kategorieë: Blogs

Klaas Vakiemedisyne

Die eerste drie maande van chemo is verby. Drie maande waarin ek meer siek as gesond gevoel het en waarin my voorkoms drasties verander het. Méér nog: dit is drie maande waarin ek verryk is deur sterk, positiewe siele en mediese personeel wat betekenis gee aan die begrip ‘engele op aarde’. Ek het soveel geleer van die onoorwinlikheid van die mens se gees, van onselfsugtige mense en van die mag van empatie. En van goeie dosisse genade en vrede op presies die regte tyd.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Tydens die eerste sessie van die siklus waarin ek weekliks ’n ander soort mengsel van medisyne gaan ontvang, verduidelik Estelle die moontlike newe-effekte aan my. Dit klink nogal erg: daar is onder andere die potensiaal van ’n lewensbedreigende allergiese reaksie. Ek teken weereens ’n vorm wat sê dat al die newe-effekte aan my verduidelik is en dat ek toestemming gee vir die behandeling.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

In dié stadium is ’n groot bron van spanning die beskikbaarheid van are waarin die drip se naald gedruk gaan word. Gaan my are die personeel fnuik, of sal daar ten minste een wees wat samewerking verleen? Dis die vraag waarmee ek elke keer na die onkologie-eenheid ry. Estelle slaag hierdie keer weer daarin om met die eerste probeerslag ’n gewillige aar te vind. Verligting!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die eerste sakkie medisyne is maar kleinerig in vergelyking met dít wat ek in die vorige siklus ontvang het. Voordat ek ’n hoofstuk in ’n boek gelees het, is die sakkie leeg. H’m. Dinge lyk positief. Die volgende sakkie bevat medisyne wat my vreeslik lomerig gaan maak, word ek vertel. Ek het hierdie woorde heeltemal te ligtelik opgeneem, besef ek vyftien minute later toe die moegheid my oorval. Ek sukkel om my ooglede vanmekaar te hou en ek gee maar in. Net om ’n paar minute later wakker te word van my bene wat snaaks voel. Rustelose bene-sindroom. Estelle het my daarop voorberei. Ek kan nie stil lê nie – my bene wil beweeg. Ek sluimer in, word wakker, skuif my bene rond, sluimer weer in vir so lank as wat die sakkie met slaapgoed my are binneloop. Die volgende sakkie bevat die gevaarlike goed. Gelukkig slaap ek daardeur ook. Geen allergiese reaksie nie. My lyf is dié van ’n stoere boeredogter, wil dit voorkom.

Op pad huis toe raak ek drie keer aan die slaap; ek word net wakker wanneer Jaun my iets vra. As hy nie die bestuurder was nie sou daar groot moles gewees het. By die huis aangekom voel my ledemate loodswaar. Ek sukkel met lam boude teen die trappe op na ons slaapkamer toe en val op die bed neer. Ek is vaagweg bewus daarvan dat Jaun my pruik afhaal en my skoene vir my uittrek. Ek word half agt daardie aand wakker na ’n droomlose slaap. Swaartekrag het vervierdubbel, voel dit vir my toe ek van die bed af klim.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Toe ek die volgende oggend oudergewoonte om vieruur opstaan om Jaun se ontbyt en middagete voor te berei, doen ek bestekopname. Ja, ek is moeg, maar ek is nie naar nie. Daar is geen teken van ’n allergiese reaksie nie. Weereens is ek geseën.

Teen tienuur daardie oggend swem my rekenaar se skerm voor my oë. Ek het beswaarlik die krag om tot in die gastekamer te kom vir ’n power nap. Ek sal vanaand later moet werk om dié tyd op te maak. Hierdie chemosiklus gaan sy eie uitdagings hê. Maar. Máár: dit is nou net elf weke lank.

Ek kan al begin om die dae af te tel tot die laaste chemo-sessie. Ten spyte van die moegheid voel ek sterk en positief. Op my chemo-kalender trek ek ’n streep deur gister se chemo en ek glimlag.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

5 mites oor olyfolie

Moenie hierdie 5 mites oor olyfolie glo nie: Ingevoerde olyfolie is beter as Suid-Afrikaanse olyfolie…

3 hours Gelede

Gebakte vis in geurige tamatiesous

Gebakte vis in geurige tamatiesous Lees ook: RESEP: Armand Aucamp se witvis met vanieljesous van Tahiti…

4 hours Gelede

Tamatieroomsop met kaasroosterbroodjies

Hierdie lekker resep vir tamatiesop is ideaal vir ’n vinnige aandete in die middel van…

5 hours Gelede

Lekker opskiet eet-ervaring by Vergelegen

Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts en Vergelegen Die historiese landgoed, Vergelegen op Somerset-Wes, het…

5 hours Gelede

Vinnige lamskerrie

Vinnige lamskerrie 4 porsies Bestanddele: 1 ui, fyngekap 100 g kerriepasta 1 kg lamsvleis, in…

7 hours Gelede

Kry só jou tuin reg in Julie

Julie: Doen dit in die tuin     1. Snoei rose teen einde Julie of…

8 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.