Deur Salomé Delport. Foto: Vitolda Klein vir Unsplash
1. Proteïene
Wat doen dit?
Hy bou nuwe breinselle daarmee. Sy brein bou ook self spesifieke proteïene hieruit vir jou kind se langtermyngeheue sodat hy die feite wat hy nou leer oor ’n jaar of tien jaar steeds onthou.
Wat sit jy voor?
Die beste proteïene kom van diere af, soos eiers, vleis, hoender, volstruis en vis. Dit sluit produkte in wat daarvan gemaak is, soos visvingers, wors, biltong, frikkadelle, ham en
die vleisdeel van pastei. Talle plante is ook ryk aan proteïene, soos lensies, bone, sousbone, grondboonbotter, neute, sonneblomsaad, pampoensaad, spinasie en broccoli.
Hoeveel per dag?
Seuns 4 eetlepels; dogters 3 eetlepels.
2. Vette
Wat doen dit?
Meer as die helfte van die brein (60%!) bestaan uit vette. Sy breintjie benodig ook vette om te funksioneer. Maar nie enige vette nie: dit gaan oor gehalte. Die beste vette is die omega-3’s wat veral help dat neuro-oordragstowwe op hul beste werk sodat hy op en wakker is, flink reageer en alles inneem. Vette maak ongelukkig ook vet. Jou kind mag maar min vette eet – nog ’n rede om te sorg vir topgehalte vette.
Wat sit jy voor?
Avokado’s, neute, grondboonbotter en sade soos sonneblom- en pampoensaad en omega-3-verrykte eiers is uitstekend. Alle olies, veral olyf-, kanola-, avokado- en sonneblomolie, en sagte margarien verryk met omega-3’s is goed. Margarien, botter, room en oliegebraaide kosse is minder goed omdat dit baie kilojoules byvoeg en die goeie komponente in die olie vernietig.
Hoeveel per dag?
Almal 2,5 teelepels per dag.
3. Vrugte en groente
Wat doen dit?
Dit is die hoofbron van vitamiene en anti-oksidante. Sy brein het veral B-vitamiene nodig om goed te werk. Vitamien C help yster opneem, wat op sy beurt help om suurstof na die brein te neem. Dit lyk selfs asof sekere vitamiene spesifieke breinvoordele gee: vitamien E en C (albei is anti-oksidante) help veral met verbale vaardighede.
Wat sit jy voor?
Avokado’s, appels, pere, lemoene, waatlemoen, spanspek, mango’s, nektariens, piesangs, droëvrugte, vrugtelekkers, vrugtestafies, kiwi, wortels, beet, spinasie, slaai, kool, komkommer, ertjies, boontjies, pampoen, rissies, skorsies, botterskorsies, murgpampoen, kool, blomkool, Brusselse spruite, broccoli, blaarslaai, uie, kruie.
Hoeveel per dag?
Almal 2,5 koppies.
4. Stysel
Wat doen dit?
Koolhidrate is die energiebrandstof van sy lyfie. Die brein word beskou as die energie-ondoeltreffendste orgaan in die hele liggaam – met ander woorde dit benodig verbasend baie energie. Growwe stysels verskaf ook vesel vir sy daaglikse gereeldheid, wat nodig is om toksiese stowwe wat ook vir die brein skadelik is, uit te werp.
Wat sit jy voor?
Die beste stysels is die growwe “bruin” stysels soos in heelgraanbrood, rogbrood, steenmeelbrood, hawermout, Pro-Vita, springmielies en styselgroentes soos patats, aartappels, mielies, bruinrys en stampmielies. Die minder goeie stysels bevat suiker en/of vet soos pizza, vetkoek, pannekoek, oliegebraaide toebroodjies, aartappelskyfies, beskuit, koek, lekkers, koeldranke, vrugtesappe,
konfyt, stroop, sjokoladesous, sjokolade.
Hoeveel per dag?
Seuns ses snye brood of ses eetlepels van ander stysels. Dogters vyf snye brood of 5 eetlepels van ander stysels.
5. Suiwel
Wat doen dit?
Nuwe navorsing wys al sterker hoe belangrik melk vir die brein is. Melkdrinkers vaar tot vyf keer beter in geheuetoetse as nie-melkdrinkers, en dié wat minstens een glas melk per dag drink, vaar beter met alle breinfunksies as dié wat minder of niks drink nie. Melk sal sy brein in die geheel help.
Wat sit jy voor?
Melk, jogurt, kaas, smeerkaas, kaaswiggies, karringmelk, amaas, maaskaas, vla, roomys, ingedampte melk en selfs kondensmelk.
Hoeveel per dag?
Almal 3 porsies.
Lees ook: Allerlekkerste viskoekies