou verlede en persoonlike bagasie van dit wat jy nou moet hanteer. Wees bewus van hoe vorige ervarings jou beïnvloed, ook van jou huidige welstand: is jy honger, moeg, siek, emosioneel, gestres, premenstrueel … en besef wat die situasie vir jou kleur of erger maak.
- Pasop vir die oordra van woede van een situasie of persoon na die ander. Die baas is kwaad vir sy vrou en haal dit op jou uit. Jy is kwaad en moeilik met jou man as hy by die huis kom. Hy raas met Jannie. Jannie klap kleinsus en sy skop die hond. Nou is almal lekker opgeklits.
- Probeer die situasie uit die ander mens se oogpunt sien – dat sy optrede sý bagasie is en nie op jou gemik nie; of dat hy dalk ook maar net sy werk doen binne die
magte wat hy het. - Sien die groter prentjie. Weeg onbenullighede op teen wat regtig belangrik is, maar dan moet jy weet wat regtig vir jou belangrik is.
- Neem ’n wilsbesluit om mense en verhoudings in alle situasies te respekteer, te troetel en te bou. Dit sluit jouself in. Onthou, dit beteken glad nie dat jy ’n vloerlap moet
wees nie. Groet mense voor jy begin, vra sommer ook hoe dit gaan. Almal hou daarvan om met respek en waardigheid behandel te word en hou van ’n tikkie persoonlike belangstelling.