Truffels is die duurste kos in die wêreld wat jy in die kleinste dorpie in die wêreld kry – Hum. ‘n Goeie vraag – waar is Hum?
Hum is so klein dat die dorpie op haas geen landkaart verskyn nie. Ons probeer dus ons twee GPS bronne. Die een weet van g’n sout of water nie en die ander een hou net aan soek. Omdat Hum in die Kroatiese truffelkontrei is, vat ons toe maar pad in daardie rigting met die hoop dat Hum iewers uit die bosse gaan spring.
Dit was toe ook so. Meteens, waar ‘n plaaspad afdraai, is daar ‘n padpredikant wat na Hum beduie. Vol geesdrif volg ons die pad. Nou is plaaspaaie in Kroasië eintlik ‘n smal verbindingsteerpad wat van plaas tot plaas loop en dus vol kronkels en draaie is. Dikwels ry ons dus in die verkeerde rigting terwyl ons steeds op die regte spoor is.
Dan kom daar ‘n vurk in die pad. Die afdraai het g’n padwyserbord nie. Nadat ons eers verkeerdelik reguit aangehou het, kom ons toe agter dat Hum-padtekens gesogte soeweniers is en dat die pad sonder predikante eintlik die pad na Hum toe is.
Toe die reuse wat vanmelewe Istrië gebou by die heuweltop waarop Hum staan aangekom het, het hulle ‘n probleem gehad. Hulle bouklippe was toe al aan die min kant en noodgedwonge moes hulle toe maar met ‘n baie klein dorpie volstaan. Om genoeg klippe te kon hê het hulle die huisies in die ringmuur ingebou en daarmee net-net genoeg klippe gehad om Hum te voltooi.
Die groot parkeerterrein is ‘n aanduiding van hoe baie toeriste na Hum toe kom. Dis neffens die begraafplaas wat dikwels ook parkeerruimte nodig het. By die ingang van die parkeerterrein sit ‘n Hum-tollenaar. Parkering betaal jy voor maar toegang tot die baie netjiese begraafplaas is gratis.
Ons stap na die poort van Hum – die poort tot die middeleeue toe Hum gebou is. Ook daar sit ‘n Hum-tollenaar. Die swaar ysterpoortdeur maak nie net die poort oop nie, maar stel ons ook voor aan die bewoners van Hum uit die middeleeue. Teen die deur is metaalgietsels van die Hum-mense wat nou tot die voorvaders behoort. Hulle word uitgebeeld in die wingerd en olyfboorde, as saaiboere en vissers, asook veeboere. Daardie tyd het hulle al musiekinstrumente soos trompette en kitare gehad want op een afbeelding hou hulle lekker konsert met koor en orkes.
Dat dit verduiwelds koud kon word in die winter wanneer die Bora oor die vlaktes en berge skeer, vertel ‘n afbeelding van ‘n Hum wat heerlik by sy wintervuurtjie sit en hande warm maak.
Deur die poort met sy seepgladgetrapte, ongelyke klipplaveisel kom ons op ‘n binneplein. Hierop maak die meeste huisies se voordeure oop. Voor party vensters is daar mooi rooi blommetjies in hangbakke tussen die hortjiesrame. Ons gewaar egter geen verdere Hum-inwoners iewerster nie. Behalwe vir die wat daar werk, is die ander seker al effe moeg vir die aanhoudende stroom nuuskierige toeriste wat van die liewe more tot die aand voor hulle deure verbysukkel.
Die klok in die uitkyktoring wat al vanaf 1552 die ure afmeet, slaan tien. Sy helder klank beier oor die dorpie en versmelt in die verte met die omliggende wingerde en olyfboorde.
Nog ‘n Hum-inwoner loop ons in ‘n klein winkeltjie raak. Sy verkoop van die omgewing se olyf- en wingerdprodukte en ook in klein botteltjies die gesogte truffels. Dié koop jy toe oë nadat jy na die prys gekyk het! Want truffel koop jy by die gram. Truffel is ‘n soort knolswam net soos sampioene en word gebruik om ‘n besondere geur en smaak aan kos te verleen. Daar is wit en swart truffels waarvan die wittes pryse tot R110 000 per kilogram haal en die swartes tot R40 000 per kilogram.
Die truffeljag wat so begin Oktober aanbreek, begin wanneer die Hond van Hum snuf in die neus kry dat die truffels reg is om ge-oes te word. Dan rek die hond hom en met bek na die maan gee hy die lang truffelkreet wat ver oor die omliggende landskap weergalm. Onmiddellik hoor jy die eggo soos omtrent 13 000 truffelbrekke (want so word hierdie snuffelhonde genoem) die kreet opneem en hulle omtrent 3 000 base uit die vere jaag vir die jag om in alle erns te begin.
In die Humska Konoba-restaurant waar ons nog twee Hum-bewoners teenkom van omtrent ‘n dosyn wat daar woon, bestel ons proscuito ham saam met truffelkaas. Die ham word met sout en rook gepreserveer en dan winddroog gemaak om ‘n heerlike gereg te bied. Dan lig ons die glase rooi Plavina wyn en met ‘U slast!’ -smaaklike ete- en ‘Uzdravle!’ –gesondheid- val ons weg aan die truffelmaal.
Die uitspraak oor truffels – dit smaak soos iets wat jy nog nooit geproe het nie en teen die prys daarvan nie maklik weer sal proe nie.
In die ware Hum-tradisie word die kuier met ‘n Hum-gemaakte schnapps afgesluit. Hierdie 2 000 jaar oue resep van ‘n konkoksie van geheime speserye en wit voëlent besit volgens die stokers van Hum besondere magiese eienskappe wat sal verseker dat jou gewaardeerde kuiertjie in Hum vir altyd in die volksannale van die dorp opgeteken bly staan. Ons voldoen met entoesiasme aan die tradisie.