Klim uit jou kokon as boekwurm!
Ek bly in ’n huis vol boekwurms. Dit pas my soos ’n kokon. Want, vandat ek kan onthou, is ek self ’n boekwurm.
Ek dink as Bennie Boekwurm nog lewe, sal hy graag hier wil kom kuier. Ek hoop hy bring sommer sy Wieliewalie-kousemaats saam, want, hoewel hier in hierdie huis nie sommer ’n tekort aan boeke is nie, is hier soms ’n sokkie soek.
Vriende en vreemdelinge vra my dikwels vir raad hoe om hulle kinders te laat lees. Ek antwoord gewoonlik dat ek nie regtig ’n resep het om leesliefde te kweek nie. Ek dink dit is maar iets wat kinders van babadae af moet leer ken – soos liefde, soos maniere, soos respek?
My twee, nou agt en tien jaar oud, het reeds van voor hulle behoorlik kon self regop sit – dus so drie, vier maande oud – gereeld op my skoot geboer saam met ’n kleurvolle kinderboek.
Saans na badtyd was dit storietyd. In die begin voel dit vrek awkward om die storie van die muis met maniere wat ’n seekoei van ’n bruggie af laat klim in ’n piepstemmetjie én seekoeistem voor te dra vir iemand wat jou grootoog en kwylbek sit en aanstaar. Om nie te praat van die awkwardgeit as jou bruidegom van so sewe jaar gelede boonop met ’n geligte wenkbrou om die babakamerdeur loer terwyl hy nie sy lag kan hou nie.
Dan help dit om uit te roep: “Ek is ’n Babalela, los my uit!”
Ons mamma’s is dramakwiens, oraait? En, hierdie dramakwien lees graag vir haar kinders.
Danksy mense soos Martie Preller, Jaco Jabobs, Marita van der Vyver, Antjie Krog, Riana Scheepers, Fanie Viljoen, Keina Swart, Christien Neser, Cecilia Steyn, Annelie Ferreira en vele ander, kan die babaleesavontuur nog vir jare en jare na die kartonboekiefase voortduur. Ek is as’t ware só dankbaar dat ek nou weer die verskoning het om jeugverhale en tienerromans via my kinders se verjaardaggeld, presente en biblioteekkaartjies te herontdek!
Nie net maak stories ons wêreld groter en interessanter nie – stories is ook immer daar om te vermaak: Of dit nou stortreën, die wind die bome buite skuins waai, die sneeu op die berge lê en of dit 40 grade Celsius met versengende bergwinde buite is – met ’n boek in die hand word jy nie sommer blootgestel aan ongewenste elemente nie.
Hoewel, mens kry soms wel met ’n mengsel ongewenste elemente te doen in boeke – en meestal ken die gesoute skrywers die kuns om jou sommer so saam met die storielyn daardie goor element in ’n spanningsvolle japtrap in sy kanon te stuur.
Maar, na my mening moet ’n goeie kinderboek nooit ’n vanselfsprekende lessie in hê nie. Kinders hou nie daarvan om voor gepreek te word nie. Ek dink ’n wenstorie is ’n storie wat dít wat jy wil tuisbring, ongesiens en avontuurlustig deel maak van die leser en luisteraar se verwysingsraamwerk.
Om terug te keer na die vraag: Hoe kweek ek ’n liefde vir lees by my kind?
Nommer 1: Met jou eie voorbeeld. Dit help nie jy blaf kort-kort op jou kind dat hy moet gaan lees terwyl jy voor die TV-skerm met ’n selfoon of tablet in die hand sit nie. Trek ’n boek nader. Lees. Verbreed jou horisonne ver bo die verbeelding van ’n skerm. Ontdek. Deel met jou kinders die leesavonture wat jy beleef.
2: Gaan neem kinder- en jeugboeke uit as jy nie ’n ywerige leser as kind was nie. Die plaaslike biblioteek het rakke en rakke vol. Jy sal verbaas wees deur die aanbod nuwe stemme. Jy sal verbaas wees deur die ou stemme wat heruitgereik is. Die biblioteekrakke wemel van storiereise en avonture. Begin net. Goedkoop reis na mense en plekke wat jou sal bybly, gewaarborg.
3: Soos persoonlikhede verskil, verskil smaak ook. Vir party mense is oefening en fisiese aktiwiteit lekker en iets waaraan hulle tyd sal en wil bestee. Ander verkies om met ’n marathonstorie weg te spring en hulle ure in die verhaal te verwyl. Persoonlikhede verskil, ja. Soms sê ouers hulle kinders hóú nie van lees nié en basta.
Behalwe dat my hart so ’n bietjie ineenkrimp vir daardie kind omdat ek weet watter avonture en groeimoontlikhede hy misloop, verstaan ek dat sekere aktiwiteite net beter by sekere persoonlikhede pas.
Maar, ek glo dat selfs ’n spiertier wat self nie hou van lees nie, die vermoë het om lees by sy kind aan te moedig. Ons wil die wêreld mos juis vir hierdie klein mensies ontsluit en vergroot, dan nie?
My kinders se laerskool het van vanjaar af ’n amptelike program waarvolgens elke leerder, graad 1 tot 7, aangemoedig word om minstens 20 minute per dag te lees.
Die rasionaal daaragter is dat “effektiewe leer in die klaskamer bevorder sal word as leerders KAN LEES en met INSIG kan lees”.
Daar is ’n tabel ter ondersteuning waarin uiteengesit word dat ’n leerder wat 20 minute per dag lees, 3 600 minute per skooljaar lees en dus 1 800 000 woorde per jaar lees. Dit teenoor die leerder wat ’n skamele een minuut per dag lees en dus net blootstelling kry aan 8 000 woorde per jaar.
Verstommend, nè? Wie wil dan nou nie sy kind aanmoedig om hierdie woord(e)skat te ontdek nie?
Ons almal wil tog aan ons kinders die rykste leefervaring denkbaar gee – en met boeke en stories is dit binne elkeen se bereik. Gaan neem boeke uit. Lees self. Jou kinders se nuuskierigheid en leeslus sal geprikkel word. Hou net aan. Moedig aan. Wees entoesiasties.
Die eenvoudigste manier om jou kinders aan te moedig om te lees en beter te lees, is om eenvoudig te léés.