Ma het vir lank nie daarvan gehou as ons die storie van Die Jaar van die Begeerte vertel nie. Maar noudat ons grootmense is en die storie by die kleinkinders uitgelek het, is dit ’n Kerstradisie. Elke jaar as Pa die Kerskalkoen sny, jil die kleinkinders soos ’n koor: “Vertel van Die Jaar van die Begeerte!” Dan vertel een van ons Botha-dogters die storie so dramaties as moontlik. Daar is altyd ’n opbou van spanning tot by die laaste deel, ’n kamma geskokte stilte, en dan ’n skaterlag-sessie.
Dan lag Ma maar saam.
Die ding het so gekom. Ma het graag die week voor Kersfees die vername mense van die distrik onthaal. Sy het daarvan gehou om behoorlik uit te hang. Ma was immers een keer die Volksblad se gasvrou van die maand! Die tak van die Vrouelandbou-Unie van die dorp was natuurlik vreeslik gevlei dat ’n vrou uit hulle geledere die eer gekry het. Daarna was daar ’n besliste nuwe dimensie aan die swier van Ma se onthale.
Verjaarsdae, kerkraadsetes … maar Ma se jaarlikse Kersete vir die vernames van die distrik was haar tour de force. Gerookte speenvark met appelmoes, skaapboud met mentjellie, tong met mosterdsous, pampoenpoffers in stroop, geelrys met rosyne, peer-soufflé en room, vye- en perske-konserf in gemmerstroop, doekpoeding, brandewynpoeding en bibberende blancmange in antieke jellievorms.
Ma het haar ouma se silwergerei, gestyfde wit damask tafeldoeke en kristalglase uitgehaal. Die groot silwer kerskandelare is gepoets en servette is soos swane gevou. Weke voor die tyd is die uitnodigings en die spyskaart uitgestuur en dan het die gaste afwagtend begin kwyl.
Ons woelige Bothatjies moes natuurlik ons beste gedrag toon vir Ma se groot dag. Al ses van ons moes opgedos word in ons wit smokrokkies met die gestyfde net onderrokkies wat ons bobene gekrap het en kant Bobby socks wat aan die rowe ons plaas-kniekoppe vasgehaak het. Tjoepstil en gemanierd moes ons langs die tafel sit.
Elke jaar het ons voor Ma se onthaal ons jaarlikse preek gekry oor ordentlikheid en goeie maniere, natuurlik gemeng met ’n goeie skoot afpersing, want Kersvader sou volgens Ma beslis nie daarvan gehou het om te hoor een van ons was ongepoets tydens die groot onthaal nie.
Nie dat ons vreeslike hoop op Kersvader gehad het nie want Ma het ook geglo Kersfees is die Christusfees en dan herdenk ons die Liewe Heer se geboorte. Dis nie ’n tyd vir spandabelrigheid nie (Behalwe nou vir Ma se onthaal).
Vir ons Bothatjies was daar nie duur geskenke in Kersvader se sak nie. Ons hoop was maar altyd op oom Abe, die algemene handelaar op die dorp se oortuigingsvernuf as ons ouers gaan inkopies doen.
Dis juis hy wat die deur oopgemaak het vir die groot begeerte in die Botha-huis. In daardie rampspoedige jaar het hy ’n slinkse bemarkingsplan gehad waarmee die ouers van die dorp nie rekening gehou het nie. Hy het soos gewoonlik pragtige speelgoed in sy venster uitgestal, maar daardie jaar het hy ook ’n groot rooi posbus voor sy winkel uitgestal. “Vir Kervader in die Noordpool,” het op die posbus gestaan. Oom Abe het fluks papier en kryte uitgedeel waarmee ons kinders briewe vir Kervader kon skryf waarin ons ons begeertes bekend kon maak.
Daardie jaar se Kersuitstalling in sy winkelvenster was die mooiste nog. Die kinders het behoorlik voor die venster gebondel. In die middel van die uitstalling het ons Bothatjies se grootste begeerte gesit: ’n Groot slaappop met ’n sagte lap lyf en oë wat kon knip. Sy kon huil soos ’n baba as mens haar oplig. Ons was vasgenael toe die slinkse oom Abe die pop aan die dogtertjies demonstreer. Daarna het ons elke keer sy winkelvenster wit gewasem van begeerte as Ma ons dorp toe neem.
Ons het ons briefies vir Kersvader geskryf en in oom Abe se posbus voor die winkel gegooi en gehoop ons Ma se hart versag teen Kersfees.
Die oggend van Ma se groot onthaal het ons desperaatheid ’n hoogtepunt bereik en ons ses het stil saam vir die Liewe Heer gebid om ons ekstra soet te maak tydens Ma se ete. Ons het Hom gevra om asseblief ’n goeie woordjie by Ma te doen oor die slaappoppe en ook gevra Hy moet ons genadig wees dat die blessidse onderrokke ons nie so veel krap tydens die lang ete nie. Ons het dubbeld seker gemaak Karien maak ook haar oë toe en bid saam want sy was by verre die stoutste van die Botha-orrelpypies. Om haar in ’n gestyfde gesmokte wit Krismisrok langs Ma se jaarlikse spogbanket sit te maak, was ’n stryd.
Na ons gebed het ons vir ’n rukkie stil op die bed sit en staar na die ry wit rokke teen die kas en geweet dit gaan weer ’n moeilike dag wees.
Die vernaamstes van die vernaamstes se blinkgepoetste Mercedesse het daardie middag in rye opgedaag. Die ooms en tannies was uitgevat in hul deftigste pakke en tabberds en het soos gewoonlik byna gewyd by Ma se bankettafel gaan aansit.
Die aromas uit die kombuis het die afwagting in die eetkamer gelaai en die ooms het solank die swaanservette ontplooi en dit by hulle boordjies ingedruk. Die tannies het hulle servette fyntjies op hulle skote ontplooi.
Ma het haar entrance eerste uit die kombuis gemaak met ’n groot silwer skottel, gevolg deur ’n rits kombuishelpers met wit voorskote, belas met swaar silwer skottels wat soos offergawes in die middel van die allemintige tafel gepak is.
Mens kon behoorlik die mae gretig hoor grom in afwagting van die gastronomiese fees.
Ma het soos altyd langs Pa aan die hoof van die tafel gaan staan. Sy het vir oulaas ’n waarskuwende aan ons gegee voor Pa die seën kon vra.
Na sy bede het Pa die skaapboud, speenvark en tonge begin sny, maar die kalkoen is altyd vir heel laaste gelos. Dit was Ma se eer. “Niemand kan ’n kalkoen sny soos my Bertha nie,” het Pa elke jaar gespog voor hy die snymes en vurk aan Ma oorhandig het.
Ma het haar taak ernstig opgeneem en met chirurgiese presisie dun skywe uit die plomp bruin kalkoen begin sny. Die gaste se oë het elke bewegings van die vurk van die kalkoen tot by die opskepbord kwylend gevolg.
Soos te wagte, was dit Karien wat daardie jaar eerste begin kriewel het. Ons het onderlangs vir mekaar gefluister dat die Liewe Heer nie ons gebede gehoor het nie want dit was asof die onderrokke ekstra gekrap het daardie jaar.
Ma se waaksame oog het Karien se gevroetel en ons gefluister raakgesien en tussen die kalkoensnye deur het sy kwaai in ons rigting geloer. Ons het ons bes gedoen om die krappende net te ignoreer, maar ons kon Karien tussen ons voel kriewel.
Karien het gekrap en gekerm en ma het gekerf. Dit het gevoel of dit ’n ewigheid gaan aanhou.
Toe gebeur dit …
Ma het weer ’n kwaai blik in Karien se rigting gegee, maar dit het nie gehelp nie. Toe probeer Ma so diskreet moontlik met die vleisvurk in Karien se rigting beduie …
En dit is waar die noodlot ’n vreeslike wending geneem het tydens Die Jaar van die Groot Begeerte aan tafel van Mevrou Betha Botha.
Ma het nog ’n keer met die vleisvurk dreigend in die koers van haar onrustige telgie beduie toe die vurk uit haar hand gly.
Al die vernames van die vernaamstes van die distrik, ons ses witgestyfde Bothatjies, Pa … en Ma, en die kombuishelpers met hulle wit voorskote … Almal het met verstomming in stadige aksie gekyk hoe die vleisvurk oor die lengte van die tafel deur die lug trek. Hoe dit een keer bons, en weer koers kry en tot almal se ongeloof en verbystering in Karien se wang tot stilstand tril!
Pandemonium het uitgebreek. Ma het flou geword van skok. Karien het vir ’n slag doodstil gesit en die res van ons Bothatjies het soos maer varke begin skreeu toe die bloed op ma se wit tafeldoek begin drup.
Dit was die kortste ete in Ma se onthaalgeskiedenis. Die blink Mercedesse het stil geskok weer vertrek.
Karien was ’n dag vir observasie in die Kameelfontein hospitaal. Twee steke in die wang. Ma het kalmeerpille gekry en die res van ons het geweet dit gaan nie help om verder te bid nie want dit was koebaai Meraai vir die slaappoppe. Ons het geweet dat ons na Karien se episode dankbaar sou moes wees as ons darem Kewpie-poppe kry.
Pa en Ma is die oggend vroeg dorp toe om Karien by die hospitaal te gaan haal. Ons ander Bothatjies het eenparig besluit dat as ons Ma se smart wil verlig, moet ons ons gesigte was en hare kam en die wit rokkies aantrek en hulle op die stoep inwag as hulle terugkom.
Die onderrokke het ons vir ’n uur ongenadig gekrap voor ons Pa se Mercedes met die plaaspad sien aankom het.
Pa het voor die stoep gestop. In stadige aksie het ons gesien hoe Pa omstap en die kar se agterste deur oopmaak sodat Karien kan uitklim.
Karien het, soos dit ’n gekweste betaam, stadig uitgeklim. Sy was nie bleek en uitgeteer van die pyn soos ons gevrees het nie. Haar glimlag was so breed dat ons skaars die wit pleister op haar wang kon sien.
Toe sien ons dit. In haar se arms was die groot, mooi slaappop van oom Abe se winkel!
Ons was so bly om ons sussie en die begeerlike pop te sien, dat ons nie eens gesien het hoe Pa die vyf bokse uit die kattebak laai nie.
Dit was toe die lekkerste Kersfees ooit tydens daardie Jaar van die Begeerte. Ons het die soel Vrystaatse dae omgespeel met ons slaappoppe.
Daarna het Pa elke jaar die Kerskalkoen gesny …