Kinders & waardes deur Anys Rossouw
Jou waardes bepaal in ’n groot mate hoe jy na die wêreld kyk, jou karakter, geloof, optrede en leefwyse. Wat jou motiveer om sekere dinge te doen, of nie te doen nie, word bepaal deur die waarde wat jy daaraan heg: Jou waardes.
Kinders se waardes word deur hul ouers se waardes, hul vriende, musiek, die media, hul geloof, onderwysers en hul rolmodelle bepaal. Maar hul ouers se waardes en leefwyse het meestal die grootste impak hierop. ’n Sterk karakter met gesonde waardes wat kleintyd al geïnternaliseer is, is van die min dinge wat ’n kind ’n leeftyd kan hou en vir hulle gesonde vrugte bly lewer. Waardes bepaal waar jou energie gaan, jou koers en keuses, want dis groter as ’n situasie, modegier of verleiding. Dit gee sin aan jou lewe en bepaal wat in die groter prentjie van jou lewe, vir jou, ander en die wêreld se toekoms goed is. Dit gee ons ’n verbintenis met ’n hoër Goedheid. Maar sonder die vastigheid van waardes word jou optrede bepaal deur jou giere, grille en onmiddellike behoeftes en is maar inkonsekwent en feilbaar.
Om eties op te tree is nie altyd maklik nie. Vra jouself af: Wat sal die gevolge van my optrede of besluit wees? En as ek die teenoorgestelde doen of besluit? Vra dan as riglyn die volgende drie vrae: Is dit vir my goed? Is dit vir ander, of die omgewing goed? Is dit op sigself goed of reg? Om vir kinders waardes te leer, vra van ouers om duidelikheid oor hul eie waardes en optrede te kry. Ouers moet weet wat die verskil tussen waardes en wette of reëls is: Hoewel daar duidelike ooreenkomste is, is daar ook belangrike verskille.
Robert A. Hinde skryf in sy artikel “Law and the Sources of Morality” dat moraliteit (waardes) gaan oor hoe mense behoort op te tree en wette oor hoe hulle nié moet optree nie. Maar nie alle reëls of wette is altyd reg en eties nie; so ook is alles wat teen reëls of wette gebeur, nie altyd verkeerd of oneties nie. So kan ’n kind ook reëlreg teen ’n huisreël optree en tog die regte ding volgens die huiswaardes doen. As ’n reël bepaal dat Sannie nie haar ouers se motor sonder toestemming mag gebruik nie, maar sy jaag in ’n noodsituasie met haar sussie hospitaal toe, is dit nie binne die reëls nie, maar volgens hul gesinswaardes die regte ding. Daarom moet die klem eerder op gesinswaardes as op reëls wees, hoewel reëls ’n eie maar beperkte plek kan hê. Lê eerder klem op die waarde “ek tree met respek teenoor ander op” as op ’n klomp reëls van wat gedoen en gesê mag word. Of “ek versorg my liggaam daagliks” eerder as wanneer en hoe om te moet bad. Dit bring buigbaarheid in ’n gesin, gee kinders meer beheer en leer hulle verantwoordelikheid. As daar te veel reëls is, voel kinders dikwels vasgevang en rebelleer hulle.
Ouers moet weet wat die verskil tussen waardes en wette of reëls is: Hoewel daar duidelike ooreenkomste is, is daar ook belangrike verskille.
Kinders rebelleer selde teen waardes, maar meestal teen reëls. Dis belangrik dat sterk waardes en geloof reeds vroeg aangeleer moet word. Dit is krities belangrik wanneer moeilike besluite, veral onder groepdruk, geneem moet word. Dan het kinders die selfvertroue om op te tree volgens hul waardes, geloof en gewete en nie volgens wat maar die maklikste is nie. Want hulle weet wie hulle is, waarin hulle glo en wat die regte, gepaste of goeie manier van doen is.
Minda Pretorius, ’n maatskaplike werker wat met tieners werk, sê dis baie belangrik dat ouers vir hulself en hul gesin ’n waardestelsel moet ontwikkel. “Ouers moet met mekaar deel watter waardes gegeld het in die huis waar hulle grootgeword het. Wat daarvan wil julle behou en van watter wil julle afstand doen? Dan moet hulle hulself afvra: Wat is ons droom vir ons kind? Watter soort kind wil ons/ek grootmaak, met watter waardes? Vir ouers wat kies om kinders groot te maak om selfstandig en met selfvertroue op te tree, kan dit beteken dat hul kinders mag terugpraat en sê wat hulle voel en dink. Met respek, natuurlik,” voeg sy gemoedelik by.
“Ouers moet die waardes wat hulle in hul kinders wil sien, self lééf. Waardes word gewoonlik binne ’n vertrouensverhouding aangeleer. Kinders het oor die algemeen genoeg maats – hulle het nie hul ouers as maats nodig nie. Wat hulle nodig het, is rolmodelle wat hulle kan volg. Wat dit moeilik maak, is as kinders nie soos hul ouers wil wees of lewe nie, want dan verwerp hulle dikwels ook hul waardes. Daarom moet ouers ook hul kinders leer: Mense stel jou teleur, maar Jesus stel nooit teleur nie. Hom kan jy altyd volg.”
Volgens die beroemde sielkundige Jean Piaget se teorie vir morele ontwikkeling “Heteronomie na outonomie”, berus ’n kind se morele oordeel en besluitneming aanvanklik op wat van hom verwag word. Dit gaan nie oor sy eie verstaan of besluit van
Hoe leer jy jou kind waardes?
Die lewe gee ouers voortdurend, elke dag en op enige plek, die geleentheid om hul kinders waardes te leer
- Praat met hulle daaroor in jul daaglikse interaksie: opstaan, eet, groet, belowe wat ná skool gaan gebeur, partytjies. Dit gebeur nie noodwendig deur vir hulle te preek, reëls te leer of kerk toe te vat nie. Gee hulle die geleentheid om te sê wat hulle dink en hul waardes te formuleer. As sy reeds gedink het watter standpunt sy oor seks of drank het, is sy voorbereid. Dan het sy in haar kop ’n beeld van hoe sy dit gaan hanteer en is die kans groter dat sy daarby gaan hou. Maar as sy nog nooit daaroor gedink het nie en nie ’n standpunt daaroor het nie, is die kans soveel groter dat sy maar deel van die vloei van die gebeure gaan raak, waarheen dit haar ook al neem.
- Deur die ouers se voorbeeld: Gooi jy papiere by die motorvenster uit? Praat jy met respek van mense of noem jy hulle “morone”? Hou jy jy by jou belofte aan ’n vriendin al het jy ’n ander lekkerder uitnodiging gekry? Wat jy as ouer doen, maak werklik die groot verskil. Jy kan nie hul maats of die gemeenskap verander nie, maar jy kan dit beïnvloed deur vir jou kind en ander ’n voorbeeld te wees. Gesonde waardes, respek en liefde kan ’n gesin gelukkig maak en so die wêreld aanraak.
- Wys jou kinders waarna julle streef, wat jul doel en waardes is, al kry julle dit nie altyd reg nie. So leer kinders wat reg is, al doen julle dit nie perfek nie. Kinders kan aanvoel en verstaan wat ons bedoelings was.
- Stel hulle aan die wêreld bloot: boeke, films, maats, televisie … sodat hulle gebeure en ons wêreld kan interpreteer. Vul jy dit met waardes en positiwiteit, of met negatiwiteit waar jy net die slegste verwag?
- Leer kinders om situasies met hul waardes en nie hul emosies te hanteer nie. Kinders sien en belewe goed waaroor ouers nie beheer het nie: geweld, onreg en seerkry. Dit kan ouers nie keer nie, maar ons kan wel beïnvloed wat hulle daarmee maak en hoe hulle daaroor dink. Maar dan moet ons ’n verhouding met hulle hê sodat hulle hul ervarings met ons sal deel. Dan kan ons hulle leer dat ander se optrede baie dikwels iets sê oor hul emosionele toestand en waardes, as wat dit iets sê oor my. As iemand met my ongeskik is, gaan dit dikwels nie oor wie ek is of wat ek gedoen het nie, maar eerder oor die ander mens se onvermoë om die situasie te hanteer – hul frustrasie of waardes.
- Beloon goeie waardes met erkenning.
- Vestig vroeg goeie gewoontes en hanteer probleme voor dit ’n gewoonte word.
Ouers kan nie bepaal wat hul kinders dink of voel nie, maar hulle kan hul dinge gee om oor te dink, ’n rigting en voorbeeld om te volg, wat reg of verkeerd is nie, maar is gekoppel aan die outoriteit van ouers of onderwysers; van wat hulle van hom verwag. Die bron van beheer lê dus buite homself. Sy morele ontwikkeling raak eers volwasse as dit outonoom raak, as sy beheer kom van ’n innerlike oortuiging van wat reg en verkeerd is. Slegs dan kan mense konsekwent reg optree.
Om die oorgang na outonome morele besluitneming te maak, sê Piaget, is in samewerking, in saam-lewe met ander as gelykes. Om agter te kom dat ander gerespekteer en behandel moet word soos ek wil hê hulle my moet behandel. Volgens Piaget het dit belangrike implikasies vir opvoeding: Hoewel morele opvoeding begin deur van kinders morele optrede te verwag, kan dit nie daarby bly nie. Die opvoeder moet wegbeweeg van die outoriteitsposisie na ’n samewerker en fasiliteerder sodat die kind vanuit innerlike oortuigings self die morele besluite kan neem.
Volgens Kohlberg, ghoeroe van morele ontwikkeling, se morele ontwikkelingsteorie doen kinders aanvanklik die regte ding, hou by die reëls slegs uit vrees vir straf. Die volgende fase is die verstaan dat dit vir hulle positiewe gevolge inhou. Eers daarna verstaan hulle die konsep van sosiale reëls: om goed te wees vir ander omdat dit ’n waarde of ’n goeie ding is om te doen. Dan ontwikkel waardes soos vertroue en lojaliteit. Dis belangrik om van kinders ouderdomstoepaslike optrede te verwag. ’n Eenjarige moet optree of ander se speelgoed teruggee omdat jy vir hom sê dis reg. Bietjie later verstaan sy dat as sy dit teruggee, gee sy weer myne terug. Maar iewers moet ’n kind by die punt kom om dit self terug te gee, omdat dit die regte en etiese ding is om te doen. As jy dit nie kleintyd verwag nie, (omdat jy glo sy verstaan nog nie) gaan sy sukkel om by die volgende fases uit te kom.
Lees ook: Die greep van groepsdruk
Vrae wat ouers hulself moet vra
- Weet jy wat jou waardes is?
- Is jy konsekwent in wat jy sê en doen? Of sê jy een ding en doen ’n ander?
- Weet jou kinders waarin jy glo, wat jou waardes is? En waarom jy dit glo?
- Bespreek jy jou waardes met jou kinders?
- Weet hulle wat jou waardes oor seks, drank, rook, persoonlike gesondheid, oefening, die omgewing, optrede teenoor ander mense is?
- Gebruik jy geleenthede om met hulle oor waardes te praat? Dinge uit jou lewe waar jy besluite moes neem; dinge wat in die wêreld gebeur; of moraliseer jy hulle net oor wat hulle moet doen?
- Gee jy positiewe terugvoer vir die baie dinge wat hulle doen wat van goeie waardes getuig?
- Versterk jy goeie waardes?
Om in kinders se waardes te belê, met jou liefde, energie en tyd, betaal op die lang duur: Kinders met gesonde, konsekwente waardes is gewoonlik gelukkiger, kan hulself met grasie handhaaf en gesonde morele besluite neem. En hulle presteer gewoonlik goed. Ouers kan nie bepaal wat hul kinders dink of voel nie, maar hulle kan hul dinge gee om oor te dink, ’n rigting en voorbeeld om te volg. Daarom is dit seker een van die wonderlikste gawes wat ouers hul kinders kan gee – deurleefde waardes om hulle te help om in ’n dikwels korrupte wêreld met grasie te leef en aan te pas deur die regte keuses te maak.
Anys Rossouw is ’n sielkundige in Menlopark, Pretoria.
Lees ook: Help jou kind dié oorgange baasraak