Kiepersol
Onlangs moes ek en Jos ’n graf gaan koop vir ons oudste kind. Dit was hartverskeurend, maar ook op ’n vreemde manier ’n openbaring van ons eie menswees. Die menslike kondisie het mos die reël om hom aan jou op te dring en jou selfs in só ’n smartlike situasie ’n fyn, humoristiese stekie te gee. Jy kry nogal lag vir jouself. En jy kom tot nuwe insigte. Maar dis nie ’n treurige storie hierdie nie, dis eerder net … wel, menslik.
Sowat ses maande later eet ons saam met familie en Hanna vertel dat grafkopery nie sommer só ’n ou sakie is nie. Toentertyd, na ’n skielike begrafnis in die familie, het haar skoonma haar op ’n dag genader met die versoek dat sy moet saamgaan begraafplaas toe. ’n Belangrike transaksie moes beklink word. Want dié ding dat jou mense moet begin rondval die dag as jy klaar weg is boontoe, deug eenvoudig nie. Die graf moet nóú gekoop word. Jou plek moet jy hê.
Hanna en die skoonfamilie sit toe af begraafplaas toe. Stap op en af in die hete Vrystaatse son. Bekyk eers dié en dan daai stukkie grond so groot soos ’n gewone agterdeur. Aarde nee, sug die ou moeder, ’n mens moet ook maar met min tevrede wees. Net ’n ou lappie is dit. Hanna ag dit nie gerade om te stry nie. Hoe groot wil ’n mens dit ook nou hê? Ewenwel, hulle soek verder. Dié graf is weer te na aan die draad. Beeste kan drade platloop, en wat dan? Dan moet ’n mens nog aan die son ook dink, meen moeder wyslik. Hy kan mens doodbrand. Toe vra Hanna die redelike vraag : Nou wat dan van hierdie stukkie in die koelte? Langs Jááp? snak moeder. Jaap van der Aarde? Langs hóm lê ek nie, al betaal hulle my! Jy het g’n idee wat hy als …
So gaan dit ry op en ry af. By elke oop stukkie word daar gewik en geweeg. Liefs nie so tussen die Hattinghs nie. Hulle was glo bakleierig van aard. Nee, die Jouberts sal ook nie doen nie – te opstêrs. En die Gildenhuyse het nooit kerk toe gegaan nie, selfs die dominee verbied om by hulle te kom al was hy ook ’n Gildenhuys. Die Engelse Browns en die Binchy’s van Onderstraat is vanselfsprekend buite die kwessie. By jou moedertaal se mense moet jy lê. Later bly Hanna in die skadu van ’n sipres staan, hou die ander sugtend dop. Hoe langer sy staan, hoe lekkerder word dit in die koelte. En skuins agter haar, sien sy, bedek die middagskadu vier lappies grond. Hierso, Moeder, roep sy. Kom kyk net hoe lekker is dit hier!
Moeder kom en sy sien. ’n Milde oggendsonnetjie om ’n mens op te warm en ’n sagte middagskadu wat die dag stemmig afsluit. ’n Entjie weg van die gepeupel af ook. Dis net die plek …
Ons lag heerlik oor die storie. Vind dit koddig en eg menslik. ’n Mens het seker maar altyd koelte nodig, meen ons toeskietlik. Terug by die huis loer ons skigtig na mekaar. Onthou jy dan nie? vra Jos en skud weer van die lag. Het ons nie nét so gemaak nie?
Want – ons koop toe wel nie ’n graf nie, maar ’n nis. Om ons kind in ’n graf te bêre, was net eenvoudig te erg. Verassing dan. Dit het ons immers die verskriklike ding van ’n gat in die grond gespaar. Nee, dis nie goedkoper nie, die gedagte is net effens draagliker. Maar o, as ’n graf klein lyk, is ’n nis net ’n gaatjie in ’n muur. Dis byna niks. Dit wat ’n mens daarin bêre, is ook niks. Wat was, is weg. En ’n mens wag op daardie niks. Twee weke ná die troosdiens kom die kind se beurt by die krematorium. Ek staan verwese met die piepklein kissie in my hande. Ek sit dit bewend in die gaatjie in die muur. Kyk hoedat my kind se broer en sy silwerkop-pa die marmer vierkantjie met sy naam daarop, versigtig toeskroef. Toe luister ons na ons predikantkind wat voorlees uit Markus 5:36: “Moenie dat dit jou ontstel nie. Vertrou My net” (Die Boodskap). Net toe ons wil wegloop, steek ek vas. Is dit ooit die regte plek? vra ek skielik onseker.
Ja wat, sê Jos nadenkend, so netjies bo in die hoek van die muur en nogal in die koelte ook. Maar watse boom is dit? vra ek ietwat vitterig. Dis ’n kiepersol, paai hy. ’n Mooi, inheemse boom. Jaco sou daarvan gehou het. Hy was mos lief vir bome en koelte en wolke.En nou laat die herinnering aan dié kiepersoldag ons steeds glimlag. Want in George Eliot se woorde: Ons worstel nie meer so erg met ons smart nie. Dit het ’n blywende metgesel geword … ’n Kiepersol vir die koelte.